Tjomma
Naby Kurt-hulle se afdraai sien hy iemand in die pad stap. Dis Kurt, hy het ’n rugsak by hom.
“Hey, Kurt! Wat maak jy die tyd van die nag op die pad?”
Kurt herken Amo eers as hy die valhelm afhaal.
“Breins, wat is dit met die valhelm? Verbeel jy jou bike is ’n motorfiets?” Hy grynslag.
“Waarheen is jy op pad, Kurt?”
“Ek waai. Ek gee pad uit hierdie dorp.”
In die maanlig kan Amo sien Kurt se gesig is stukkend geslaan.
“Jou pa?”
“Hou jou bek.”
“Kom saam my huis toe, my ma sal jou help.”
“Breins, los my uit. Ek wil alleen wees, en as jy vir iemand sê jy het my hier gekry, maak ek jou dood.”
Amo voel hulpeloos. Kurt is ’n boelie, maar niemand verdien om so deur sy pa geslaan te word nie.
“Gaan praat met die polisie.”
Kurt lag hom uit. “Jy is lekker mal. Dan slaan my ouman my regtig dood. Ek gaan na my ouboet toe, hy is in Bloemfontein.”
“Jy kan nie Bloemfontein toe loop nie.”
“Ek sal, ek sal jou wys.”
“Vat my fiets.”
“Is jy mal?”
“Vat my fiets, Kurt, en gaan na jou broer toe. Ek sal vir niemand sê ek het jou hier gesien nie.”
Selfs in die flou maanskyn kan Amo sien Kurt se oë is toegeswel en sy lippe staan dik.
“Jy is lekker mal, Breins, maar dankie, ek sal sorg dat jy jou fiets terugkry.”
Kurt staan ’n rukkie en kyk na hulle plaashuis se flou liggies in die verte.
“Sê my Breins, wat maak jy die tyd van die nag hier buite?”
Amo weet nie wat hom besiel nie. Hy vertel vir Kurt van alle mense dat hy op ’n ruimtereis gegaan het. Dat hy deur die sterre gery het.
Kurt sê gelukkig niks nie. Hy neem die fiets by Amo. Dan steek hy sy hand na Amo uit. “Dankie, Tjomma.”
Amo staan en kyk hoe Kurt wegry. Dan stap hy stadig terug plaas toe. Hy sit die valhelm netjies terug op die rak. Wat hy vir Mamoeks en Janus gaan sê oor die fiets, weet hy nog nie, maar hy voel beter na die “ruimtereis”. Arme Kurt, dink hy toe hy op die bed gaan lê.
“Pa, het jy gehoor? Kurt noem my sy Tjomma,” fluister hy voor hy aan die slaap raak.
KURT se pa-hulle soek die volgende dag al langs die rivier af na hom. Later kom die polisie ook help. Amo voel baie skuldig en bly heeldag in sy kamer. Hy kyk kort-kort deur met die verkyker wat hulle doen en of hy beweging by Jessie se huis sien. Dit is doodstil by Jessie-hulle.
Hy hoor hoe Mamoeks en Janus praat oor Kurt se pa hom so erg slaan. Janus dink Kurt is ’n boelie by die skool oor hy by die huis geboelie word. “Die drankduiwel heers in Kurt-hulle se huis. Arme kinders,” sê Janus.
MET saalopening die Maandagoggend heers daar ’n somber atmosfeer by die skool. Kurt se verdwyning is al waaroor die kinders praat. Dit en die geheimsinnige afwesigheid van Jessie by die huissport. Daar is selfs kinders wat glo die twee het saam weggeloop!
Die ding vreet aan Amo. Wat as iemand Kurt langs die pad Bloemfontein toe vermoor het en hulle kry die fiets by hom? Die paar speurverhale wat Amo al gelees het, plant die saadjie by hom dat die polisie sal dink hy wat Amo is het ’n motief om Kurt te vermoor. Almal weet hy is die een wat die meeste deur Kurt geboelie word. Trouens, hy is waarskynlik die laaste een wat deur Kurt geboelie is. En Janus, hy kan dalk ook ’n verdagte wees. Hy het voor tientalle getuies gedreig om Kurt se stertvelle af te trek.
Daar is ’n fluistering tussen die onderwysers oor Jessie, maar Amo kan nie agterkom waaroor dit gaan nie. Hy wens hy kon met Juffrou Alta praat oor Kurt en Jessie, maar sy moed begewe hom. Mamoeks, hy sal probeer om die middag met Mamoeks te praat, maar hy het Kurt belowe hy sal niks sê nie. En Kurt het hom sy Tjomma genoem.
Dit is ’n aaklige lang dag by die skool. Die busrit huis toe is net nie dieselfde sonder Kurt wat moleste maak en kinders boelie nie. Dit voel behoorlik of iemand dood is. Amo sidder by die gedagte. Hy hoop nie iemand is regtig dood nie.
Janus se kar staan voor die deur. Dis al wat hy nodig het, sug Amo. Janus het seker gesien die fiets is weg, nou gaan hy onder kruisverhoor geneem word.
Janus en Mamoeks sit op die stoep en staar na die rivier.
“O, hier is jy nou.” Mamoeks lyk byna soos die dag toe sy pa dood is. Amo se maag maak ’n draai. Wie is dit? Jessie of Kurt?
“Kom sit, ons wil met jou praat.” Mamoeks lyk nie kwaad nie. Net baie hartseer.
“Jessie se pa het vanoggend gebel. Sy is baie ernstig siek. Het jy geweet?”
Amo se mond is te droog om te antwoord. Hy skud net sy kop.
“Jessie het leukemie, bloedkanker. Sy was laasjaar baie siek daarvan, maar haar kanker het in remissie gegaan. Dit was ’n ruk weg. Verstaan jy dit?” Weer skud Amo net die kop.
“Die kanker is nou terug. Daardie blou kolle waarvan jy my vertel het, dit is die kanker wat terug is. Dis nie haar ma of haar pa wat haar slaan nie, dis die kanker.”
Amo voel of sy liggaam versteend geraak het. Hy weet nie hoe om te reageer nie. Moet hy verlig wees dat Jessie nie deur haar ouers geslaan word nie? Uiteindelik kry hy die woorde uit.
“Gaan sy dood?” Mamoeks vat sy hand.
“Ons weet net sy is baie ernstig siek. Sy is in die waakeenheid in ’n kliniek in Bloemfontein.”
Janus gee vir hom ’n glas koeldrank aan. “Jammer ou Amo, ek is jammer jou buddy is so siek. As sy beter is, vat ons jou Bloemfontein toe om te gaan kuier.”
Amo wonder of dit nou die regte tyd sal wees om te bieg oor Kurt.
“Het die polisie nog vandag hier by die rivier na Kurt gesoek?” waag hy om die gesprek in die regte rigting te stuur.
“Ja, die honde-eenheid help die water-eenheid, maar hulle kry net ou spore, nie nuwes nie. Dis of die duiwel los is hier langs die rivier. Jessie en Kurt …”
Amo kan die spanning nie meer verduur nie. Hy hardloop na sy kamer en kruip onder sy duvet in. Kan alles nie maar net verbygaan nie? Kan als nie meer net ok wees nie?
Hy huil tot hy aan die slaap raak.
Hy droom hy ry saam met Kurt Bloemfontein toe met die fiets. Kurt ry op die bergfiets en hy probeer byhou met Mamoeks se ou mandjiefiets. “Wag Kurt! Wag!” Maar hy sien hoe Kurt oor die bult verdwyn. “Cheers Tjomma!” hoor hy Kurt skree. “Nee, Nee Kurt, kom terug!”
Mamoeks skud aan hom. “Word wakker jong.”