Deur Maretha Botes. Foto’s: Hanneri de Wet
Wanneer Schané Fouché (32) haar hare in ’n stywe bolla agter haar kop vasmaak, moet jy weet sy is op ’n missie en daar is nie tyd vir gesels oor die wind en die weer nie. Dié go-getter gesels met ons uit haar Johannesburgse kantoor via ’n elektroniese onderhoud.
Schané is die afgelope vier jaar hoof bedryfsbeampte vir Mej Suid-Afrika waar sy haar drome en passie uitleef om ’n verskil in ander se lewe te maak. Sy het al aan albei kante van die kompetisie gestaan en weet wat dit neem om aan die stuur van sake te wees, maar ook wat dit van jou neem om ’n deelnemer te wees. Sy was self in 2016 ’n mededinger vir die gesogte titel en het ’n plek onder die topagtfinaliste behaal. “Dis waar my liefde vir die handelsnaam begin groei het. Daar tussen die ander deelnemers het ek dinge fyn dopgehou en was ek verwonderd oor hóé al die legkaartstukke agter die skerms inmekaar gepas het,” sê sy. “Ek wou net altyd weet wat gebeur wanneer, hoe en waarom!”
Die Mej Suid-Afrika-handelsnaam is vanjaar 69 jaar oud. Vir Schané is dit wonderlik om te dink dat daar al byna sewe dekades lank aan ’n handelsnaam gebou is, wat vir baie mense soveel mooi herinnerings inhou. “Dis ’n handelsnaam met baie geskiedenis, trots en nostalgie. En ons is trots op hoe ons besig is om die wanopvattings van skoonheid en skoonheidskompetisies te verander. Dis ’n voorreg om te weet ons het ’n positiewe impak op die bedryf, maar ook op mense se lewens,” sê sy.
Schané het op Alberton grootgeword en aan Hoërskool Marais Viljoen gematrikuleer. Sy is die oudste van drie kinders met ’n jonger broer en sussie, Tiaan en Lizahn. Haar ouers is geskei toe hulle nog klein was en sy noem dit een van die moeilikste tye in haar lewe. Dit was ’n uitdaging wat haar gedwing het om vinnig groot te word. Dié tyd was vir die drie sibbe bitter moeilik, maar het ook ’n hegte band tussen hulle gevestig. “Maar, hoewel dit tóé vir ons baie moeilik was, is ons geseën met twee ouers wat nog altyd lief is vir ons en net die beste vir ons wil hê,” sê sy.
Een van haar sterk eienskappe is dat sy ’n vasbyter is. Sy gee nie maklik moed op nie. Hoe dan anders met ’n lewensmotto: “Probeer net nog één keer”. Sy sê: “Ek sê nie maklik nee vir ’n uitdaging nie. Mense het al soveel keer vir my gevra hoekom ek soveel hooi op my vurk laai. Ek sê altyd met elke uitdaging en elke geleentheid wat ek aangryp leer ek nuwe mense ken, kry ek nóg ’n kans om iets te leer en maak daar nóg ’n deur vir my oop. Dis vir my heerlik om hands-on te leer – om ervaring op te doen. En eintlik is dit vir my veel kosbaarder as die kennis wat ek in boeke kan kry.”
Schané het ’n BCom in bemarkingsbestuur aan die Noord-Wes Universiteit se Potchefstroomkampus behaal. Sy het óók ’n diploma in modeontwerp voltooi en wou vir ’n groot deel van haar lewe graag ’n modeblogger geword het. “Ek wou die wêreld vol reis, mooi modes afneem en dit op my Instagramblad wys!” Sy lag. Wie weet? Dis nooit te laat nie …
In 2019 het sy by Mej Suid-Afrika as logistieke en bedryfsbestuurder begin werk en vinnig die leer geklim. Hul grootste uitdaging is sekerlik om die wanopvattings van skoonheid en skoonheidskompetisies uit te daag, sê sy. “Dink net hoe ver het ons al die afgelope byna 70 jaar gekom. Mense dink glad nie meer dieselfde oor wat mooi is en wat ’n mooi vrou is nie. Maar ons is nog ver van die wenstreep af!”
Op die Mej SA-webtuiste word daar baie spesifiek na dié kompetisie as ’n leierskapplatform verwys. Vroue word gevorm as ambassadeurs vir hul land, rolmodelle, en word toegerus met stewige ondersteuningsnetwerke en vaardighede om suksesvolle sakevroue te wees ná hul jaar as kroondraer. Maar ook dié wat nie die titel dra nie kry waardevolle geleenthede om hul lewe en dié van ander te verryk. “As jy iemand die regte platform, ondersteuning en hulpbronne gee, kan sy die wêreld inspireer,” sê Schané.
Nóg ’n uitdaging is om voortdurend vernuwend en innoverend te wees sodat die kompetisie nie stagneer nie. Dís waarom hulle onlangs met die werklikheidskompetisie Crown Chasers vorendag gekom het. Met dié reeks gee Mej Suid-Afrika aan kykers ’n kykie agter die skerms. “Ons wys vir mense wat dit van individue vat om deel van hierdie kompetisie te wees. Wie is die vroue, wat is hul uitdagings, en hoe dink hulle, deur hulle in situasies te plaas waar hulle met ware Mej Suid-Afrika-scenario’s’ te doen kry. Hulle kom voor uitdagings te staan wat op die vier pilare van Mej Suid-Afrika gebou is, naamlik plig, kampioenskap, bemagtiging en skoonheid.
Lees ook: Demi Lee Moore verwag: “Baba Visagie in my magie”
Vir baie jare het Schané met die idee gesukkel om take te delegeer. “Dit was vir ’n groot deel van my lewe moeilik om take aan iemand anders oor te gee. Ek het ’n groot verantwoordelikheidsin en wil graag sien dat iets wat my verantwoordelikheid is, ’n sukses sal wees. Maar soos ek in my rol by Mej Suid-Afrika gegroei het, het ek met nuwe oë na delegering begin kyk. Ek sien dit as ’n geleentheid om iemand anders te bemagtig. Om iemand anders met nuwe vaardighede en verantwoordelikheid toe te rus en die geleentheid om óók te groei. Om so daaraan te dink, maak delegeer nou vir my maklik. Boonop het ek besef dat as ek deel van ’n span is, ek móét delegeer sodat ons soos ’n goed geoliede masjien kan saamwerk.”
Sy het ook die afgelope paar jaar geleer dat dit heeltemal oukei – en noodsaaklik is – om nee te sê wanneer jy nie iets kan doen nie. “Nee is ’n vol sin. As jy nie tyd of energie vir iets het nie, is dit jou reg om nee te sê. En ek het ook geleer dat dit glad nie nodig is om ’n verduideliking te gee nie.”
Lees ook: Maryna Calow: Suid-Afrikaanse wyn se grootste ambassadeur
’n Mens kan nie met Schané gesels sonder om ook oor haar lewe saam met Marion (33) te praat nie. Haar man en beste maat. Die een wat haar hart kaas en wyn laat klop. Hul paaie het op universiteit gekruis. “Hy het soos ’n engel in my lewe gekom toe ek hom die nodigste gehad het en ek het hom nooit weer laat gaan nie! Hy is die beste mens wat ek ken met die opregste hart,” sê sy. In September vanjaar sal hulle hul vierde huweliksherdenking vier. Dít na ’n rowwe eerste drie jaar.
Hul druk skedules maak dat hul tyd saam vir hulle uiters kosbaar is. Marion is ’n besigheidsbestuurder en beleggingspesialis by ’n finansiëlediensteverskaffer en het boonop die laaste twee jaar aan sy MBA gewerk.
“Dit was woes. Ons het nie altyd baie tyd gehad om saam deur te bring nie en moes mooi werk met die tyd wat ons wel tot ons beskikking gehad het om die beste daarvan te maak.
Maar ons het ook al twee besluit ons is jonk, energiek en passievol. Ons wil die beste vir mekaar wees en gee. En nee, ons het nog nie kinders nie, en nee, ook nie honde nie! Daarom kan ons álles vir mekaar gee in die tyd wat daar wel is. Ons ken mekaar se harte en weet wat die ander een wanneer nodig het om ons bekers weer vol te maak.”
Schané bieg sy is bang dat sy nie ’n groot genoeg impak op die mense om haar maak nie. Sy sê: “Ek streef regtig daarna om die beste weergawe van myself te wees. Om altyd te kyk hoe ek ander kan help floreer.
Dit maak my hart vol as ek iemand anders kan help.” Om seker te maak dat sy nie stagneer en in ’n gemaksone verval nie is ook ’n prioriteit vir Schané. “Ek wil altyd aanhou leer en aanhou myself aanspreeklik hou vir groei in my lewe. Ek wil nooit ophou om kanse te waag en groter te droom nie.”


Louis Mclaren, uitvoerende vervaardiger
Kyk saam met ons:
rooi rose en ontbytSAKE op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus op ’n reeks – vrouesake.
Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.
Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.
Lees ook: 10 redes waarom jy die April-uitgawe van rooi rose móét lees!