Sy grapmakerfliek, Mad Buddies, laat menige fliekliefhebbers skater van die lag – ’n instelling by ’n Leon Schuster-fliek. Ons het die voorreg gehad om met hom te gesels.
Vertel ons meer van Mad Buddies. Wat kan kykers verwag?
’n “Madcap” komedie wat die regte lag op die regte plekke het, met ’n maklike storielyn sodat jy nie jou brein hoef te breek om te weet wat aangaan nie. ’n “Ware” verhaal in terme van die tye waarin ons in Suid-Afrika lewe, maar bo alles lag, lag LAG!!!
Wat wou jy met die fliek bereik? En het jy dit reggekry?
Om mense vir 90 minute lank te laat vergeet van ekonomiese en sosiale probleme en om my fans gelukkig te hou. Ja, ek dink ek het dit reggekry – ek hoop so! Ek het die hele land vol gereis met premières en die reaksie was presies dit wat waarop ek en my medeskrywer en regisseur, Gray Hofmeyr, gehoop het.
Wat maak die fliek besonders?
Werklikheidtelevisie is besonder gewild en ons gooi die fliek oor die boeg van ’n reality show wat verfilm word terwyl Boetie en Beast in hul lang staptog van Durban na Johannesburg totaal onbewus is van die versteekte kameras en spontaan hul wrewels teenoor mekaar kan uitleef.
Hoe het jy gevoel toe jy hoor die internasionaal bekende Disney gaan saam aan die fliek werk?
Baie goed – dis ’n deurbraak in die Suid-Afrikaanse filmindustrie, MAAR dit het ’n baie groter verantwoordelikheid op my skouers geplaas want ek wil graag weer saam met Disney werk en ek sal dit alleenlik regkry as die movie werk. Tot dusver (dank die Vader) het die publiek ons nog nie teleurgestel nie.
Het daar iets snaaks op stel gebeur waaroor julle geskater het?
Baie snaakse insidente, veral toe ek ’n lewendige luislang in die klanktegnikus se toolbox gesit het sonder dat sy dit geweet het. Sy het daardie klankkas oopgemaak, gegil “Jijijijieeeeeeee” en gehol van duskant Magaliesberg tot anderkant die berg waar ons haar met suikerwater gekalmeer het. Sy kon nie anders as om uiteindelik saam te lag nie.
Waarna sien jy die meeste uit in die fliek?
Dat my idee en gut feeling reg was in terme van om vir die volk te gee wat hulle graag wil hê.
Jy staan bekend as een van die land se bekendste vermaaklikheidsterre. Hoe laat dit jou voel?
Klein. Dis net genade en ’n gehoor daarbuite wat my ondersteun omdat ek my uiterste probeer om hulle nie teleur te stel nie. Ek sweef nie op ’n wolk nie – ek hang aan sy randjie en ek is dankbaar vir elke positiewe ligpuntjie. Ek mag dalk begin sweef as alles verby is en dit het aan die verwagtinge voldoen, maar tot dan hang ek!
Jy het al gesê dat jy nie daarvan hou om saam met “elite” mense te werk nie. Hoekom nie?
Ek werk beslis saam met “elite” mense. Gray Hofmeyr is ’n elite mens wat baie in sy TV-en rolprentloopbaan bereik het. So is Kenneth Nkosi, Alfred Ntombela en ons vervaardiger Helena Spring. Mense van formaat met integriteit en hulle voete vas op die aarde. Ek hou wel nie van snobs en snotty kritici wat nie vir ’n gehoor skryf nie, maar eerder vir hulle eie maatjies.
Watter tipe persoonlikheid het jy agter die skerms?
Ek bly een van die mense, nie verhewe bo hulle nie. Ek kan streng raak as ek voel iets kon beter, maar gooi nie tantrums nie. Daardie dae is lankal verby. Die produk is alles, en ek dink, in nederigheid, ek het ’n mate van perfeksionisme. Mense verstaan my as ek aandring dat ’n toneel oor en oor geskiet moet word – ek soek net die heel beste, maar soos Mike Schutte altyd gesê het: “Nobody’s perfect.”
Waaruit spruit jou idees vir nuwe flieks?
Ek voel instinktief aan dat ek ’n sekere storie wil vertel, soos hierdie een. Mense sê dikwels: “Hey man, gaan terug na jou versteekte kamera-sketse.” Maar ek soek meer as dit – ek soek uitdagings, en al sou mense my afraai om die tema te volg wat ek gekies het, byt ek daaraan vas en trek ek dit deur.
Hoe kies jy jou gehoor?
Weereens, ek beweeg op die vlak van die gewone mens. Ek identifiseer met die Blou Bul wat sy boep vir die kameras op Loftus wys, en met die Vuvuzela-ouens van byvoorbeeld Kaizer Chiefs wat hulle plesier op hul plastiek-trompette bekendmaak. Ek luister na wat die tannies in Pick ’n Pay vir my sê, ek leen ’n oor uit aan my pelle as ons Saterdag rugby kyk en hulle gooi idees rond. Ek maak nie movies om my mede-rolprentmakers tevrede te stel nie – ek maak movies vir die man op straat.
Hoe beskou jy sukses?
Ek dink dit sluit aan wat ek hierbo gesê het. “If you cater for the masses, you will eat with the classes. If you cater for the classes, you will eat with the masses.”
Jy maak gereeld grappe met mense. Wanneer is jy al uitgevang?
Rob van Vuuren se uitvang van my op Tshabalala’s Guide to SA was my grootste self-uitvang ooit! Ek het gedink ek sterf daardie dag – ek het ’n warm hart vir mense, en die outjie het so pateties voorgekom, dat ek die grap nie wou doen nie. Toe speel ek die grap, en Rob vertel my: “Jy’s pateties in jou klein fat suit. Jy dink jy’s snaaks om ander te embarrass”, ens. ens. En toe hy sê hy is al ge-hijack en ek het hom tot op die punt van ’n ineenstorting getraumatiseer, wou ek daar en dan sterf.
Wat is die een fliek wat jy nog wil vervaardig?
Miskien ’n Suid-Afrikaanse Western. Ek sien al vir Shorty op hierdie groot hings, en ’n shoot-out tussen my en hom waar hy per ongeluk die Sheriff doodskiet in plaas van vir my. Die geleenthede is legio. Ek wil ook nog ’n baie spesiale, “anderste” versteekte-kamera movie maak.
Fliekopsomming:
Mad Buddies handel oor die lewens van “Boetie” (Schuster), en “Beast” (Nkosi): twee manne wat uiters toegewyd is aan hulle werk as vegters teen dierstropery. Boetie en Beast loop mekaar vir die eerste keer (letterlik) raak terwyl albei van hulle op dieselfde stroper se spoor is. Tydens die voorval skiet Beast per ongeluk Boetie se toon af terwyl Boetie weer veroorsaak dat ’n leeu vir Beast in ’n grot injaag. Jare later herontmoet die twee mekaar by die Minister van Toerisme se dogter se troue…
Alfred Ntombela (wat saam met Leon in Oh Shacks I’m Gatvol en Mama Jack te sien was), Kenneth Nkosi (White Wedding en Tsotsi), asook Tanit Phoenix (Spud en Straight Outta Benoni) is almal in die rolverdeling.