Ek bevind my weer terug in ’n groot lokaal. Een wat baie lyk soos die hooflokaal in die destydse “Beejay” van Lettere en Wysbegeerte op Stellenbosch.
Daar is hordes studente rondom my. Almal se oë is gerig op die eksaminator wat die laaste instruksies gee.
Dan kom die opdrag om die vraestel om te draai en te begin.
Ek voel die ou fladdering op die krop van my maag. Mens is nooit seker watter langvrae die dosent uitdink vir Frans Literatuur 3 nie.
My oog vang die opskrif bo-aan die vraestel: “Natuur- en Skeikunde Hoër Graad, st. 10”.
My kop ruk op en ek tref die bedkassie met ’n harde slag. Ek is papnat gesweet en meteens wawyd wakker geskrik.
Vir die derde nag in ’n ry is ek skoon bewerig verlig dat dit net ’n droom was.
Ek het op universiteit, ’n goeie 18, 20 jaar gelede, laas hierdie nagmerries gehad oor vakke wat ek teen my sin op skool gehad – en gehaat – het.
Maar, deesdae word my drome oor oorsese reise snags pal deur eksamenmerries bloots gery.
Ek vermoed ek weet waarom. Die vermoede stem my effe moedeloos. Want, sien, ek staan mos weer aan die begin van een van twee lang eksamenskryf-skoolloopbane. My oudste is vanjaar graad 4 en aangesien die skoolwoordeskat sedert die somervakansie uitgebrei het met woorde soos “eksamen”, “hersiening”, “opsommings”, “wat om te leer-raamwerk” en “vraestelle”, moes ek myself baie vinnig programmeer om nie meer van “standerd 2” te praat nie.
Want, eintlik is standerd 2 nog baie vars in my geheue. Ek onthou hoe bang ons gepraat is oor “eksamen” en hoe my ma my geleer opsommings maak het. En, ek onthou maar te goed hoe keelvol mens kan raak van dieselfde ou opsommings memoriseer.
Ek voel my egter geensins opgewasse vir hierdie nuwe uitdaging nie. Dit is goed en wel as mens self elke dag in die klas sit en die werk onder die knie kry en self opsommings maak en self die werk in jou kop probeer kry.
Maar, dis heeltemal ’n perd – (nag-)merrie? – van ’n ander kleur as mens maar bloot kan leiding gee met opsommings en hoop mens doen dit reg sodat jy jou graad 4-kind darem nie van die wal af in die sloot in help nie.
Dit is belangrik om hom te help om ’n vaardigheid aan te leer wat hy vir die res van sy eksamenloopbaan sal kan benut – maar, 29 jaar na my eie eerste skooleksamen, het ek effens vertroue in my eie vermoëns verloor.
My oudste is geseën met ’n pligsbesef en ’n skerp verstand en my wens is dat leer en toetse en eksamens vir hom ’n positiewe ervaring sal wees. Oftewel, so positief as wat daardie drie taboewoorde nou dan ook vir ’n energieke negejarige kan wees.
Maar, dit pootjie hierdie ma behoorlik as boeke waaruit opgesom of geleer moet word, nie huis toe kom nie – om welke rede ookal. Of, as daar net vae raamwerke geprewel word van wat wanneer en hóé geleer of voltooi moet word en die inskrywing in die huiswerkboek lyk meer na hiërogliewe as Afrikaans.
Vir ’n beheervraat is hierdie dinge senutergend. Amper so senutergend soos ’n teksboodskap vroegaand van jou kind se klasmaat se ma wat skielik wonder oor die Geskiedenistaak wat glo oormôre moet in wees of die Aardrykskunde-toets waarvan jy geen sout of water weet nie…
Al wat ’n ma seker maar kan doen is aanhou preek dat die juffrou se volle opdragte – die waarheid, die volle waarheid en niks minder as die waarheid nie – elke middag woordeliks herhaal moet word sodat daar nie belangrike leerwerk of ander voorbereidings deur die krake val nie.
Maar, die belangrikste is seker maar om ’n sin vir humor te behou. En, heimlik te hoop dat daar nie vraestelle terugkom wat só kreatief is soos hierdie nie:
Eksamenvraag: Noem vyf dinge wat melk bevat.
Antwoord: kaas, botter en drie koeie
Eksamenvraag: Wat is die verlede tyd van eet?
Antwoord: honger
Eksamenvraag: Wat is die meervoud van kabeljou?
Antwoord: kabbeljulle
Of, soos ’n vriendin se seuntjie onlangs op ’n vraag in ’n Lewensvaardigheid-taak geantwoord het:
Vraag: Wat moet jy doen as ’n vreemdeling vir jou ’n lekkertjie aanbied?
Antwoord: Dankie sê.
Hoekom? Want hy gee my ’n lekkertjie.
Al skort kennis en handboeke en ’n humorsin by tye, moet mens darem jou maniere onthou.