Jul huwelik is nie sleg genoeg om te skei nie, maar jy wonder tog die hele tyd of jy jou nie meer geluk moet gun nie. “In baie gevalle is die verbrokkeling van die huwelik ’n simptoom van ons gejaagde moderne lewenstyl: mense werk te hard, is te veel weg van die huis en deel te min dinge,” sê prof. Elna Mcintosh, ’n seksuoloog en berader van Johannesburg. “Skei is nie altyd die oplossing nie en dis veel makliker om iets te probeer red as om van vooraf te begin.”
Sy glo berading help paartjies om meer oor hulself te leer en dit kan die verhouding red. “Maar dit help nie as net een van die twee by my om hulp aanklop nie. Ek glo mense het meer lewensafrigting as net blote sielkundige hulp nodig. Hulle soek leiding.”
Prof. Mcintosh, sy is ook hoof van die Disa Sexual and Reproductive Health-kliniek in Hurlingham, sê dis die moeite werd om vir ’n huwelik te baklei. Sy glo ook dat jy nie seks as iets afsonderliks van ’n verhouding kan beskou nie.
“Verhoudings berus op kommunikasie en seks is nie-verbale kommunikasie. Ek glo ’n mens kan nie aan die een aandag gee sonder om die ander in ag te neem nie. Ek dink nie dit gaan help om die dominee oor jou huwelik te spreek as jy nie bereid is om ook die seksuele aan te raak nie.
“Mense sukkel nie om al hul ander behoeftes spesifiek uit te druk nie. In ’n restaurant bestel hulle ’n biefstuk halfgaar met ’n bepaalde sous en kies die bykosse met sorg. Maar hulle praat nooit met mekaar oor hul gevoelens, of wat hulle van seks verwag nie.”
Sy glo dus dat mense nie werklik seksprobleme het nie maar eerder kommunikasieprobleme. Sy haal ’n kenner aan wat sê dat wanneer dinge in die huwelik goed gaan, is seks tien persent belangrik, maar wanneer dinge sleg gaan, word seks as negentig persent van die probleem gesien en die sondebok vir alles in die verhouding wat skeef en krom is.
Sy sê paartjies leef jare lank saam met irritasies en frustrasies sonder om iets daaraan te doen. “Mense praat nie met mekaar nie maar vee eerder die klein probleempies onder die mat in tot dit op ’n dag so groot soos die Andes-gebergte troon en dan is hulle verbaas as die verhouding nie bevredigend is nie. Vroue praat met vriendinne oor hul probleme, maar dóén nooit iets daaraan nie. Pleks dat sy ’n seksuoloog gaan spreek, praat sy met haar haarkapper oor haar huweliksprobleme. Sy gaan nie haar haarstyl met ’n seksuoloog bespreek nie, maar tog voel sy die haarkapper is bevoeg om haar raad oor haar huwelik te gee.
“Ek spreek ook baie vroue in hul vyftigerjare wat nog altyd die vloermatjie in die verhouding was; wat alles vir die kinders gegee het en ontredderd is as die kinders die huis verlaat en dit net sy en haar man is.”
Sy maan dat mense nie moet hoop dat dinge sommer vanself gaan uitwerk nie. “Praat met mekaar en maak saam planne vir die ekstra verhoudingstyd noudat die kinders uit die huis is. Beplan om een aand per week net op mekaar te fokus. Maak lekker kos, luister musiek en gesels, maak ’n afspraak om uit te gaan. Hierdie dinge gebeur nie spontaan nie, jy moet dit beplan. Tyd, vertroue, praat en aanraking is die vier geheime wapens in enige verhouding,” sê Elna.
As jy jou tyd verdeel tussen ’n veeleisende beroep en kinders grootmaak, bly daar soms bitter min vir jou geliefde oor. Maar om alles te deel is nie ’n voorvereiste vir suksesvolle verhoudings nie. Britse studiebevindings onder mense wat dertig jaar getroud was, toon dat diegene wat die langste getroud bly, mense is wat onafhanklik van mekaar stokperdjies beoefen en dit gebruik om die verhouding vars en interessant te hou. Jou belangstellings buite die huwelik hoef nie ’n wig in die verhouding te dryf nie – as julle mekaar ondersteun, kan dit eerder die verhouding verstewig. Dit laat mense ook vervuld voel en sorg dat paartjies vir mekaar interessant bly.
“Ek het een keer die New York-marathon gehardloop (Elna was voorheen ’n Ysterman-kampioen) en toe ek klaarmaak, sien ek ’n netjies geklede gryskopman met ’n strikdas tussen die horde toeskouers. Ek het my half voorgestel hoe hy en sy vrou agterna by die huis haar marathon in detail gaan bespreek en hoe spesiaal dit is wanneer mense mekaar ondersteun.”
Maar sy waarsku teen belangstellings wat jou lewe oorneem. As jy baie sport beoefen, hoef jy nie altyd ná die lang fietsrit saam met die mederyers ontbyt te eet nie. Kies ’n middeweg en nooi jou eggenoot om jou daar te ontmoet en saam te eet, of gaan huis toe en maak saam ontbyt. Behou die balans.
”Doen dinge saam en probeer nuwe dinge, maar respekteer mekaar.” Dis belangrik dat albei gemaklik voel in die verhouding en dat een nie byvoorbeeld nuwe seksuele avonture aan ’n onwillige metgesel wil opdwing nie.
‘Ons red die huwelik’
“Ek kry hoendervleis as ek vandag dink hoe ampertjies ek my huwelik beëindig het,” vertel Louise* (46), eienaar en bestuurder van ’n koffiewinkel. “Soos maar altyd die geval is, het elke saak twee kante, maar ek weet dat ek ook ’n groot aandeel in die vervreemding binne ons huwelik gehad het.
Ek het die verwydering veroorsaak
“My man, Richard (52), ’n ingenieur, is ’n introvert. Die klassieke stil, sterk tipe. Ek is jonk (22) getroud en ná vyf jaar se getroude lewe en die tweede baba, het ek besluit dat ek dringend iets moet begin doen en ook weer fiks wil raak.
“Ek koop toe ’n Run/Walk for Life-agentskap. Ná ’n jaar sê een van die lede sy wil graag die Two Oceans-ultramarathon (56 km) hardloop. Ons het saam begin oefen en nie lank daarna nie was ons ’n hele groepie. Ek was verras toe ek agterkom dat ek besonder goed met lang afstande is en dit het my aangespoor om vir elke wedloop in die omgewing (en verder) in te skryf.
“Die volgende drie, vier jaar het die hardlopery my lewe stadig maar seker oorgeneem. Ek het gedy onder die komplimente van die mans in die oefengroep en gewonder hoekom my man nooit sê ek lyk mooi of het ’n goeie figuur nie. Was ek nie vir hom aantreklik nie?
Hy wou niks saam doen nie
“Richard was glad nie betrokke by my hardlopery nie en het nooit eens wedlope bygewoon nie. Hoe slegter dinge by die huis gegaan het, hoe toegewyder het ek geoefen en hoe minder was ek tuis. Dit was ’n bose kringloop en het tot wrywing en ’n oor en weer gehappery gelei.
“Nie net het die oefengroep al my tyd opgeslurp nie, as ek by die huis was, was ek te moeg om pret saam met my man te hê. Ons kon nooit Vrydagaande uitgaan nie, want ek moes nege-uur in die bed wees vir die Saterdagoggend se vroeg opstaan. Wanneer ek terugkom, was ek pootuit en het ’n paar uur geslaap. Dan was die Saterdag ook omtrent daarmee heen.
“Dit het nie veel vir ons sekslewe gedoen nie en kort voor lank was daar nie juis iets om van te praat nie. Richard is ’n man van min woorde en het nooit sy gevoelens verwoord of iets aan die saak gedoen nie.
“Ons het later bitter min gemeen gehad. Ek het begin voel dat hy my terughou en dat my lewe méér kan wees as wat die huwelik my gebied het. Die keerpunt het gekom toe ek nie ’n geselligheid van hom op ’n Vrydagaand wou bywoon nie omdat ek die volgende dag aan ’n wedren moes deelneem. Ons het ’n groot uitval gehad, maar ek het steeds gaan hardloop. Toe ek terugkom, was hy afsydig. ‘Ek het niks om vir jou te sê nie,’ was sy kommentaar toe ek wou weet of hy nie eens gaan vra hoe ek gevaar het nie.
Ons moes altwee verander
“Die res van die naweek was daar ’n kil stilte tussen ons, maar toe ek daardie Maandag-oggend opstaan, het ek geweet ons huwelik het ’n keerpunt bereik. Ek het met Richard gepraat, gesê dat ek bereid was om my sport af te skaal, maar nie om dit heeltemal te laat vaar nie.
“Van sy kant af het hy onderneem om meer by my lewe betrokke te wees en het by my Run/ Walk for Life-groep aangesluit en ’n paar keer per week saam geoefen om fikser te word.
Stadig maar seker het dit weer die balans in ons verhouding herstel omdat ons nou weer deel van mekaar se lewe was. Ek het ook besef dat ek moet grootword. Dis nie in my man se geaardheid om daagliks vir my te vertel hoe wonderlik ek lyk nie maar dit beteken nie dat ek nie vir hom aantreklik is nie. Ons was ook vir die eerste keer gedwing om te sê hoe ons voel eerder as om die probleme te ignoreer.
“Ek wonder soms wat sou gebeur het as ek in daardie tyd toevallig iemand anders ontmoet het wat in my belang gestel het. Ek kon dalk my huwelik in ’n oomblik van waansin beëindig het. Ek is geweldig dankbaar dat ek nie tou opgegooi het nie en liewer besluit het om my huwelik te red.
“Moenie verwag alles gaan eensklaps maanskyn en rosegeur wees nie. Die vervreemding was ’n stadige proses en net so gaan die herstel ook ’n tydjie duur. Maar 24 jaar later is ons steeds gelukkig getroud.”
‘Ek sal nooit skei nie’
Kobus* (60, sy vrou is 57) sê dat die vonk vroeg uit sy huwelik is. “Ek sal nooit skei nie; daarvoor is my gesin vir my te belangrik, maar ek wens so my vrou kon meer dinge met my deel. Dalk is ons belangstellings te uiteenlopend. Ek is ’n buitelugmens wat hou van kampeer, visvang en rugby en sy is meer ’n huishoender wat in die kamer lê en lees. Daar is seker maniere om die verskille te versoen, maar ons het nie daardie goue balans gekry nie. Dalk het ons die probleme te lank geïgnoreer en is dit nou te laat om die reëls te verander.
“My vrou lyk gelukkig – sy het ’n groep vriendinne en hulle doen saam inkopies, drink koffie en gaan fliek. Tog kyk ek afgunstig na ander gelukkige paartjies waar die man en vrou opvallend baie pret het en dinge deel.
“Ek het hard gewerk en is finansieel suksesvol, maar ek mis die kameraadskap en samesyn van ’n hegte verhouding. Ons gaan nooit alleen uit nie; ons nooi altyd ander vriende of ons volwasse kinders saam, want ons het nie veel om vir mekaar te sê nie. Ons jongste trou vanjaar en ek ys vir die stiltes wat dan in die huis gaan hang. Ek wens dit kon anders wees, maar ek weet nie hoe ons dit ná al die jare kan oplos nie.”
‘Ek’s geregtig op geluk’
Amanda* (44) het haar saai huwelik ná 22 jaar tot siens gewuif. “Dit was baie moeilik en ek is baie emosioneel daaroor, maar selfs ná ’n oefenlopie verlede jaar toe ek vir vier maande alleen gaan bly het, sien ek nie meer kans nie.
“Ons is steeds baie goeie vriende en het die hoogste agting vir mekaar. Ek is hom ook ewig dankbaar dat hy nie die kinders teen my opgemaak het nie, maar hulle verseker het van my goeie hoedanighede en liefde vir hulle.
“Ek het ons probleme verskeie kere probeer oplos maar hy is nie een vir konfrontasie nie. Ek het ook vir berading gegaan, maar hy het geweier. Ons huwelik was nie altyd saai nie. Ons was aanvanklik gelukkig, maar dit voel of ek gegroei het en my man het agtergebly. Ek is baie ambisieus en toe ek vier jaar gelede onvergenoegd by die huis gevoel het, het ek al my energie op my onderneming gefokus en baie goed gedoen. My man bly in ’n werk wat hom frustreer maar het geen ambisie nie en doen niks om sy situasie te verbeter nie.
“Die waarskuwingsligte het geflikker toe ons jongste drie jaar gelede besluit het hy wil hoërskoolkoshuis toe gaan. Toe ons dogter twee jaar later uit die skool is en in die Kaap gaan studeer het, was daar niks wat ons meer gebind het nie. Ek het al meer sakereise onderneem net om nie by die huis te wees nie, of dit vir ’n Vrydag gereël sodat ek die naweek by my dogter in die Kaap kon wees.
“Ek is baie hartseer oor die mislukking – veral oor die ontwrigting vir die kinders, maar ek wil meer uit die lewe hê.” *Skuilname