Tent
Annie belowe Amo hy kan die aand kom en sy teleskoop saambring.
“Ons kan haar bed skuif tot naby die buite-venster. Dan kan julle lekker in die sterre rondreis.”
By die gastehuis slaap Amo tot Janus hom wakker maak vir aandete.
“Ons gaan eet sommer ’n pizza voor ons hospitaal toe gaan.”
Amo weet Janus is nie lief vir pizza nie.
“Dis ok, Janus, ons hoef nie net te doen waarvan ek hou nie. Kom ons gaan eet eerder ’n steak. Dit sal ons krag gee.”
Janus boks hom liggies op die arm.
“Toemaar, ek is net tydelik nice. Volgende jaar as jy in die hoër skool is, gaan ek jou laat les opsê. Wag maar. Dalk is jy reg, jy het die steak nodig. Bou jou kragte vir volgende jaar, laaitie.”
Amo verorber ’n reuse stuk steak. Hy is regtig honger.
“Janus?”
“Wat? Moenie vir my sê jy soek nog nie!”
“Dankie dat jy my gebring het.”
“Plesier my ou, en soos jy weet, sal ek enigiets doen om by die skool weg te kom.”
“Jy is ’n regte luigat, Janus.”
“Ek weet.”
“En jy lieg vreeslik.”
“Wraggies?”
Amo is bly hy kan saam met Janus lag. Hy weet daar lê ’n paar moeilike dae voor.
Jessie lyk die aand beter. Sy sit regop as Amo met sy gesteriliseerde teleskoop inkom. Hy stel die teleskoop op op die tafel wat oor die bed skuif.
“Ek kan nie waarborg dat ons baie gaan sien uit hierdie posisie nie, maar kom ons hoop vir die beste.”
Met elke skuif van die lens verduidelik hy vir haar waarvoor om uit te kyk.
“Wys my weer die Suiderkruis.”
“Ons kan dit net-net van hierdie hoek sien.”
“Dink jy regtig jou pa het daar in die middel van die vier sterre sy tent gaan opslaan?”
“Dis wat hy gesê het hy gaan doen.”
“Help dit jou om te weet hy is daar?”
Amo voel ongemaklik. Dis moeilike vrae om te beantwoord.
“Ja, dit help.”
Jessie skuif haar agteroor op die kussings.
“Vertel my die storie van die Stervanger, asseblief.”
Amo gaan sit op die voetenent van haar bed. Dit is een van sy gunsteling stories van kleins af. Hy weet sy pa het dit sommer self uitgedink, maar hy weet hy sal die storie vir altyd in sy hart saam dra.
“Daar was eendag ’n man wat bo-op ’n berg gewoon het. Die mense in die vallei onder die berg het gedink die man is baie arm, maar die man het hulle verseker hy het skatkamers vol rykdom. Op ’n dag het diewe die man agtervolg. Hulle wou sy skatkamers gaan beroof. Hulle het gewag tot hy gaan water skep en sy huis deursoek, maar daar was geen skatkamers nie.
Toe dit nag word, sien hulle hom by sy huis uitkom. Hy het op die hoogste rots gaan staan met ’n vangnet. ’n Ster het verskiet en die man het die stukkies ster in sy net opgevang. Hy het tot by die rivier gestap en die sterstukkies in die rivier gestrooi. Die skelms het die man gevang en gedreig om hom dood te maak as hy nie vir hulle vertel waar sy skatte gehou word nie.
‘Julle is klaar in my skatkamer,’ het die man gesê. Die skelms kon eers niks sien nie. Toe sien hulle hoe blink die sterre soos diamante in die rivier. Hulle het dit met die man se net probeer vang, maar die net was elke keer leeg.
‘Vertel ons jou geheim of ons maak jou dood,’ het hulle hom gedreig.
‘Kyk op, wat sien julle?’ Hulle het bevestig dat hulle die sterre sien.
‘Die sterre is my skatte. Die rivier is die spieël van my skatkamer. Ek vang al die stukkende sterre. Dan gooi ek dit in die rivier sodat dit weer kan blink. Die rivier weerkaats dit terug na die hemelruim.’
Die skelms kon nie verstaan hoekom die sterre dan skatte kan wees nie.
‘Agter elke ster skuil daar drome,’ het die man verduidelik.
‘Soms spat mens se drome uitmekaar, maar as jy al die stukkies weer bymekaar maak, kan dit weer ’n droom wees.’
Die man het die skelms daardie aand gewys hoe om hulle eie drome te kry tussen die sterre. Toe hulle weer onder in die vallei kom, het almal hulle gevra of hulle die skatte gekry het.
‘Ja,’ het hulle geantwoord. ‘Ons is nou skatryk.’
Daardie aand het die mans die hele dorpie op die markplein laat bymekaar kom.
‘Kyk op,’ het hulle gesê. Die mense het opgekyk. ‘Ons almal in hierdie dorpie is skatryk. Kyk net hoe maak God elke aand sy skatkamers vir ons oop.’”
Jessie kyk saam met Amo by die venster uit.
“Dankie, Buddy, nou is ek ook skatryk. Kyk net hoe blink al my dome aan die hemelruim. Ek gaan nou tussen hulle bly, weet jy?”
Amo knik sy kop. “Jou pa moes ’n baie slim man gewees het om so ’n storie te kan uitdink. Dis seker hoekom hy sy tent tussen die sterre gaan opslaan het. Nou kan hy vir altyd by sy drome wees.”
Amo kan sien Jessie is moeg. Hy gee haar die Buddy-groet, maar voor Annie die gordyne kan toetrek, keer Jessie.
“Nie nou al nie, Annie, ek wil die sterre sien tot ek aan die slaap raak.”
Amo is stil in die bakkie op pad terug gastehuis toe. Hy dink self weer aan wat die betekenis agter sy pa se storie van die Stervanger is.
“Janus, het jy geweet hier is ’n heuwel in Bloemfontein waar mens oor die hele stad kan uitkyk?”
“Ja, dit is Naval Hill. Die Sterrewag is daar bo. Moet ons gaan kyk of die hekke oop is?”
Janus en Amo sit lank op Naval Hill na die liggies van die stad en kyk. Amo stel sy teleskoop op die bakkie se enjinkap op. Hulle kyk saam deur die lens na die hemelruim bokant hulle.
“Het al jou drome al waar geword, Janus?”
“Party het, party nie.”
“Wat doen jy as jou drome flop?”
“Dan soek ek nuwes. Mens moet net nooit dat jou drome opraak nie, Amo. Jy moet nooit ooit ophou droom nie.” Janus is darem ook nie te dom nie, dink Amo.