Adri Joubert was vir twee dekades die koel, kalm, gerusstellende gesig en stem van die aandnuus. Maar dan gebeur daar iets met haar man, en haar lewe word nuus terwyl ’n nasionale krisis die land skud. Sy word gedwing om haar persoonlike trauma opsy te skuif om die kykers deur die noodtoestand te loods van agter ’n vuurwarm nuuslessenaar.
kykNET se nuwe dramareeks, Die nuusmakers, met Rolanda Marais (as die gesoute nuusleser Adri Joubert), Brendon Daniels, Roeline Daneel, Lea Viviers, Arno Greeff, Lesley Maasdorp, Hannah Borthwick, Chris van Rensburg, Chris van Niekerk, Heinrich Wentzel, Susanne Beyers, Dorette Potgieter en Melissa de Vries, ondersoek die persoonlike opofferinge wat dit verg om nuus aan die nasie te bring.
- Rolanda Marais
- Roelien Daneel
- Arno Greeff
- Brendon Daniels
- Lea Viviers
- Lesley Maasdorp
Die reeks begin op Dinsdag 27 Mei om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Dit verg ’n span talentvolle, onverskrokke mense om nuuskykers elke aand ingelig te hou. Die nuusmakers verken sowel die kuns van nuusjoernalistiek as die persoonlike stryd, ambisies, oorwinnings en uitdagings wat die mense agter die skerms in die gesig staar terwyl hulle die waarheid najaag en tegelyk hul eie komplekse lewens moet hanteer. Die verhaal speel af in Johannesburg.
“Waar ’n program soos Niggies ’n tragiese gebeurtenis met tyd en afstand kon dokumenteer, bied Die nuusmakers ’n blik op die ongelooflike spoed waarteen nuus breek en verpak moet word – en die tol wat dit eis van diegene wat vooraan staan in elke vreugde, frustrasie en hartseer wat die land ervaar, terwyl hulle self ook hierdie gebeure moet verwerk,” sê Waldimar Pelser, M-Net-direkteur van Premium-kanale.
Die nuusmakers word vervaardig deur Both Worlds (die span agter M-Net se Recipes for Love & Murder), onder leiding van Karen Jeynes en Thierry Cassuto, saam met Annemarie Du Plessis (Koek). Jeynes skryf en regisseer ook en is saam met Marvin Lee Beukes agter die kamera. Jozua Malherbe, Ludwig Binge, Kabous Meiring en Hélène Truter dra met hul skryfwerk by tot hierdie kragtige drama.
“In ’n era van fopnuus en diepvervalsings, vra Die nuusmakers wie ons vertrou – en waarom. Adri Joubert verteenwoordig ’n generasie nuuslesers wat soos familielede in Suid-Afrikaanse huise geword het, en haar reis weerspieël ons gesamentlike stryd om by veranderende realiteite aan te pas,” verduidelik Karen Jeynes.
“Die nuuskamer is die ideale omgewing vir ’n drama – hoë druk, onmoontlike sperdatums en kleurryke karakters wat almal dieselfde doel nastreef, maar dikwels met botsende metodes werk. Voeg daarby Adri se persoonlike tragedie, en jy het ’n emosionele kruitvat waarbinne die storie afspeel,” sê Cassuto.
Die res van die rolverdeling sluit in Neels van Jaarsveld, Laudo Liebenberg, Loren Loubser, Nahum Hughes, Martelize Kolver, Ira Blackenberg en Kristen Raath.
KYK | Amptelike lusmaker – Die nuusmakers
Moenie Die nuusmakers misloop nie. Die reeks begin Dinsdag 27 Mei om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.