Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts en Claire Gunn Photography
Marble Cape Town, ‘n buitengewone eetbestemming by die ikoniese V&A Waterfront, het amptelik sy deure geopen. Dis ‘n opwindende nuwe hoofstuk in die Marble-reis en hier word Suid-Afrika se ryk kulinêre erfenis met ‘n vuurgedrewe spyskaart met die geure en reuke van die oseaan berei. Marble Cape Town meng tradisie, innovasie en die lewendige energie van die Moederstad naatloos.
Gaste is met die glas hysbak na die dak van die ikoniese historiese Union Castle Mail Steamship-gebou wat in 1919 gebou is, vanwaar die uitsigte oor die hawe, stad en Tafelberg soos groot skilderdoeke voor jou ontvou, geneem.
Die gastelys was ‘n glans een. Voorste wynmakers, sommeliers, modelle en ander sjefs het met Franse sjampanje in die hand, die nuwe ervaring geniet.
Marble het sedert sy ontstaan in 2016 sinoniem geword met Suid-Afrika se diverse en gewaagde koskultuur. Die twee stigters, die bekroonde sjef David Higgs en entrepreneur Gary Kyriacou, bring nou hierdie nalatenskap na Kaapstad en smelt hul kenmerkende vuurgefokusde filosofie saam met die stad se bekende seekostradisies.
David is al etlike jare ‘n Mercedes Benz-handelsmerk-ambassadeur en is saam met J’Something ‘n aanbieder vir die MNET-werklikheidskookprogram, My Kitchen Rules South Africa.
Sy loopbaan het in 1990 in Kaapstad begin. Hy het ‘n kookskool, The Higgs School of Good Cooking, begin, sy eie spysenieringsmaatskappy, Extreem Kwizeen, besit en verskeie male vir oud-president Nelson Mandela gekook. In 2007 het hy saam met Jean Engelbrecht ‘n spogrestaurant in die ou kelder op die historiese wynlandgoed, Rust en Vrede, buite Stellenbosch gestig. Ná vier jaar is hy Johannesburg toe om by die Radisson Blu Gautrain en later by die Saxon Hotel aan te sluit, waar hy die bekroonde fynproewersrestaurant, Five Hundred, gevestig het.
Hy was deel van die SA Kulinêre Span wat die land by die Kulinêre Olimpiese Spele verteenwoordig het.
David en Gary het ook in 2018 vir Saint in Johannesburg geopen en in dieselfde jaar sy kookboek, Mile 8: A Book About Cooking, bekend gestel.
David was ook al verskeie male die Eat Out Restaurant Awards se sjef van die jaar.
“Die konsep van lewendige kook is dalk nie meer nuut nie, maar die manier waarop ons dit by Marble doen, is altyd ‘n vars ervaring. Dit is wat ons opgewonde maak oor Kaapstad,” sê die spogrestaurant se hoofsjef Matt van Niekerk. “Vuur het ‘n manier om mense bymekaar te bring – dit is waar stories gedeel word, idees gebore word en nuwe verbintenisse gesmee word.”
Die hele restaurant se spyskaart wentel om ‘n ikoniese Grillworks, wat intense geure lewer deur die wisselwerking van vuur en finesse. Kenmerkende voorgeregte sluit snoekpaté met magwenya, en lam- en beesvleistartaar met ingelegde waterblommetjies, in. Die hoofgeregte het Marble se gevierde houtkole Chalmar-ribeye, saam met nuwe skeppings soos mosselpaella en lynvis met geskroeide preie en geroosterde visgraatsous.
“Een van die dinge waarvan ek die meeste hou, is hoe groente oor die vlamme verander,” het David vertel, toe die eetgoed bedien is. “Hulle ontwikkel ‘n kompleksiteit en karakter wat jy nie op enige ander manier kan bereik nie.” Hoogtepunte sluit in geroosterde pampoen met versuikerde okkerneute en gebrande heuning-sous.
Hy het ook gesê dat hy opgewonde is om Marble Cape Town met toeriste en locals te deel en ‘n onvergeetlike eet-ervaring te bied. “Spanwerk is hier die rede tot ons sukses,” het hy vertel.
Om op ‘n soet noot af te sluit, wissel nageregte van kaas, koekies en piekels saamgestel deur Karen Dudley tot Keylimepastei en die heerlike Kaapse grenadellalollie wat jou vrolik sal maak.
Die restaurant van 800 vierkante meter is ‘n meesterstuk wat ontwerp en saamgestel is deur die bekende binnenshuise ontwerper, Irene Kyriacou en Redecco. Die dekor weerspieël Kaapstad se natuurlike elemente – wind, see en aarde – het sy aan gaste by die geleentheid vertel. Die ontwerp word aangevul deur pasgemaakte kuns, gesofistikeerde teksture en plaaslik-geïnspireerde elemente.
Die ruimte ontwikkel deur die dag,” het sy verduidelik. “Of dit nou middagete, skemerkelkies of ’n aand-ervaring is, die ontwerp pas by Kaapstad se buie aan—van stormagtige dae tot lewendige somer sonsondergange. Die buiteterras is ‘n uitbreiding van die eet- en kroegarea, ontwerp om die skoonheid van ons omgewing te versterk sonder om dit te oorskadu.”
Kuns bly ‘n integrale deel van die Marble-handelsmerk, met die ligging in Kaapstad met pasgemaakte stukke geïnspireer deur plaaslike landskappe en erfenis. Werke deur GRID, Krisjan Rossouw en Michael Beckurts vier Kaapstad se unieke skoonheid, terwyl Mash.T se kristalkrale-installasie die handelsmerk se verbintenis tot vakmanskap weerspieël. Ander uitstaande ontwerpelemente sluit in ‘n plafon-installasie van vlekvrye staal wat waterrefleksies naboots en handgestikte stoffering deur Casamento, wat tradisie met moderniteit vermeng.
Die restaurant bring waarlik hulde aan die tydloosheid van Kaapstad, maar ook die erfenis wat daar in die Moederstad heers.
Marble Cape Town kan 220 gaste akkommodeer en spog met ‘n indrukwekkende wynkelder. Bespreek by www.capetown.marble.restaurant.
Lees ook: Nuwe vereniging sal Chardonnay bevorder