My grootjies het nie die probleem gehad van wat om te eet nie. Vir hulle was dit maklik: Jy eet die produkte op die plaas. Vark, skaap, bees en, sê die grappie mos, as jy lus het vir groente, ’n hoender. Vleis drie maal op ’n dag. Tjops en eiers vir ontbyt. En as voorgereg pap, suiker, melk en ’n lepel botter daarby ingeroer. En as aptytwekkertjie is daar al gellings koffie gedrink, ook met melk en suiker, want as jy die boerebeskuit daarin doop, moet dit sag en soet op die tong kom lê. Vir middagete was daar naas die vleisgereg, soetpatats, aartappels én rys, gekerfde boontjies met uie en aartappel, soetwortels of pampoenkoekies, en vir die gesondheid ’n bietjie kool. Die slaai was tamaties en komkommer, of beet met uieringe. En as Oumagrootjie wou bederf, is een van die rye bottels ingelegde geelperskes of kwepers van die spensrak afgehaal. Saans was dit oorskietvleis, of melkkos of sop en brood, botter en konfyt. As Ouma moeg was, het Oupa met sy knipmes biltong gekerf en vir elke kind sy repie gegee. As jy lus was vir iets soets, was daar vetkoek.
Dan was daar kaiings, droëperskes, rosyntjies en sultanas en natuurlik vars room (of was dit skaapvet?) en heuning op ’n sny vars brood vir elfuur se lastige gaatjie in die maag. En laatmiddag was Ouma se melktert, jamtertjies en koeksisters net die ding. Net vir die rekord: Vis was nie dikwels op die spyskaart nie. Trouens, witvleis ook nie. Net Sondae was daar hoender. En Kersfees die gemeste kalkoen. My grootjies het geweet wat is goed vir jou: vleis, rys en aartappels is gesonde kos. Buitendien, wat nie doodmaak nie, maak vet, is geglo. En soetgoed troos.
Dis nie meer so nie. Ek weet nie meer wat om te eet nie. Is eiers goed vir ’n man? Is margarien beter as botter? Gee braaivleis kanker? Moet jy agt glase water per dag drink? Hoe weet jy nou hoe om gesond te eet en gelukkig te lewe? En wie moet jy glo? “Nie sommer maklik ’n voedingkundige nie,” skryf Michael Pollan in ’n artikel in die New York Times. Hy beskou eet as meer as net ’n noodwendige aktiwiteit – dis iets lekkers. Hy sê dit wat die meeste mense eet, is nie eintlik regte kos nie, dis eerder iets kosagtigs. En dat baie min van ons nog eintlik regtig “eet”. Ons verorber die kos so vinnig as wat ons kan, want die tyd is min. En vra ek: die tafelgebed? Dit is meestal net ’n afgerammelde rympie en deel van die eetritueel van skep, sluk en koebaai!
Volgens Pollan het die wetenskaplikes dit reggekry om kos deur nutriënte te vervang, jou ma se goeie advies oor wat gesond is met die advies van voedingspesialiste, en jou gesonde verstand met ’n deurmekaar kop. Die lekker van kos koop, is sonder fut. Want as jy nou kos koop, kyk jy eers agterop die pakkie na die kilojoules, die persentasie vet, die hoeveelheid vitamiene … Kos koop word ’n wetenskaplike studie en die eetkultuur nutrisionisme … ’n ideologie. Dit, sê Pollan, is heeltemal onnodig. Hy dink nie die oumense was so onnosel met wat hulle gekook en geëet het nie. Inteendeel. Jy kan maar na jou oumagrootjie se raad luister. Ai, die man skryf so in my kraal. Laat eet tog net weer eet word en kos kos.
Maar helaas, my en Pollan se paaie het toe tog geskei. Ons het saamgestem oor kos en eet. Maar toe begin hy beweeg na die blare se kant toe, soos in groenblare, slaai en broccoli, en noem dit lekker, gesond en ware kos. Gmf! My mense het van slaai gepraat as bokkos. En wat meer is, met sy drie keer vleis op ’n dag, tien koppies sterk, ryk en lekker koffie, soetpatats en pampoenkoekies het my oupagrootjie amper honderd gehaal.
Natuurlik, moet ek erken, is hy reg, maar … Wat wil ek vir Vadersdag hê? Net een keer weer in my leeftyd ’n tafel gedek soos my ouma s’n en op die spyskaart alles wat sondig is en glo jou dood veroorsaak. En dan, dokter, beloof ek, is ek terug op bokkos, klonterige roomkaas, ryskoekies en swart, bitter, kafeïnvrye koffie.