Genoeg vir 2 middelslag-broodjies of 6 klein broodjies in klein broodpannetjies.
Ons het klein broodpannetjies in die supermark opgespoor en ons broodjies daarin gebak. Koop klaarbereide versiersuikerblommetjies by spesialiteitsbak-winkels of tuisnywerhede. Jy kan ook delikate, handgemaakte blommetjies by ’n koekversieringsgilde bestel om jou teekoekies te verfraai.
Bestanddele
- 250 ml (1 k) sonneblomolie
- 375 ml (1½ k) strooisuiker
- 2 eiers
- 250 ml (1 k) aarbeijogurt
- sap en skil van 2 suurlemoene
- 500 ml (2 k) bruismeel, gesif
Versiering
- 125 ml (½ k) suurlemoensap
- 250 ml (1 k) versiersuiker, gesif
Metode
Voorverhit die oond tot 160°C. Spuit 6 klein broodpannetjies of 12 muffinpannetjies met kleefwerende kossproei.
- Klits die sonneblomolie en suiker saam. Voeg die eiers by en klits tot lig en romerig.
- Roer die jogurt, suurlemoensap en skil by. Sif die meel en vou by die mengsel in.
- Skep die beslag in die voorbereide pannetjies en bak vir 20 min. tot goudbruin. Haal uit en laat op ’n draadrakkie afkoel.
Versiering
- Meng die suurlemoensap en versiersuiker en skep oor die broodjie.
- Pak die versiersuikerblommetjies op die broodjies voordat die suurlemoenversiersel heeltemal set.