Siek
KURT is terug by die skool. Amo kan sien hy verpes al die kinders wat so om hom maal en hom vrae vra oor waar hy was en hoe hy daar gekom het. Hy het steeds ’n stukkende lip en blou oë, maar daaroor vra niemand nie. Amo vermy hom so ver hy kan want hy weet nie eintlik wat om vir hom te sê nie. Dit lyk darem nie of Kurt dink hy is die een wat die polisie op sy spoor gesit het nie. Hy wil ook nie op die oomblik dink oor wat van die fiets geword het en of hy dit ooit weer terug gaan kry nie.
Tweede pouse dril Ou Wessels weer die vasvra-span. Sonder Jessie is hulle weer die ou span bymekaar. Sanet, Ellen en Esmé het ’n fraai kaartjie vir Jessie gemaak en hulle vra Amo om dit saam te neem as hy by haar gaan kuier. Die ding is net, Amo het geen idee wanneer hy sal kan gaan kuier nie. Mamoeks sê Jessie se toestand is kritiek, maar dat daar altyd hoop is.
Met min tyd voor die vasvra-olimpiade vra Amo Juffrou Wessels of die span ook na die vrae kan kyk wat hy en Jessie voorberei het. Hy is verlig toe sy instem. Dit beteken Brandwag het ’n goeie kans om die jaar die Noord-Vrystaat kampioene te wees.
Na skool loop Amo hom vas teen Kurt, Jak en Jaco.
“O, hallo Tjomma,” sê Amo ongemaklik aan Kurt. Jak en Jaco lyk verbaas dat Amo dit waag om Kurt “Tjomma” te noem. Amo het nie eintlik ’n idee watter reaksie hy verwag het nie. Kurt stamp hom hard met die skouer uit die pad. Jak en Jaco volg die stampe op.
“Ek is nie jou Tjomma nie, gehoor?” snou Kurt hom toe. Amo is effens uit die veld geslaan deur die reaksie. Dis asof die ontmoeting twee-uur die nag op die dorpspad nooit plaasgevind het nie. Hy kyk vraend na Jak en Jaco en ook hulle maak of hulle nooit vriendelik met hom was by hulle rookplek in die rietbos nie. Alles by Brandwag is dus terug na normaal, behalwe dat Jessie nie daar is nie.
By die huis staan Mamoeks by sy fiets teen die stoepmuur. Dis vol modder.
“Die ondersoekbeampte het dit by die skool vir Janus kom gee. Kurt het vir hom gesê hy het jou fiets gegaps.”
“Hoekom sê hy hy het dit gesteel? Dis mos nie waar nie? Gaan dit hom nie verder in die moeilikheid bring nie?”
“Dit sal nie, Janus het vir die polisie gesê ons gaan nie ’n klag lê nie want jy het die fiets vir Kurt geleen.”
Amo voel effens afgehaal. Kurt is sowaar bang dit kom uit dat hy wat Amo is hom gehelp het. Is hy dan bang Jak en Jaco dink dan minder van hom? Is dit dan so erg om Amo Verster as ’n tjomma te beskou? Kurt is wraggies eerder bereid om te beken hy het die fiets gesteel.
AMO voel die volgende weke eensaam by die skool. Soos laasjaar. Voor Jessie gekom het.
Hy praat partykeer met Ulrich en Jeandré as hulle vir die vasvra-olimpiade oefen, maar dis al. Kurt-hulle los hom uit vandat die stories oor Jessie se siekte begin uitlek het. Die kinders las die vreeslikste stertjies by aan Jessie se siekte en dit maak Amo kwaad.
Elke aand as hy deur sy lens na die sterre kyk, wonder hy of Jessie ook die sterre deur haar hospitaalkamer se venster kan sien. Mamoeks sê dit gaan bietjie beter, maar sy weet nie of mens al by Jessie mag gaan kuier nie.
Hy is baie bly toe hy weer met Jessie oor WhatsApp kan begin gesels. Hulle praat nie oor haar siekte nie. Hy vertel haar van Kurt en sy dinge en hoe hy en Jama elke middag by die rivier gaan stap. Jessie skryf nie lang boodskappe nie. Sy is baie swak, verduidelik Mamoeks.
“Maar dit is goed dat jy vir haar lang boodskappe skryf. Dit sal haar opbeur.”
Hy stuur die aand vir Jessie ’n skets wat hy op Pinterest gekry het. Hy het ’n pin-bord op Pinterest waarop hy al die foto’s en sketse pin wat hom herinner aan al die stories wat sy pa hom vertel het.
“My pa het my eenkeer ’n storie van die Stervanger vertel. Ek sal die storie nog vir jou vertel. Hierdie skets laat my daaraan dink. Kyk hoe staan die man op die punt van die sekelmaan met sy vangnet. In my pa se storie probeer die Stervanger al die verskietende sterre vang.
Maar ek sal jou die storie nog vertel.”
Partykeer stuur Jessie net vir hom ’n smiley of ’n emoticon op WhatsApp. Hy kan aanvoel sy is baie siek, maar dis lekker om darem weer met haar te kan praat.
“Ma ma sê dis net ’n kwessie van tyd,” fluister Sanet een oggend met opening vir Amo. “Sy ly glo vreeslik.”
Amo word woedend. Hy spring op en gil voor die hele Brandwag op Sanet. Die onderwysers sit versteend op die verhoog.
“Sy gaan nie dood nie, hoor jy my? Sy gaan gesond word! Los haar nou uit! Hoor jy my! Los haar uit!”
Hy hardloop by die saal uit. Hy hardloop oor die A en B rugbyvelde en gaan sit agter die muur by die skool se komposhoop waar Kurt-hulle pouses rook.