Die onderneming se hoofkantoor het die volgende boodskap op hul Facebookblad, Annique Health & Beauty Home Office, geplaas:
“Dit is met leedwese en hartseer dat ons u meedeel van die afsterwe van ons stigterslid van Annique Velsorgprodukte, Dr. Annique Theron, ook bekend as die Moeder van Rooibos, op die ouderdom van 86. Ons bied ons innige meegevoel aan haar familie en aan almal wat so lief vir haar is, soos wat ons is.”
rooi rose se Leefstylredakteur, Cornél Dunn, het in Mei 2009 met Annekie gesels oor haar outobiografie, Manna – my verhaal van rooibostee en wonderwerke, wat in dieselfde jaar uitgereik is. Lees meer onder.
Die tagtigjarige Annekie Theron se vel is die beste advertensie vir haar Annique-skoonheidsprodukte, besluit ek toe sy my met ons eerste ontmoeting ’n stewige boeredrukkie gee.
Die verfynde vrou se stem is sag en rustig. Sy hou meer daarvan om te luister as om te gesels en vra belangstellend na die rooi rose-span uit. Maar met die onderhoud lê haar trane dikwels vlak en duur dit ’n oomblik of twee voor sy haar emosies onder beheer kry.
Sy sê haar besluit om haar lewenstorie, Manna – my verhaal van rooibostee en wonderwerke, neer te pen is teenstrydig met wat sy altyd geglo het.
“Ek is nie iemand wat ou koeie uit die sloot grawe nie. Enige ophaal daarvan sou weer onheil stook. Ek het geluk nagestrewe en die verlede het my dikwels met swaarmoedigheid belas. Met my sewentigste verjaardag het ek onder druk van my kinders en ander sakekennisse besluit om tog my wedervaringe te deel.”
Annekie onthou hoe sy oor die eerste paragraaf gewroeg het. “Ek het na ’n uitsonderlike gebeurtenis in my verlede gesoek waarmee ek met die leser ’n aanknopingspunt kon vorm. Die ontmoeting met ’n klein meisietjie, wat ek Skoonlief noem, was die begin van my verhaal. Ek onthou ’n vier- of vyfjarige kind wat in die koelte van my ouerhuis met leë vuurhoutjiedosies in die sand speel. Tot vandag sien ek haar voor my geestesoog en bly ontroer deur haar eensaamheid, soekende hartstog en rustige selfstandigheid. Dit is waar my verlede begin het. Sy was nie my alter-ego nie, maar wel ’n objektiewe waarnemer. Sy was die kind uit my verlede wat die ontbloting daarvan draagliker gemaak het.”
Gebeure – soet, suur en bitter – is saam met Skoonlief se insig en waarnemings blootgelê. Spesiale herinnerings, soos toe sy die dag ná haar troue haar tassies wou pak omdat sy bang was sy sou haar onafhanklikheid inboet, beslaan ’n volle elf bladsye in haar boek. Uiteindelik het haar huwelik veertig jaar geduur, tot haar man se dood.
Annekie sê die chronologie het kophou en konsentrasie geverg. “Vanweë die besondere eise wat ek aan die boek gestel het, soos onder meer foutlose taalversorging, moes die boek ’n aantal kere deeglik deurgelees word. Met elke deurlees, het die herinnering aan sekere gebeure die krane oopgedraai.”
Omdat Annekie aanvanklik so traag was om haar lewensverhaal te deel, het die boek met rukke en stote gevorder. “Maar nadat ek my doktorsgraad ontvang het, kon ek in alle erns op die boek konsentreer. Toe het die gogga my behoorlik gebyt. Dit het my omtrent agt jaar geneem om die boek te voltooi.”
Nadat sy die teks afgeteken het, “het daar ’n suisende stilte gevolg”, onthou sy. “Jy wend halfhartige pogings aan om iets konstruktiefs te begin. Sestien dae nadat die boek aan die uitgewers oorhandig is, flap ek steeds soos ’n vis op droë grond rond.”