Moeilikheid
“O vrek, hier kom ’n ding,” fluister Jaco vir Amo.
“E … e … nou noem vir my al die sterre se name op,” sê Wessels. Amo proes en druk sy mond teen sy mou om die lag te smoor.
“Ek kan nie, daar is te veel!” sê die meisie met ’n groot glimlag. Amo sit dadelik belangstellend regop. Hierdie meisiekind weet waarvan sy praat.
Juffrou Wessels glimlag in haar twyfelagtige triomf.
“Jy weet duidelik niks nie. Wat van die maan en Mars en al daardie sterre?”
Voor Amo kan keer, begin hy lag.
“En wat is so snaaks Amo Verster? Kom staan hier voor dat ons kan hoor hoe slim jy is!”
Amo gaan staan blosend voor die skroeiende blik van Juffrou Wessels.
“Dis net … Juffrou, daar is ’n verskil tussen planete en sterre.” Uit die hoek van sy oog sien hy Jessie ondeund glimlag.
Ou Wessels probeer die situasie red. “Nou noem jy vir my die planete op, Amo. Jy hou jou mos so slim!”
Amo bloos bloedrooi.
“In volgorde van die son af is die planete Mercurius, Venus, die aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus.”
Amo kyk na Jessie, maar sy lyk nie juis beïndruk nie.
“Juffrou, ons moet ’n uitdun vir die meisiekinders hou!” Jaco lyk baie tevrede met sy aankondiging. Sanet en haar brigade gluur Jaco aan. Hulle lyk nie een lus om ’n plek af te staan aan die nuwe meisiekind nie. Maar Jessie lyk nie of sy maklik opgee nie.
“Juffrou kan maar in my oorplasingslegger gaan kyk, ek was vasvra-kampioen van die Wes-Kaap.”
Die kinders giggel oor die manier waarop die nuwe meisie Ou Wessels ontsenu.
“Wel, dit beteken nie jy gaan hier in die Noord-Vrystaat ook kwalifiseer nie. Môre, pouse in my klas. Jy Sanet, Ellen en Esmé.”
Sanet skud haar blonde vlegsels vererg heen en weer.
“Dis nie regverdig nie, Juffrou, ons drie was nog altyd in die vasvraspan!”
Die kinders sit vasgenael om die juffrou se volgende reaksie waar te neem. Die arme mens het duidelik lanklaas soveel teenkanting van kinders gekry.
“Ek het klaar besluit. En die res van julle graad sewes, moenie dink julle is groot noudat julle in julle laaste jaar by Brandwag is nie. Julle sal vasgevat moet word, lyk dit my. Terug aarde toe gebring word.”
Met die wegstap pomp Jessie Amo in die ribbe. “Jimmel, waar kry julle skool dié juffrou? Duidelik nie by Mensa gewerf nie.”
Mamoeks sê altyd sy pa sou lid van Mensa kon wees. Dis ’n internasionale klub vir slimmes waarvoor mens moet kwalifiseer. Mamoeks sê sy pa se IK was 150. As hierdie meisiekind weet van Mensa, is sy anders as die ander wat hy ken. Al is Sanet, Ellen en Esmé slim op skool, stel hulle eintlik net in rolprentsterre en sangers belang. Hulle giggel ook heeltemal te veel na sy sin. As hulle met die Brandwag-bussie na die wiskunde- of vasvra-olimpiades ry, sorg hy altyd dat hy sy oorfone dra. Die meisiekinders se gelag skommel sy brein, vertel hy altyd vir Mamoeks. Dan lag sy ma en vryf sy hare deurmekaar.
“Jy is jou pa se kind, nie ’n ladies man nie.”
Amo hou daarvan as sy ma sê hy is nes sy pa. Hy mis sy pa baie. Ou Janus kan maar gaan slaap, al trou hy eendag met Mamoeks, sal hy hom nooit ooit Pa noem nie. Amo weet sy pa se tent is opgeslaan in die melkweg en hy kyk heeltyd na wat hy wat Amo is doen. Sy pa sal altyd sy pa bly.
In die wiskundeklas kom skuif Jessie by die oop bank langs Amo in. Kurt en Jak maak onbeskofte geluide en pomp mekaar in die ribbe.
“Amo het ’n girlfriend gekry! Of is dit ’n boyfriend?”
Amo vererg hom en skuif sy stoel hard agteruit. Hy hoop meneer Breker Bester is op pad want hy is regtig nie lus om op die eerste skooldag in die wiskundeklas ’n paar vuishoue te kry nie.
“Toenou! Kyk hoe dapper is ons? Te veel Pronutro die vakansie geëet, ou Breins?”
Amo haat dit as hulle hom Breins noem. Veral nadat Kurt hom een pouse laasjaar vasgedruk het en ’n stuk varkbreins in sy mond gedruk het om hom kamma te probeer slimmer maak. Hy ril steeds as hy aan die slymerige tekstuur dink. Hy het voor die hele skool opgegooi en wou vir weke nie vleis eet nie.
Breker Bester kap met die bordborsel hard teen die bord, maar dit is nie genoeg om die oor en weer vakansie-vertellinge te stuit nie. Die kinders wag eers tot hy bulderend skree, dan raak hulle rustig. Hulle ken hulle grense met Breker.
“Hoe is hy? Is hy ’n goeie onnie?” Amo kan nie glo Jessie waag dit om so onder Breker se neus in sy oor te fluister nie.
“Het jy iets te sê?” Breker kyk geïrriteerd na Jessie.
“Ek sê net vir hom ek hoor Meneer is so ’n goeie wiskunde-onderwyser.”
Amo onderdruk ’n laggie. Jessie gaan vir groot sports by Brandwag sorg, dit weet hy sommer.
Met die eerste atletiekoefeninge die middag is dit reeds duidelik dat nie een meisiekind in Brandwag van Jessie gaan hou nie. Sy hardloop almal onder die stof. Selfs vir Sanet wat van graad een af al die rekords in haar ouderdomsgroep laat spat.
Dis asof oorlog tussen Jessie en Sanet verklaar is en die kinders kan nie wag om te sien wie die volgende dag die vasvra-uitdunne in Wessels se klas gaan wen nie.
Jessie is nie ’n dorpskind nie. Sy bondel saam met Amo en die res voor die bus vir die plaaskinders. Amo hou altyd plek vir Ulrich, maar Jessie peil reguit op hom af. Dié meisiekind gaan dalk vir hom moeilikheid bring, mor hy by homself.
“Ek hou eintlik die plek,” probeer hy keer.
“Dis ok, die ou kan maar ’n ander plek soek.”
Amo voel hoe Kurt se oë van agter-in die bus op hulle brand.
“My pa het die Du Toits se plaas gekoop. Waar bly jy?”
Amo voel behoorlik hoe sy bors toetrek. Die Du Toits se plaas! Regs langs hulle plaas.
“Ek en my ma bly langs die Vaalrivier.”
Hy wil nie dadelik te veel inligting aan haar gee nie, maar hy weet met hierdie meisiekind gaan dit nie help nie.
“Ons almal bly langs die Vaalrivier! Wat is julle plaas se naam?”
Amo gee oor. “Dis die plaas langs julle. Skulprivier. Julle kan ons huis van julle huis af sien.”
Amo voel of daar lood in sy bekentenis is. Hy is nie meer so seker of die koms van die meisiekind so ’n goeie ding in sy lewe gaan wees nie.
“Cool bananas! Is jy in die dorp se roeispan?”
Amo voel hy kan by die bus se venster uitklim en weghardloop.
“Nee.”
“O, swem jy vir die skoolspan?”
“Nope.”
“Vang jy vis vir die dorpspan?”
“Ook nie.”
“Nou wat doen jy heeldag langs die rivier?”
“Ek bly daar. Ek en my ma.”
Jessie praat onophoudelik. Teen die tyd wat hulle hulle busstop bereik, weet hy haar pa het die plaas met sy erfgeld gekoop en dat hy nog nie besluit het waarmee hy gaan boer nie. Haar ma skilder en studeer. Sy het nie broers en susters nie en sy het ’n Labrador genaamd Jama.
“Ma! Mamma Moeks!” Gil hy van die kombuisdeur af. Hy gaan sit moedeloos by die tafel met sy kop tussen sy hande.
“Ek het in die hel beland, Mamoeks. Hier het ’n meisiekind by die Du Toits se plaas ingetrek en sy gaan my lewe hel maak, ek weet dit sommer.”
“Ag dit is nie so erg nie, hulle is glo gawe mense. Janus sê die vrou gaan by die hoërskool uithelp met kunsklasse. Ek is nie so seker wat die man doen nie, maar ek het hom heeldag op die rivier sien roei.”
Amo vlug na ete na die veiligheid van sy man cave, soos hy sy kamer noem. Hy het alles daar wat hy nodig het. Sy rekenaar en plakkate van sy gunsteling sterre-konstellasies teen sy plafon en mure. By sy venster staan sy teleskoop. Daarmee reis hy die melkweg vol.
Hy het skaars sy rekenaar aangeskakel of ’n skril fluit klink van onder in die tuin op. Hy kry so ’n hol kol op sy maag want hy weet dadelik wie dit is. Jessie gaan hom geen rus vir sy siel gee nie.