Stof jou dansskoene af vir ’n spoggerige geleentheid! Binnelanders se geliefde paartjie, dr. Tertius Jonker (Reynardt Hugo) en Tracy Smit (Melinda Viljoen), se langverwagte troudag breek Vrydag die 7de Februarie aan.
Tertius en Tracy se liefdespaadjie lees soos ’n sprokiesverhaal, al was dit nie altyd maanskyn en rose nie. Aanvanklik was hulle net goeie vriende, toe woonstelmaats wie se gevoelens vir mekaar geleidelik begin posvat en groei het – nie dat hulle dit aanvanklik aan hulleself, wat nog te sê mekaar, erken het nie!
Maar die liefde laat hom nie voorskryf nie en het gelukkig oorwin, ten spyte van haas onoorkomelike struikelblokke. ’n Onverwagse swangerskap het byna hulle liefdesbootjie op die rotse laat beland, veral na Tracy se onthulling dat dr. Conrad Bester (Hykie Berg) met wie sy in ‘n vorige verhouding was, die pa is en nie Tertius nie. Tracy en die baba se verdwyning is gevolg deur skokgebeurtenisse, maar dit het een voordeel ingehou: Al die betrokke partye moes noodgedwonge die strydbyl begrawe. Nou maak Tertius en Tracy vir klein Leah (Liebe Viljoen) saam groot, sonder om die belangrike rol wat Conrad in sy dogtertjie se lewe kan en wil speel, gering te skat.
Lees ook: Die sosiale media-ster Ruben Lambrechts gesels oor sy kaalvoet-plaaslewe en vreemde versoeke
Die tyd het aangebreek vir Tertius en Tracy om die knoop deur te haak.
Elsje Stark, ’n Binnelanders–vervaardiger, sê oor die troue: “Die rok hang teen die kas, die troukoek is bestel – kortom, alles is gereël. Die bruidegom beplan selfs ‘n verrassing vir die bruid! Nou moet almal net duim vashou alles verloop volgens plan…”
Binnelanders-kykers word hartlik uitgenooi na die geleentheid. Teken dit in jou dagboek aan: Vrydagaand, 7 Februarie en Maandagaand, 10 Februarie om 19:30, net op kykNET, kanaal 144.
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die mooimaakprogram ‘Stralend’ se Fafa de Klerk