Hier word feesgevier, al is dit nog nie heeltemal Kersfees nie. Die tafel staan getooi in silwer en die wildsboud, toegedraai in spek, is reeds in die oond en mondwatergeure trek deur die hele huis.
Ons kuier by Suzette se sussie, Tania Roux, in Nelspruit. In die voorportaal en gang hang familiefoto’s van toeka tot nou. Skoonheid is in die gene, sien ek. My oë soek na “daardie” foto. Baie van ons onthou nog die dag in 1990 toe Suzette die Mej. Suid-Afrika-kroon gekry het, stralend in ’n bottergeel rok met haar bruin oë en wye mond wat saamlag.
’n Donkerkop-meisiekind kom singend by die sitkamer ingewals. Laggende bruin oë, lang donker hare. “Dis my dogter, Skye,” stel Suzette haar voor. “Altyd aan die sing en dans!” Sy buig en dans weer die vertrek uit.
Ek wonder of hulle altyd soveel moeite met Kerstyd doen. Dit lyk darem net te veel na ’n sprokie. Maar Suzette verseker my dat Kersfees regtig vir hulle “familiefees” beteken. “Dis ’n spesiale geleentheid. Ons maak minstens vier keer per jaar tyd om as familie saam te kuier. Kersfees is een daarvan. En dan doen ons dit behoorlik!” sê sy.
Soms is daar soveel mense dat hulle sommer twee tafels dek. Selfs al vier hulle Kersfees iewers in die woestyn, of op ’n Mosambiekse strand, sal hulle moeite doen om dit so feestelik moontlik te maak.
“Twee jaar terug was ons almal op Swakopmund vir Kersfees. Daar is dit tradisie dat almal op Kersdag Langstrand toe gaan. Jy kuier saam met honderde mense op die strand, en almal deel hul lekkernye. Die lekkerste was al die geskenke! Daar was swartsakke vol geskenke in die motors. Ons het seker vir die mense soos maplotters gelyk!” sê Tania.
Vanjaar beplan die hele familie om Mosambiek toe te gaan vir die feestyd. Hoewel hulle dalk nie ’n wildsboud in die oond gaan maak nie, sal ’n feesmaal voorgesit word en tot laat om die vure gekuier word.
Dié familie hou daarvan om mekaar te bederf, en geskenke is vir hulle ’n teken van hul liefde, omgee en waardering vir mekaar. Die sussies neem hulle altyd voor om vir almal net een geskenk te gee, maar dit vermenigvuldig. “Teen die tyd dat ons geskenke uitdeel, lê dit in hope onder die boom!” sê Tania. “Dit het by ons ma Jeanne begin. Sy is mal daaroor om geskenke te koop!”
Die twee susters, bruingebrand en vol lewenslus, het pas teruggekom van ’n vakansie op die wit strande van die Seychelle waar Tania haar veertigste verjaardag gevier het.
“Toe Tania op ’n dag bel en sê sy en haar man, Vianne, gaan Seychelle toe, het ek myself dadelik saamgenooi,” sê Suzette (42). “Ons spot al met Vianne, want oral waar ons kom, dink die mense hy het twee vroue!” Tania gaan haal die brosjure om te wys waar hulle gebly het. “Dit was hemels!” sê Suzette, wat oor haar skouer kom loer.
Suzette is deesdae uitvoerende hoof: korporatiewe sosiale investeringsprogramme en -veldtogte by die Vodacom-stigting, ’n werk wat haar soms meer as agt uur per dag besig hou. En sy is ook ambassadeur van die Franse skoonheidsreeks Filorga. Dit beteken dat sy altyd deur ’n ring getrek kan word in haar hoë hakke en snyerspakkies. Dié dat Skye, haar negejarige dogter, een middag vir haar gevra het of sy haar nie maar net een keer soos ander ma’s in ’n sweetpak en tekkies by die skool wil kom haal nie!
“Ek kon maar net lag,” sê Suzette.
Maar haar tyd saam met haar kinders is nie onderhandelbaar nie. Wanneer Skye en Graydon by hul pa kuier, sit sy soms tot middernag en werk. “Ek werk hard sodat ek myself vir my kinders kan gee wanneer ons saam is,” sê sy, en trek haar skouers op asof dit vanselfsprekend is.
In hul tienerdae wou dié twee Van der Merwe-susters nie eens hul klere met mekaar deel nie. “Dit was maar tipiese susterlike binnegevegte!” lag hulle verleë. “Ons het ’n kamer gedeel. Ek het ’n geel hemelbed gehad en sy ’n pienke. Op ’n dag het ons die kamer só verdeel dat ons elkeen ewe groot helftes gehad het. En bewaar jou siel as jy oor daardie streep getrap het!” giggel Suzette.
Vandag is die twee beste vriendinne. “Iemand het eenmaal gesê, If you have a sister, you don’t need a best friend. In ons geval is ons sussies en beste maats,” sê Suzette. Met hul eenderse lang, donker lokke en slank lywe moet jy twee keer kyk om seker te maak wie is wie.
“Mense is dikwels ‘n bietjie verward wanneer hulle ons sien. Ek was eenmaal saam met Vianne en Tania kerk toe. Vianne het tussen ons twee gestaan. Skielik draai die tannie voor ons om, knik in my rigting en sê vir Vianne ‘Jy’t ’n mooi vroutjie!’” sê Suzette.
“Ek was regtig nie beïndruk nie!” voeg Tania by.
Hoewel hulle nie graag oor die moeilike tye in hul lewe praat nie, is dit juis dié tye wat die familie besonder geheg aan mekaar maak. Dié tye het hulle gebrei, laat groei en nuwe waardering vir mekaar gekweek.
Suzette en Tania se ouer boetie, Isak, is ’n paar dae voor sy twintigste verjaardag in Oktober 1987 aan kanker oorlede. “Ek onthou ons – ek, my man en die twee susters – was daardie Kersfees op Stilbaai. Dit was maar hartseer, maar ons het mekaar gehad,” sê ma Jeanne, en vryf oor Chewy haar yorkshireterriër se kop.
Toe Suzette ’n paar jaar terug van haar tweede man geskei is, het dit die susterlike band opnuut versterk. Sy kan dit haar nie voorstel om sonder familie aan haar sy deur moeilike tye te gaan nie.
“Tania is my ander helfte; die gedeelte wat ek nié is nie,” sê Suzette. “Ek is miskien die oudste, maar baie dae kyk ek op na my suster. Veral wat moederskap betref. Ek bewonder haar.”
“En Suzette is baie keer die ‘wind onder my vlerke’,” sê Tania.
Vir almal van hulle hou die woord “Kersfees”, spesiale betekenis in. Noem dié woord vir die twaalfjarige Graydon, sê hy dadelik: “My gesin.”
“Dankie, Graydon. Dis baie spesiaal!” sê Suzette, en gee hom ’n druk.
Eniele, Tania se 16-jarige seun, het duidelik ’n ander idee en sê met ’n vonkel in sy oog, “Geskenke!” Vir Tania en Suzette beteken “Kersfees” beslis “familie”, en vir ma Jeanne, is dit “Jesus”. Ná Isak se dood het die familie opnuut besef dat Hy die kern van alle bestaan is. Hoewel hulle dit elke dag weet, en volgens die wete leef, is Kerstyd tog weer vir hulle ’n spesiale geleentheid om Sy liefde te vier.
Enige ma wil net die beste vir haar kinders hê, en juis dít het dit in ’n stadium vir Suzette moeilik gemaak om te aanvaar dat haar kroos nie noodwendig haar idee van “perfek” nastreef nie. “Ek moes eendag doelbewus die besluit neem om tevrede te wees daarmee dat hulle uitblink in dit wat vir húlle lekker is, en nie noodwendig op die gebiede wat ék wil hê hulle moet presteer nie. Dit is asof daar ’n las van my skouers af is nadat ek dit besef het. Die laaste ding wat ek vir my kinders wil hê, is dat hulle people pleasers word. Hulle moet hul eie mense wees.”
Toe die grimeerkunstenaar haar kwassies met presiesheid oor Suzette se oë vee, wil sy weet of sy weer sal trou?
“Ek weet nie. Niemand weet wat die toekoms inhou nie. Op die oomblik is ek tevrede met my lewe. Ek is gelukkig. En die lekkerste van alles is dat ek aan niemand verantwoording hoef te doen nie. Ek kan lees, of in die bed werk as ek wil, en die lig pla niemand nie!” sê sy met ‘n glimlag.
Suzette en Tania se kinders is dol op mekaar én dink die wêreld van hul tannies. “My kinders dink natuurlik Suzette is die mooiste ma wat ’n kind kan hê,” sê Tania. “Tylo het so ewe nou die dag voor my veertigste verjaardag aangekondig dat ek nou moet vrede maak daarmee dat ek oud word, en Suzette nog die mooiste is!” Sy lag lekker.
“En my kinders is weer net so mal oor Tania,” sê Suzette, waar sy met haar bene opgetrek op Tania se leerbank sit. “Hulle dink hul Tannie Tania is besonder cool en hip, want sy jag en vang vis en kampeer, maar lyk so glamorous terwyl sy dit doen. Sy is ook die strenger een en die kinders respekteer haar. Ek dink ons is bevoorreg dat ons en ons kinders so goed oor die weg kom, want in baie families gaan dinge maar krapperig.”
Kleintyd se herinneringe van die feestyd neem hulle terug na Oupa Tobie se plaas Ertjiebult naby Stofberg in Mpumalanga. “Geen elektrisiteit nie het beteken dit was snags stikdonker. Ons en die niggies en nefies het so in die kerslig vir die grootmense konsert gehou,” sê Tania.
“Ek mis daardie tye,” sê Suzette. “Dit was spesiaal en daar was altyd hordes mense saam op die plaas.”
“Oeg, en onthou jy die buitetoilet?” sê Tania. “Ons sou eerder ure lank knyp as om in die middel van die nag toilet toe te gaan!”
Dis ook hiér waar die sussies se geloof in Kersvader verpletter is toe hulle opmerk dat “Vader Kersfees” Pappa se skoene dra! Suzette se pa, Pieter, het in 1990, dieselfde jaar wat sy Mej. Suid-Afrika was, as kolonel afgetree. Hy was ’n vlieënier in die lugmag. “Ek was altyd baie bang vir Kersvader,” sê Suzette. “Maar ná daardie Kersfees op die plaas, was my vrees vir die man in wit-en-rooi ook sommer daarmee heen.”
“Ek dink ons het maar altyd geweet Kersvader bestaan nie regtig nie, maar wou dit nie glo tot ons dit met ons eie oë gesien het nie!” sê Tania.
Die susters wil sulke prettige tye en goeie herinneringe ook aan hul kinders nalaat. Hulle het nie spesifieke tradisies nie, maar dit is juis wat dit opwindend maak, want elke Kersfees het sy unieke herinneringe.
As hulle ’n tema vir vanjaar se Kersfees kon kies, sou dit gewis wees: Omring deur die liefde.