Sy is laat vanaand. Baie laat. Gewoonlik stop sy voor een al in die parkeerplek voor die woonstelblok.Nou is dit byna halftwee en sy is nog nie hier nie. Sou sy vanaand van alle aande gekies het om iewers oor te slaap? Maar vandat hy haar begin dophou het, het sy dit nog nooit gedoen nie. Nee wat, sy het seker net iewers aan die gesels geraak.
Alles wat hy gaan nodig kry, lê reg op die sitplek langs hom. Hy hoef nie weer te check nie. Onder by die voetekant van die passasiersitplek is daar ’n pakkie Woolworths-toebroodjies en ’n rooi fles. Die sterk swart, soet filterkoffie in die fles is vroegaand reeds opgedrink. Maar hy was nog nie lus vir die toebroodjies nie, al het hy sy middagete twaalfuur reeds in ’n koffiehuis hier naby geëet.
Hy luister na Beethoven se negende klavierkonsert terwyl hy wag. Dis ’n Deutsche Grammaphon Gesellschaft-CD. Von Karajan is die dirigent. Hy speel die CD oor en oor. Wanneer die musiek ’n klimaks bereik, speel hy met sy vingers op die stuurwiel. Sy kop skeef, soos hy maak as hy intens luister. Hy is kalm, met net so ’n bietjie lewendigheid in sy maag. Net genoeg om hom wakker en gereed te hou. Al sy planne is goed uitgewerk en maklik uitvoerbaar.
Hy maak die kassie aan die passasiersdeel van die motor oop. Aan die binnekant van die deurtjie is twee foto’s. Die een naaste aan die deur is ’n foto van die Mona Lisa, uit ’n kunsboek geknip. Langs haar, die foto van ’n blonde vrou, tussen twintig en vyf en twintig, met haar reguit hare kenlengte geknip, haar kop en oë effe weggedraai van die kamera sodat hy nie die kleur kan sien nie. Hy weet dat dit ’n intense blou is.
Hy haal wit-en-swart gebedekrale uit die kassie en laat dit met ’n ritmiese beweging stadig tussen sy vingers deurgly en dan weer terug. Hy hoor ’n motor in die straat op ry. Dit klink na ’n Golf. “… sonder om moeg te word, sonder om een keer te twyfel …” Die Golf ry by die hek in … “Waar U en ek aan die …” Dit ís haar Golf. Hy stroop die gebedekrale van sy hand af en sit dit terug, maar maak nie die kassie toe nie. Sy parkeer die motor naby die ingang. Hy glip sy latekshandskoene aan, maak die watte nat uit ’n bottel.
Draai die prop weer op. Hy maak sy deur oop, en toe sy afbuk om haar handsak van die vloer aan die passasierskant af op te tel, klim hy uit. Toe sy regop kom en die deur toemaak, is hy by haar.