Deur Rentia Mynhardt. Foto’s: Gerduan Kemp
Dr Adé Maré maak reg wat in jou mond verkeerd is sodat jou hart óók kan lag. Eintlik is sy ʼn spesialis in die selfvertroue-besigheid, want as jou tande eers onder haar hande deurgeloop het, kyk jy weer die wêreld vierkantig in die oë!
Mooi postuur. Lang, donker hare. Blas vel. Viets. En natuurlik ʼn sneeu-maar-warm-glimlag. Duskant 50 lyk dr Adé Maré tevrede en in beheer. Sy ís, want sy doen waarvoor sy gemaak is, en sy doen dit bitter goed! As plaasmeisie wat kaalvoet tussen die beeste skool toe geloop het, het sy en haar twee sussies geduik, grotgekruip, geabseil, perd gery, motorfiets gery … Hulle was besig! Met ʼn radiografis-ma en ʼn ortopediese chirurg-pa, is hospitaalgange en spreekkamers nie vir haar vreemd nie. Tog het sy gegril toe die loopbaanvoorligter vir haar vertel het sy moet tandheelkunde studeer. Sy wou veel eerder drama studeer en op die verhoog wees. Min het sy geweet dat “ligte, kamera, aksie!” net in ʼn effense ander formaat wél haar loopbaan sou word. Vyf en ʼn half jaar later het sy in 1999 as tandarts by Maties gekwalifiseer; in daardie stadium een van min vroue in dié bedryf.
“Ná my studies het ek twee jaar in Engeland as tandarts gaan werk en uitstekende ondervinding opgedoen, maar dit was nie vir my interessant nie. Terug in Suid-Afrika het ek by die technikon vir ʼn kursus ingeskryf om juweliersware te maak. Net voor ek met die kursus sou begin, het my ma my ʼn koerantuitknipsel gewys. Dit was ʼn advertensie vir ʼn tandarts by ʼn kosmetiese praktyk waar ek toe ʼn ruk lank gewerk het.”
Daarna het sy in 2011 besluit om haar eie praktyk met gerekenariseerde gereedskap te begin waar sy in een afspraak sommer nét daar by haar spreekkamers krone en gefineerde porseleintande met behulp van gespesialiseerde toerusting van die jongste tegnologie kan ontwerp en maak. “Dit was ʼn groot kans wat ek gewaag het, en ek moes geld daarvoor leen. Dit het met een pasiënt begin, toe twee pasiënte, en toe drie, en daarna het ek nog nooit weer teruggekyk nie.”
Adé se praktykfamilie vir die afgelope 13 jaar wie se lof sy besing, is Welmien (assistent), René (mondhigiënis), en Florence (sterilisasies en die een wat gewoonlik ʼn gebedjie opsê sodra besigheid stiller begin raak). “Ons maak saam planne en raak saam opgewonde oor die resultate. Die sukses van die praktyk hang in ʼn groot mate van hulle ook af. Elkeen se inset is goud werd en ek vertrou hulle ten volle.” Die praktyk spesialiseer in volledige mondrehabilitasies en kosmetiese tandheelkunde. “Ons maak skewe en afgeknersde tande mooi, maak jou tande weer mooi wit, en help enigeen wat ongelukkig is met sy glimlag.”
Die feit dat ʼn rekenaar die tande maak, beteken nie dat dit net ʼn vinnige een-soort-pas-almal is nie. Elke pasiënt se unieke persoonlikheid, gelaatskleur, ouderdom en geslag word in ag geneem. Adé luister fyn na die pasiënt se verwagtinge en sal dan ʼn professionele aanbeveling maak. “Ekstroverte en blonde pasiënte se tande sal waarskynlik witter wees, maar introverte en ouer mense sal weer ʼn ander skakering tand kry. Manlike pasiënte se tande is gewoonlik meer vierkantig waar vroue se tande oor die algemeen ʼn ronder vorm het.” Die voordeel van gerekenariseerde tandheelkunde is dat elke tand pasgemaak word vir die spesifieke mens wie sʼn dit is.
Afhangende van die hoeveelheid werk wat gedoen word, kan ʼn pasiënt in sommige gevalle soms van 08:00 tot 15:00 by die praktyk deurbring. H oewel dit ʼn lang dag is, is dit geen straf nie. “Jy lê darem glad nie die hele tyd met jou mond oop nie! Ons gee kort-kort ʼn ruskansie en selfs iets om te eet en drink, gee ʼn kombersie en speel musiek om dit so gemaklik en aangenaam moontlik vir die pasiënt te maak.” Die effense spanning waarmee die pasiënt in die oggend daar ingestap het, is totaal iets van die verlede wanneer hy of sy later die dag met ʼn splinternuwe en perfekte glimlag uitstap.
Lees jy op haar webwerf en sosialemediaplatforms hoe pasiënte wêreldwyd met dankbaarheid haar werk en kundigheid prys en aanbeveel, weet jy dat Adé iets van tandheelkunde verstaan wat veel dieper as net ʼn entjie verby die lippe strek. “Ek kom werk toe om te kom lekkerkry. Dit voed my siel. My pa se raad aan my jare gelede bly vandag steeds my motto. Behandel iemand soos wat jy jouself of jou geliefdes sou behandel. Dit is dan wanneer jy dit uit liefde doen en weet dat dit die beste behandelingsplan vir daardie persoon is.” Die beste plan is wel nie altyd die goedkoopste nie. “Ek soek nie net ʼn vinnige, tydelike oplossing vir ʼn probleem nie. Dit moet ʼn oplossing wees wat jou op die lange duur die beste uitwerk.”
Mense wat doodbang is vir ʼn tandarts is nie vir Adé ʼn probleem nie. “Wanneer jy deurentyd duidelik kommunikeer wat die persoon kan verwag en sy of haar vrese dan net met ʼn bietjie ekstra deernis hanteer, is die stryd halfpad gewonne. Ek gesels die hele tyd en verduidelik presies wat die pasiënt kan verwag. Dit maak die onsekerheid soveel minder. ‘Ek gaan nou jou tand voorberei. Ek gaan nou jou tand sementeer. Jy gaan voel ek werk aan jou, maar dit sal nie seer wees nie.’”
Sy beskou die oomblik wanneer ʼn pasiënt senuagtig na die spieël loop en dan ʼn rukkie lank in ongeloof en verwondering na hom/haarself staar as die hoogtepunt van haar werk. “Die trane, die drukkies, die drome wat waar word. Dit is die grootste voorreg om mense te help om weer hul selfvertroue te kan terugkry. Dit voel soms nie eens na werk nie.”
Tegnologie speel ʼn groot rol in die doeltreffendheid van ʼn praktyk wat op gerekenariseerde prosesse staatmaak. “Ons moet omtrent elke vyf jaar ons hardeware opgradeer wat ʼn enorme kapitale uitgawe is, maar ons kan bloot nie bekostig om met tegnologie agter te raak nie. Sodra jy sien hoe dit die produk wat jy lewer beïnvloed en verbeter, besef jy dat elke sent daarvan absoluut die geld werd is. Om nié te verander nie, sal jou praktyk doodmaak. Dis regtig lekker om saam met die tegnologie te groei.”
Behalwe vir finansiële uitdagings wanneer jy ʼn praktyk begin, is daar ook die uitdaging om in jouself te glo. Adé se raad aan mense wat van ʼn eie praktyk droom, is op die man af. “Begin net om dit te doen, vat ʼn kans en gló dat jy kan. Moenie stagneer nie en onthou altyd dat jy met mense werk; hanteer hulle met deernis.”
Adé droom van nog ʼn praktyk in Ballito. Met haar lewensleuse “Daar is nooit so ʼn goeie tyd soos nou nie”, is die vraag nie óf dit gaan gebeur nie, maar wanneer! Sy het vanjaar reeds aan haar sesde vol Ystermankompetisie deelgeneem en doen twee of drie keer per week Brasiliaanse jiu-jitsu (met ʼn blou belt!). “Ek geniet dit vreeslik baie omdat dit iets is wat jy nooit kan wen nie en dit die sport baie uitdagend hou.” Sy is kompeterend en staan haar man in die sakewêreld én in die sportwêreld, en draf boonop sommer vir die lekker 18 putjies op die gholfbaan kaf. Nog ʼn groot liefde wat hierdie talentvolle en veelsydige vrou het, is die vryheid wat haar ysterperd aan haar gee wanneer sy die wind op haar lyf voel.
Te midde van haar voorwaarts-mars-lewe, sien sy haar heel belangrikste rol as dié van ma vir haar twee tieners, 16 en 15 onderskeidelik. “Hulle is wonderlike kinders en laat my lag. My seun gooi my sommer soos ʼn sak mielies oor sy skouer!” Hulle maak haar moederhart sag, en net soos haar liefde vir kuns en verf, kleur hulle haar lewe in. “Dis vir ons ʼn vreeslike groot voorreg om gesond te wees en saam die mooi van die lewe te kan raaksien en geniet.”
Met elke tand wat sy skep, gee sy ʼn ietsie van haarself. Die manier hoe haar werk haar tone van vreugde laat krul, is bewys genoeg dat sy ʼn baie unieke verskil in die wêreld van tandheelkunde maak. Glimlag en die wêreld glimlag saam met jou, en as jy dit nie regkry nie sal Adé dit ʼn werklikheid maak, want dis haar roeping en passie om mense weer te laat lag tót hul oë daarvan skitter.
Kyk saam met ons:
rooi rose en ontbytSAKE op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus op ’n reeks – vrouesake.
Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.
Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.