Ek’t nog altyd geglo daar’s vier vrae wat ’n vrou vroeg reeds die antwoord op moet hê: Wanneer praat jy? Wanneer swyg jy? Wanneer lag jy? Wanneer huil jy?
Want daar’s niks erger as om onkant gevang te word nie. Vir my, in elk geval, is dit so.
Praat praat sommige van ons te veel (of op hopeloos die verkeerde tyd). Lag lag sommige van ons te min (óf te hard, óf te uitbundig). Huil? Dieselfde storie. Te veel, te min, te hard, te, te, te . . .
Maar swyg? Moeilik, dié wag voor die mond wat nie altyd op aandag wil kom as hy moet nie. Ja, hy. Want in my kop is daardie wag ’n man. Hy luister net as dit hom pas. Staan op aandag as dit hom pas. En lê plat op sy rug om die chaos te aanskou as hy die een is wat vergeet om sy werk te doen.
My wag staak. Ek bly moeilik stil. Sê my sê oor dít wat my pla, dít wat vreugde gee en dít wat ek doen, en nog wil doen. Terwyl die woorde oor my lippe borrel, kom lag en huil gewoonlik vanself.
Ek en my wag het ’n geheim. ’n Groot geheim. Vir jare al. Soos ou lovers wat woordeloos vir mekaar kyk en wéét: hieroor praat jy nie. Nooit nie. Nie met jou ma nie, nie met jou pa nie, nie met jou broers of susters nie en ook nie met jou vriend of vyand nie. En veral, veral nie met jou man nie.
Dit het niks met die sogenaamde misterie van vrouwees te doen nie (ek sukkel in elk geval om in daardie wasigheid te glo). Dit het alles, alles met waardigheid te doen. Want ’n vrou verloor nie haar waardigheid nie. Só het Ouma Maria my al kleintyd geleer. Jy span jou wag in, maak hom kiertsregop staan tot sy beentjies pyn, maar jy sê dit nie. Nooit nie.
Jy vertel vir niemand wat jy weeg nie.
Ok. Tensy jy in lewensgevaar verkeer en die dokter (verkieslik ’n spesialis) regtig moet weet. Of as jy uit desperaatheid ’n vreemdeling-kameraad moet soek by wie jy weekliks, kort voor somer, kan inweeg.
Maar jy vertel nie vir iemand wat jy weeg nie. Veral nie vir jou man nie. Dan word jou waardigheid ’n risiko.
Saterdagoggend staak my wag weer. Plat op sy rug toe ek in ’n onbesonne oomblik sê: “Ek dink ek moet weer ’n vreemdeling-kameraad gaan soek by wie ek kan inweeg.”
Hy sê niks. Sy wag duidelik meer gedissiplineerd as myne. Dan kom dit, versigtig, baie versigtig: “Maar Liefie, ek betaal elke maand die mediese rekeninge. Ek weet wat jy weeg. Dit staan daarop.”
My wag spring op aandag. Ek praat nie. Ek lag nie. Ek huil ook nie.
Want sien, ek’t nog altyd geglo daar’s vier vrae wat ’n vrou vroeg reeds die antwoord op moet hê: Wanneer praat jy? Wanneer swyg jy? Wanneer lag jy? Wanneer huil jy?
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za