Hulle eenheid se naam is heel gepas ‘Asem’, en ná ’n spanningsvolle finale beoordeling kon Lee-Ann en Johann uiteindelik weer asemhaal toe hulle as die wenners van die eerste seisoen van Klein paradys aangewys is.
Daar was net .1 tussen hulle puntetelling en die span wat tweede gekom het. Die wen het vir Lee-Ann en Johann R1 miljoen, geborg deur Capitec, in die sak gebring, maar die span in die tweede plek, Juan-Louis en Elri, was heel in hulle noppies met die geskenkbewyse wat hulle deur die loop van die kompetisie van die borge gewen het.
Lee-Ann en Johann het met die intrapslag reeds gewys hulle is ’n span om dop te hou.
Lee-Ann is met Johann se broer getroud, maar die twee van hulle het saamgewerk asof hulle dit al jare doen. Lee-Ann is ’n binnehuisontwerpstudent van Pretoria, en Johann is ’n strukturele ingenieur van Durbanville.
“Die proses was superbevredigend, en ek dink almal van ons het baie gegroei en baie geleer hierdie maand, en ek is trots op ons,” het Lee-Ann ná die aankondiging gesê.
Die ses duo’s het minder as ’n maand gehad om hulle eenhede klaar te maak. Die finale puntetelling het bestaan uit punte van ’n groep kenners, punte van die duo’s wat mekaar se eenhede beoordeel het en dan natuurlik die punte wat die drie hoofbeoordelaars – Wicus Pretorius, Magdalene Bobotoni en Jessica Pieters – toegeken het.
Die kenners, wat ontwerpers van mikro-eenhede, ’n argitek en die bemarkingshoof van Capitec ingesluit het, het Yvette en Klaas se Aardvark derde geplaas, Juan-Louis en Elri se Intak in die tweede plek en Lee-Ann en Johann se Asem in die eerste plek.
Ná die duo’s se stemming, was daar vier spanne op die podium: Asem en Intak gesamentlik tweede en Jannie en Mika se 22 en Gerrie en Maggie se Palimpses gesamentlik eerste.
Maar aan die einde was dit die hoofbeoordelaars wat die finale besluit geneem het. Die uitslag was as volg:
SESDE PLEK
Kaapse nooi met 3.1 sterre.
Die beoordelaars het die sussies van Bloem, Alicia en Claudia, gekomplimenteer vir hulle gebruik van kleur en vir die persoonlike stempel wat hulle op die eenheid afgedruk het.
VYFDE PLEK
22 met 3.6 sterre
Wicus het Jannie en Mika die “meesters van elegansie” genoem, en hulle is geloof vir hulle ruim badkamer.
VIERDE PLEK
Aardvark met 3.9 sterre
Die badkamer en kaggel was vir die beoordelaars die hoogtepunte, en Wicus het gesê dit is die eenheid wat hy vir ’n winterwegbreek sal bespreek.
DERDE PLEK
Palimpses met 4 sterre
Gerrie en Maggie se eiesoortige styl het die beoordelaars se oog gevang, en hulle is gekomplimenteer oor hoe innoverend hulle gedink het.
TWEEDE PLEK
Intak met 4.5 sterre
Die pelle van Potch, Juan-Louis en Elri, het hulle spasie optimaal gebruik en het hulle styl deurgetrek – van die binnekant van die eenheid tot die buite-area. Hulle prieel het veral baie gunstige kommentaar gekry.
WENNERS
Asem met 4.6 sterre
Lee-Ann en Johann se oog vir fyn detail en slim ontwerp sal enige gas laat welkom voel, het die beoordelaars gesê.
Besprekings vir akkommodasie in Klein paradys, wat buite Grabouw in die Wes-Kaap geleë is, is nou oop. Gaan na https://oldmacdaddy.co.za/accommodation/klein-paradys/ om te bespreek.
Lees ook: Maak gereed vir Tertius en Tracy se ‘Binnelanders’-bruilof!