Soos die rolle wat Jack vertolk, lyk hy op die oog af nogal na ’n verleier, skurk en vermetel. Maar ná net twee minute in sy geselskap, wil jy deel van sy wêreld wees. Hy het ’n vlymskerp brein, ’n wonderlike sin vir humor en vertel stories wat ’n kwetsbare man blootlê. Hy is bonkiger as wat hy op die skerm lyk en met sy voorkop wat al groter word, kon hy maklik op Hollywood se kantlyn beland. Maar hy is Jack Nicholson: die akteur wat al meer benoemings as enige van sy tydgenote ontvang het.
Hy het ’n interessante agtergrond. Sy ouma het hom grootgemaak en hy was onder die indruk dat sy sy ma is, terwyl sy “suster” eintlik sy ma was. Hy het sonder ’n man in sig in sy ouma se skoonheidsalon grootgeword. Soos baie mans wat in vroulike huishoudings grootgeword het, het hy ’n slag met vroue, maar baie verhoudingsprobleme. Hy het vier kinders waarvan hy vaderskap erken, hoewel daar gerugte van ’n vyfde kind is.
Almal in Hollywood het ’n “Jack”-storie. My gunsteling is die een wat Matt Damon vertel oor toe hulle aan The Departed gewerk het. “Jack daag op stel op as die persoon wat hy vertolk. In The Departed het hy die rol van ’n invloedryke, onvoorspelbare en intimiderende ou vertolk en dis wie hy op stel was. Dis wonderlik om saam met hom te werk en hy is ’n baie vrygewige akteur, maar op stel kan hy mal goed aanvang. “Toe Leonardo (diCaprio) hom regmaak vir die toneel waar hy Jack se karakter moes oortuig dat hy nie ’n polisiespioen is nie, het die rekwisiete-ou Leo eenkant toe getrek en gesê: ‘Ek wil jou net waarsku, Jack sit al by die tafel. Hy het ’n brandblusser, ’n boks vuurhoutjies, ’n bottel whisky en ’n groot vuurwapen.’
“Niemand het nie ’n benul gehad van wat hy sou doen nie. Nie een van die goed was nodig vir die toneel nie. En toe Leo in die middel van die toneel is, hoor ons ’n slag.” ‘Verskoon my,’ sê Jack, en haal die vuurwapen onder die tafel uit wat hy heeltyd op Leo gerig gehad het terwyl hy besluit of hy hom gaan skiet of nie. Die reaksie op Leo se gesig was onbeskryflik. Jack skep sulke oomblikke. As jy na my en Leo se gesigte in daardie tonele kyk, lyk ons heeltyd soos verskrikte bokkies in die kopligte – presies soos ons karakters moes lyk.
Ons was vrek bang vir die ou. Alles wat Jack gedoen het, was om ons te help om ons rolle so eerlik moontlik te vertolk.” Jack was ook te sien in How Do You Know waarin Reese Whitherspoon die hoofrol teenoor Paul Rudd en Owen Wilson vertolk.
Jy het nog nie baie pa-rolle gespeel nie?
Ek het, maar dié keer is ek gelukkig ’n beter pa as in The Shining.
Watter soort rolle word deesdae vir jou aangebied?
Ek is op ’n punt waar ek rebels voel, amper soos toe ek ’n kind was. Ek wil nie ouderdomme in draaiboeke sien nie. Toe ek jonk was, het ek gesê: “Hoekom vra jy my hoe oud ek is? Ek kan my ouma speel as ek moet.” Toneelspel gaan nie oor ’n sekere ouderdom nie. Ons tatoeëer nie ons ouderdomme op ons voorkoppe nie, want dis nie waaroor die lewe gaan nie. Al die draaiboeke gaan oor ouetehuise, die gesin, die vrou wat sterf, die ou mans kom bymekaar en gaan Las Vegas of New York toe. Dis al wat daar is. Ek is nie meer in ’n posisie waar ek moet werk nie, en ek is nie bekommerd as ek nie werk nie. Ek hou daarvan om clichés te verbreek. Wanneer ek ’n rol kry waarvan ek hou, benader ek dit van alle moontlike kante af. Ek wil net iets moois maak. Dis wat my laat aanhou werk. Ek hou nie eens daarvan om draaiboeke te lees nie, ek verkies boeke. As ek ’n goeie boek raakloop, sal ek enigiets doen sodat ek ’n fliek daarvan kan maak.
Jy werk elke dag twaalf uur lank op stel. Wat dryf jou?
Ek sal nie in ’n fliek speel waaroor ek nie opgewonde is nie. Sover was ek gelukkig. Ná Easy Rider het ek rolle teenoor goeie akteurs gekry, en dit was opwindend. Maar jy kan jou nie roem op wat jy gister gedoen het nie. Jy moet elke dag wanneer die kameras rol jou ding doen. Die kamera neem net af wat daar is, en dit pas my. Dis baie uitmergelend wanneer jy skiet, maar daar is darem tye wanneer jy nie so ’n vol skedule het nie en kan doen wat jy wil. Dis iets wat ek nog altyd van hierdie bedryf waardeer het. Ek pak elke projek op sy eie aan. Hiérdie fliek. Vándag se tonele. Om in die hier en nou te lewe. Ek het die rol in How Do You Know aanvaar omdat ek weer saam met die regisseur James Brooks wou werk. (Hy het As Good As It Gets saam met Jack gedoen.)
Hoe weet jy jy is nie meer verlief nie?
Op ’n punt wéét jy net. Ons weet sekerlik wanneer ons verlief is? Die wetenskap sê dolverliefdheid duur so 18 maande. Dit het nie verander sedert Adam se tyd nie. In die stadium van my lewe verwag ek nie meer om dolverlief te raak nie, maar as ek my in ’n ernstige verhouding bevind, kyk ek nie verder as twee jaar nie. Ek is bewus van die siklusse. Ek is bewus van wat mense sê. Ondervinding is ook nie die beste leermeester nie. Ek was daardeur en herken die tekens. Ek probeer om nie vooruit te dink nie. Sekere goed gaan in daardie eerste paar jaar gebeur – goed wat in ons geprogrammeer is. Dis uit ons hande. Ek dink daardie aanvanklike intense verliefdheid bedek alles wat ’n minder ernstige verhouding sou laat sink. Sjoe, ek was al in die moeilikheid oor my uitlatings oor voortplanting. Meryl Streep wou my skiet daaroor – nie rêrig nie. Sy het my nog nie vergewe nie, wel, miskien ’n bietjie.
Maak liefde die lewe beter?
Die interessantste ding van die liefde is – ek het dit onlangs gehoor – is dat ek dit nie mis om verlief te wees nie, maar ek mis dit dat iemand my liefhet.
Na wie toe gaan jy as jy ’n krisis beleef?
Ek het ’n semi-georganiseerde ingrypingsgroep (hy wag vir my om te lag). Hulle ken my en is al deur baie saam met my. Hulle weet as ek plat op die vloer lê. Ek is oud genoeg om ’n paar vertrouelinge van albei geslagte te hê waarop ek werklik kan staatmaak.
Het jy ’n gunstelingstorie uit jou grootwordjare?
Wel, ek het eenkeer steenkool vir Kersfees gekry. (Hy stop en trek sy skouers op). Hulle moes ook nooit vir my daardie saag vir my verjaardag verjaardag gegee het nie. Ek het die eetkamertafel se pote afgesaag. Dit was nie my skuld nie.
Het julle gesinstradisies?
Ons kuier vakansies saam.Gewoonlik gaan ons Aspen toe. Nou is daar kleinkinders ook. My dogter Jennifer het twee kinders, Sean en Duke, en dis wonderlik. Almal bly nie in een huis nie, maar ek het genoeg kamers vir almal oral. Ons het altyd ’n heerlike tyd, maak presente oop, eet lekker kos …
Hoe voel jy oor jouself?
Ek is lief vir myself. Ek is redelik standvastig. “Meer goeie tye” – dit is my leuse en my etiek. Ek is daardie vervelige ou man wat sal sê: “Ek lewe in die hede.” Dis al wat daar is. Dis moeilik om nie afgestomp te raak nie. Maar die lewe is regtig wonderlik. Ek het nie ’n idee van hoe die paradys kan wees nie, want ek kan nie dink die wêreld kan beter wees as wat dit reeds is nie.
Sal jy jou lewe vir jou kind waag?
Jou kind hou jou gyselaar van die oomblik dat hy gebore word. Baie ouers glo hulle sal enigiets vir hul kinders doen, selfs hul lewe gee. Ek glo niemand wat sê hy is nie bang om dood te gaan nie, ek neem aan almal sou vir ewig wou leef. Toe het ek ’n Eureka-oomblik! Die filosofiese vraag is: Wil jy vir ewig lewe ten koste van jou kinders? Ek bedoel, die lewendes het nodig dat mense doodgaan (lag), anders het ons groot probleme.
Is dit vir ’n akteur moeilik om daar te wees vir sy kinders?
Ek het te laat besef dat jy jou lewe vir dié beroep gee. Ek is nie skaam om dit te erken nie. Dit verslind alles, ongeag die eindresultaat.
Wat het jou ma en ouma jou geleer?
Ek was ’n regte klein allesweter – ek probeer om nie meer so te wees nie. Hulle het dit by my ingedril om my in ander mense se skoene te stel; dat ek nie altyd reg is nie. Dit het my goed te staan gekom. Ek het baie goeie maniere. Hulle het my elke manier geleer wat daar is. Namate ek ouer geword het, het ek besef dis goed om goeie maniere te hê. Dis beter om nie vir iemand in die vertrek langsaan te skree nie; dis goed om aan ’n toe deur te klop; jy gaan kuier nie by iemand en tel ’n boek op en lees nie. Klein goedjies. Baie van die maniere laat my soos ’n ou dinosourus voel. My “suster” het my aangeraai om die dorpie te verlaat omdat ek ’n groot vis in ’n klein poeletjie sou wees. Ek sou nie sê hulle was intellektuele nie, maar hulle het gedink. Ek het steeds iets in my beursie wat my “ma” vir my gegee het: die definisie van ’n Smart Aleck: A Smart Aleck is a person that doesn’t know that its what he learns after he knows it that counts. Alles wat ek het en is, is aan hulle te danke. Onthou, ek is ’n buite-egtelike kind.
Wat maak jou gelukkig?
My kinders. En jy moet passie hê, eerlikheid en integriteit om ’n gelukkige mens te wees. En kan ek byvoeg – ’n kas vol goeie klere (lag).
Vertaal deur Hannelie Diedericks