Die spirituele lewensafrigter en motiveringspreker Cat Glennie, of Catherine soos sy vroeëer bekend gestaan het, het haar loopbaan as ’n bankklerk begin. Op 25 is sy geskei, sonder enige kwalifikasies en met twee dogtertjies om te onderhou. “Ek het talle selfhelpboeke gelees en toegewyd die korporatiewe suksesleer begin klim. In 1993 het ek ’n lankgekoesterde ideaal bereik toe ek die ‘baas’ geword het van ’n multimiljoen rand-onderneming in die IT-bedryf. Vier jaar later is ek daar weg om ’n boek te skryf en my eie besigheid as motiveringspreker te begin. Die dramatiese sosio-ekonomiese veranderinge in Suid-Afrika het ’n groot behoefte aan persoonlike hanteringsvaardighede geskep en ek wou mense oplei om verandering nie net te hanteer nie, maar daarop te kapitaliseer.”
Die energieke Cat het talle afgevaardigdes uit die sakewêreld en openbare sektor opgelei, maar haar vlammetjie het mettertyd laer begin brand. “Vandag weet ek hoekom ek my fut verloor het. Ek was veels te gedrewe – wat ek nou sou beskryf as pushing the river pleks van saam met die stroom te vloei. Ek het wel besef ek moes ’n ingrypende verandering maak. My dogters was uit die skool en dit het my meer vryheid gegee. Die Findhorn-stigting, ’n holistiese opvoedingsentrum in Skotland, het my getrek. Ek het my woonstel verkoop sodat ek geld sou hê vir wat ek spottenderwys my rugsakjaar genoem het, en gereël om ’n week lange inleiding tot die Findhorn-gemeenskap se leefwyse te gaan bywoon. In Augustus 2004 is ek vort. Ek het gewonder wat op my wag!”
Cat het die avontuur met een gulde reël benader: “Om alles te vergeet wat ek weet. Ek wou leer om ágter die sluier, verder as my beperkte lewensuitkyk, te sien.”
Findhorn is ’n mikrokosmos, ’n weerspieëling van die breër gemeenskap met al die veelkantige fasette van menswees, maar die klem val sterk op spirituele bewustheid en volgens Cat is jou ervaring in alle opsigte meer intens. “Dis ’n ruimte vir selfontdekking en verkenning. Dit wat ons normaalweg maklik miskyk, skuif onder die vergrootglas in: jou verhouding met jouself, met ander, met die Godheid, met jou omgewing, en met die natuur. Omdat almal daar – of hulle nou permanente inwoners of besoekers is – nóú saam werk en leef, kom onopgeloste kwessies vinnig na vore. Jy kan nie vir jou issues wegkruip nie. Gelukkig is daar baie ondersteuning en word die personeel deeglik en oor ’n lang tydperk opgelei.”
Die feit dat mense uit soveel lande saamgegooi word, is ’n leerskool op sigself. “Ek het agtergekom hoeveel vooroordele teenoor ander kulture ek onbewustelik in my dra. In ’n stadium het ek ’n slaapkamer met ’n welbedeelde Duitse vrou gedeel. Die plekkie was piepklein. Soggens het sy haar klere uitgetrek en haar tussen die twee beddens van kop tot tone met ’n luffaspons geskrop. Ek het niks gesê nie, maar ek het swaar daaraan gesluk. En soos dit nou maar gaan wanneer jy jou vooroordele nie in die oog kyk nie, het ons mekaar met verligting vaarwel gesê – om mekaar maande later maar net weer by Findhorn raak te loop. Gelukkig het ek die tweede keer geleer om vrede met haar te maak, of eintlik met dié deel van myself waaraan sy my herinner het.”
Die aanvanklike Experience Week het Cat so geïnspireer dat sy ’n verder twee maande daar gebly en verskeie kursusse gedoen het. “Daarna is ek terug na Suid-Afrika om my besigheid te sluit en my meubels te berg. Ná ’n laaste gesinsvakansie is ek in Desember 2004 terug Findhorn toe om as personeellid opgelei te word. My plan was om my permanent daar te vestig.”
’n Nuwe aanslag
Woon jy een van Cat se werkswinkels by of kry jy ’n spirituele lewensafrigtingsessie by haar, merk jy dadelik dat haar benadering anders is. Dis moeilik is om jou vinger daarop te lê. Dalk het dit te doen met haar vermoë om ten volle in die oomblik te fokus. Dit voel ook of sy moeiteloos met die kwessies en die mens of mense by haar saamvloei, sonder om die aanvanklike fokus van die werkswinkel of afrigtingsessie te verloor. Ek was verbaas om te sien hoe sy in ’n werkswinkel ’n deelnemer wat pas ’n intense emosionele verwerkingsproses voltooi het, tuin toe stuur om daar te gaan rus. Normaalweg word die inhoud wat by so ’n dag oorgedra word, as die alfa en die omega beskou.
“Findhorn het my hele opleidingsaanslag verander. Vroeër was ’n werkswinkel vir my ’n lineêre proses en ek het dit met my verstand beplan en bestuur. Ek moes ten alle koste vir die deelnemers iets leer en was slegs suksesvol indien ek hul gedrag kon verander. Nou laat ek hulle bloot toe om die kwessies waarom dit gaan, met bewustheid in hulself te ontmoet. Dis ’n organiese proses wat wonderbaarlik vloei as jy weet hoe om dit te volg en te vertrou. I simply hold the space. Die groep bepaal die vorm van die proses, en selfgenesing vind in hierdie ruimte plaas.”
Cat werk met liggaam, siel én gees. Die feit dat sy ’n empath is wat ander se fisieke gewaarwordinge soos maagpyn en emosies letterlik ook kan voel, speel ’n deurslaggewende rol in die gemak waarmee sy mense deur knelpunte lei. Die veilige ruimte wat sy skep, is opmerklik. “Mense kan maar wees wie en wat hulle nodig het om te wees.”
Cat se besondere hantering van aspekte van die werklikheid wat dikwels deur ons samelewing geproblematiseer word, soos kos en geld, het my opgeval. By een van haar werkswinkels het die tafelgebedgebruik vir my nuwe betekenis gekry. Dis nie net ’n dankgebed nie, maar gaan ook oor jou bewuste omgang met dit wat voor jou op jou bord is. Selfs die eenvoudigste kos smaak anders as jy ten volle daarop fokus en dink aan die pad wat dit gevolg het om op jou tafel te kom.
“Geld is maar net nóg ’n vorm van energie. Ons het ’n onnodig komplekse verhouding daarmee.” Die antwoord lê nie daarin om dit af te maak as die wortel van alle kwaad nie, maar juis om jou vooroordele te ondersoek en op ’n plek te kom waar jy geld, soos kos, rustig na waarde kan skat.
Verhoudings
Wat was Cat se ervaring van romantiese verhoudings by Findhorn? Sy glimlag. “Omdat mense daar so bewus is van interpersoonlike dinamiek, en omdat Findhorn-gangers sterk ingestel is op groei, was dit asof verhoudings vinniger vlam gevat het en intenser was. Ek het ’n interessante ervaring gehad. Op ’n stadium was ek in ’n groep saam met ’n Yorkshire boy in wie ek onmiddellik ’n renons ontwikkel het. Paul was ’n introvert – heeltemal anders as ek. Boonop het hy my heimlik veroordeel omdat ek uit die land van apartheid kom.
“Aan die einde van die kursus het almal in die groep mekaar gegroet. Ek was ek op pad terug na Suid-Afrika vir ’n ruskans. In daardie oomblik het ek besef ek het nooit enige konneksie met hom gemaak nie, en spontaan gebid dat God sy siel vir my wys. Terwyl hy my die gebruiklike bear hug gegee het, is die wysheid en skoonheid van sy siel aan my geopenbaar. Dit was ’n onbeskryflik kragtige oomblik en het my totaal onkant gevang.
“Terug in Suid-Afrika het ek – gebore onderwyser wat ek is – hierdie ervaring in ’n tegniek probeer omskep: as jy nie van iemand hou nie, bid net om sy siel te sien. Dit het nie gewerk nie. Ek was teleurgesteld, maar het my skouers opgetrek en van die voorval vergeet.
“Voor my terugkeer na Findhorn het ek ’n e-pos van Paul gekry. Hy wou weet of ek na dieselfde kursus as hy gaan. Ek het hom steeds afstootlik gevind, maar weens daardie onbeskryflike oomblik het ek bevestig dat dit my plan was.
“Op die kursus het ons min kontak gehad. Halfpad deur die kursus het die groep een aand na ’n DVD gekyk en ek het op sy skoot gesit. In Findhorn is sulke toegeneentheid heel normaal. Hy het my ’n soentjie in my nek gegee en daar was soveel seksuele energie tussen ons dat ek nie kon praat nie. Die volgende dag het ons saam tee gedrink, maar ons kon nie ’n gesprek voer nie. Ek het steeds gedink sy energie oortref verreweg sy voorkoms!
“Teen die einde van die drie maande was ons vir ’n retreat op die eiland Erraid. Een aand tienuur het ek in my slaapklere en my jas buite na die sonsondergang staan en kyk. Van die mense wou partytjie hou en het my saamgesleep. Paul was ook daar. Laatnag het ek gesê ek gaan in die stil vertrek mediteer voor ek gaan slaap. Paul is saam, en daar het een ding tot ’n ander gelei. Die uiteinde was ’n lang, sensuele verhouding waartydens ons albei baie geleer en talle van ons kwessies uitgepluis het. Die band tussen ons was baie diep.”
Ná ses maande se voltydse kombuisdiens, het Cat twee jaar lank as skakelbeampte by Findhorn se bemarkingsafdeling gewerk. “Ondanks die voortgesette sielswerk, het ek by tye teruggeval in die patroon van die gedrewe sakevrou wat altyd in beheer wou wees. Dan was ek stroomop. Dit het my drie jaar geneem om die beginsels eie aan Findhorn behoorlik in my bloedstroom te kry.”
Toe Cat herhaaldelik begin droom dat sy ’n praatjie moet gee en dat mense op haar wag, het Paul haar help insien dat sy moes terugkom Suid-Afrika toe om haar opleidingswerk hier voort te sit, dié keer op ’n ander manier. “Die afskeid van Findhorn en my goeie vriende was ontsaglik swaar. Ek het eers ’n ruk lank in Engeland gaan werk voor ek teruggekeer het na Suid-Afrika. Dit het my ’n volle twee jaar geneem om weer in ’n ‘gewone’ gemeenskap aan te pas.”
Vandag is Cat sielsgelukkig in haar werk met individue, maatskappye en groepe. Sy woon in Johannesburg maar werk ook gereeld in Kaapstad. “Om jou eie krag te leer ken, moet jy die ‘manlike’ en ‘vroulike’ energieë in jou kan eer en balanseer. Ons leef in ’n patriargale samelewing waar beide manlike en vroulike energie gekorrumpeer is. Manlike energie storm voort sonder dat enigiets of -iemand dit in toom hou. Dit verkrag die aarde en maak oorlog ter wille van mag en geld. Vroulike energie word onderdruk, en manipuleer ander deur te huil en histeries te raak. Deur bewustelik met elkeen van dié energieë te werk, kan ons die balans herstel.
“In maatskappye sowel as in jou persoonlike lewe moet jy weet wanneer om watter energie in te span. Soms moet jy proaktief optree, soos wanneer ’n branderplankryer na agter die branders roei. Dan moet jy weer die passiewer, ontvanklike aspek van vroulike energie gebruik: die golfryer moet vir die regte golf wag. Om strategies te werk te gaan is ’n fyn kuns, en dit kan aangeleer word. Daar is talle hulpmiddels beskikbaar. Ek glo ons is geskape om met minder inspanning en worsteling te leef. Ons hoef nie alles te ‘maak’ gebeur nie; ons moet bloot ons eie rivier vind en in die regte rigting daarop vaar. Dis die boodskap van my boek Ride the River. Die praktiese toepassing van sekere beginsels help ons om ons talente op die hoogste moontlike vlak uit te druk, terwyl die lewe ons al meer geleenthede gee om dit te doen.”
In ’n neutedop het Cat se Findhorn-verblyf haar gehelp om met haar lig- én skadukant – dié dele wat ons graag eien, asook dié wat ons eerder ontken – in kontak te kom. “Jy leer om dit nie te veroordeel nie, maar te aanvaar. Dis alles deel van jou. Soms is ons vrolik; soms voel ons blou. Ons het nie al die antwoorde nie. Ons is méns, in die volste sin van die woord.”
’n Ongewone gemeenskap
Om en by 3 000 mense van meer as 40 lande neem jaarliks aan die Findhorn Stigting se kursusse en aktiwiteite deel. Die Stigting, ’n opvoedingsentrum aan die noordoostelike kus van Skotland, se visie is “om die transformasie van menslike bewustheid te stimuleer en ’n positiewe toekoms vir die mensdom en ons planeet te help skep. Ons is ’n holistiese opvoedingsentrum, gemeenskap en ekodorpie wat die spirituele, kulturele, ekonomiese en omgewingsaspekte van die lewe verbind.”
Die mense wat hier woon, verbou en berei hul kos saam voor, bou saam huise, mediteer saam, verwelkom gaste saam, en sing, dans en vier saam fees. Gemeenskapsbouvaardighede soos besluitneming en konflikhantering staan voorop. Inwoners moet hulle tot waardes soos diens, persoonlike groei, respek, direkte kommunikasie, verantwoordelikheid, niegeweld en samewerking verbind.
Een van die stigterslede, Eileen Caddy, het in 2004 ’n Member of the Order of the British Empire geword op grond van “service to spiritual enquiry”. Die Findhorn-stigting is ’n nieregeringsorganisasie en word met die Verenigde Nasies se departement van Openbare Inligting verbind.
Meer inligting by 071 487 3313.