Deur RIËTTE VAN DER WAT. Foto’s: WILLEM BOTHA.
Dis ’n bedrywige oggend in die Van Jaarsveld-huishouding in Ballito.
Bobby is pas terug van ’n boks-oefensessie en beantwoord my video-oproep op ’n drafstap nes hy by die voordeur inhardloop. Sy hare is natgesweet en sy pet sit skuins op sy kop.
Annatjie, wat netnou nog hul kroos by die skool gaan aflaai het, moet ná ons onderhoud weer in die pad val vir ’n afspraak in Durban. Sy’s een van daai mense wie se natuurlike skoonheid deur haar spontane energie en warmte nog mooier gemaak word.
Hulle vul mekaar aan: Sy’s die borrelende een, wat haar hart op haar mou dra; hý ’n selferkende “man-van-min-woorde”, wat die antwoorde op my vrae eers opweeg en dan sy saak kort en kragtig stel.
Dis die Maandag ná ’n luilekker naweek van stranduitstappies en braaivleiskuiers – net die energie-inspuiting wat Bobby en Annatjie albei nodig gehad het voor die week begin.
“Ek vlieg môre oggend vir die hele week Johannesburg toe en moet nog ons nuwe ritme uit-figure,” sê Bobby, lank nie meer slegs ’n sanger en liedjieskrywer nie, maar ook akteur en TV-persoonlikheid.
Vanjaar het hy sommer ’n hele paar ysters in die vuur – hy toer vir die eerste keer in jare weer met sy musiek; werk aan ’n nuwe album; hou sy lyf akteur in ’n Showmax-fliek en is een van die glansmense wat aan die werklikheids reeks Tropika Island of Treasure in Zanzibar deelneem. Maar by die huis is hy sommer net pappa vir Sion (13), Leben (12) en Armani (8) en “Pieter” vir sy vrou van 13 jaar.
Annatjie is volgens haar man die gom wat alles bymekaar hou aan die tuisfront; die standvastige ma wat alles vir haar kinders doen. Dis iets wat sy vir niks sal verruil nie.
“Ek voel God roep ’n mens vir ’n sekere lewe. Ek is tevrede met wie ek is en wat ek het. Dis ’n voorreg om ’n tuisblyma te wees. ’n Mens beleef elke oomblik van jou kinders se grootword; jy is deel van hul hoogtepunte en teleurstellings,” sê Annatjie.
Op haar beurt gun sy Bobby die geleentheid om sy vlerke te sprei, omdat sy weet hy werk so hard om vir haar en die kinders hul veilige, gelukkige hawe te skep.
“Hy loop so baie mis – die kinders se sport en verjaardae – maar hy pak alles met soveel ywer en liefde aan en ek weet hy doen dit vir óns.”
Die baie weg wees van sy gesin is ’n deel van sy lewe wat hy moes leer aanvaar, al is dit nie altyd maklik nie.
“Ek het vanjaar albei my seuns se verjaardae gemis, maar ek het vir die dag huis toe gevlieg om Armani darem op haar verjaardag te kon sien,” sê hy. Haar bak-en-brou-partytjie was ’n groot sukses en sommer baie pret.
Bobby is ’n sagte pa, sê Annatjie.
“Wanneer die kinders toenadering soek, gaan lê hulle graag saam met hom op die bank vir drukkies, omdat ek as ma maar altyd besig is om te operate,” sê sy laggend.
Hy is eintlik die een wat soms moet kwaai wees as dit nodig is, voeg Bobby met ’n skalkse glimlag by: “Anna kan nie regtig raas nie. Sy’s ’n baie sorgsame ma. Kan jy glo elkeen van ons kinders kry elke dag verskillende aandetes? Ons moes altyd tevrede wees met wat voor ons neergesit is …”
Toe hy jonger was, wou Bobby sommer tien kinders hê. Deesdae weet hy dis dalk nie so prakties nie.
“Ouerskap is ’n voorreg, maar dis ook ’n groot verantwoordelikheid,” sê hy. “Dis ’n groot besef dat jý jou kinders help vorm. Soms voel dit of hulle dalk oor ’n paar jaar ’n sekere weergawe van jou gaan wees en dat jy moet seker maak dis ’n beter weergawe.
“Ouerskap laat jou besef hoe selfsugtig jy voorheen was. Dit verander jou en dis ongelooflik.”
Annatjie wou van kleins af ’n ma wees wanneer sy “groot” is.
“Soos die kinders ouer word, raak dit al hoe meer uitdagend. Al probeer ’n mens jou bes, is die uitkoms nie altyd wat jy verwag nie. Ek voel jy sal nooit regtig arrive as ouer nie, maar ek probeer elke dag in geloof leef.
“Ouerskap hou jou naby aan God en dis ’n ongelooflik vervullende pad om te stap. Ek moet ook toelaat dat my kinders hul eie lewenspad stap, want in die reis wat hulle kies en met die foute wat hulle maak, sal hulle God werklik ontmoet.
“Ek lê soms nagte wakker en bid vir elkeen van my kinders as individue. Wat ek vir die een moet wees, moet ek nie vir die ander wees nie.”
Hul kinders het uiteenlopende persoonlikhede, sê sy: “Sion is ernstig, stil en baie gedetermineerd. Leben is ’n grapmaker en lawwe gees wat elke grens druk wat jy het. Armani is tussenin: Sy het ’n sagte hart, maar sy het Leben se wildheid. Sy is waaghalsig en ’n ekstrovert. Dit is soms nogal ’n storie om dié drie persoonlikhede oor die weg te laat kom.”
Hul huishouding funksioneer egter goed te midde van georganiseerde chaos, sê Annatjie sonder skroom.
“Mense lag vreeslik vir my, want ek is baie deurmekaar en ongeorganiseerd. Maar ek sê altyd God is in vándag: Ek staan vroeg op, voor die res van die gesin wakker is, en dan beplan ek my dag.”
Sy en Bobby vul mekaar aan.
“Ek klim sommer bo-oor die skooltasse as dit in die gang lê,” sê sy.
“Ek skop daai tasse eenkant toe,” antwoord hy gemaak kwaai. “Ek is iemand wat in beheer wil wees en nie baie van onsekerheid hou nie.”
“Hy hou daarvan as alles netjies en reg is; maar ék is gelukkig as ek my kinders met glimlagte deur die huis sien hardloop,” sê Annatjie.
“Ek dink as ’n mens trou, het jy die idee van ’n perfekte storie vir jou huwelik, verhouding en ouerskap. Soos jy die pad stap, kom jy agter so iets bestaan nie. Jy besef dat God eintlik ’n huwelik en ouerskap skep sodat mense mekaar kan aanvul waar die ander een tekortkominge het. Jy leer op dié reis om die dinge te aanvaar waarmee jy kan saamleef en om grense te stel vir die dinge waarmee jy nié kan nie.
“Ek dink nie daar bestaan iets soos ’n perfekte verhouding nie, maar die liefde oorwin alles.”
Haar man se veelsydigheid en sy waagmoed om nuwe dinge te probeer én die feit dat hy so geniet wat hy doen, bly vir haar verstommend.
“Ek en my skoonsus, Karlien, spot altyd dat Bobby enigiets in goud kan verander. Maar natuurlik verg dit baie harde werk.”
Bobby is opgewonde oor al die loopbaangeleenthede wat vanjaar oor sy pad kom.
“Ek is mal oor acting. Spoorloos op kykNET was ’n besonderse produksie en dit was baie goed vir my loopbaan.
“As ek nou terugkyk na Liefling, my eerste fliek, cringe ek bietjie, want ek het nog nie geweet hoe om toneel te speel nie. Maar ek sien uit na die fliek waaraan ek vanjaar gaan werk, omdat ek nou meer ervaring het.”
Hy voel ook weer baie geïnspireer om sy eie musiek te skep.
“Ek het die liedjies vir my eerste album, Net vir jou, alles self geskryf. Toe begin my musiek goed doen en daar kom ’n klomp ander liedjieskrywers aan boord. Nou voel ek dis weer tyd om my eie songs te skryf, met my eie styl en ook om self my musiek te vervaardig. Ek voel ek móét, net om weer meer real te word.”
Annatjie is self ’n skeppende mens en sy het so paar jaar gelede ’n onderneming saam met ’n vriendin begin wat gordyne maak.
“Ons het ’n klein fabriek waar ons eers swemklere en gholfklere vervaardig het. Nou fokus ons op gordyne. Ek het al my lewe lank ’n passie vir materiaal en ek geniet dit om elke dag nuwe mense te ontmoet en hul stories te hoor.
“Noudat die kinders groter word, is dit belangrik vir my om my eie grondgebied te verskuif sodat ek nie stagneer nie.”
Die gesin woon nou al sowat ses jaar in Ballito en Bobby sê as dit van hom afhang, sal hulle vir altyd daar bly.
“Dis ’n besonderse plek: groen, veilig en baie warm. Dis ’n buite-ewe en hier is ’n ongelooflike gemeenskap op die dorp. Omdat die meeste mense nie familie hier het nie, raak mense maklik vriende – dit voel eintlik bietjie soos ’n expat-gemeenskap elders ter wêreld.”
Haar vriendekring van ma’s spring gereeld in om mekaar se kinders te help rondkarwei en om mekaar se laste te help dra, voeg Annatjie by. Dit help, want hulle is baie geheg aan hul familie in Gauteng en die verlange Pretoria toe raak soms swaar.
“God werk in seisoene en ek glo ’n mens moet gehoorsaam wees oor elke seisoen wat eindig of aanbreek,” sê sy.
Vir nou omarm hulle egter alles wat dié seisoen bied.
“Ons is baie lief vir strand toe gaan as gesin en Leben het nou net begin surf. Ons huis is altyd vol maats en dis vir my baie lekker as hier gelag en gespeel word om ons. Armani het ’n straat vol maats en sy speel ure met almal se honde. Ons is baie lief vir sosiaal wees.”
“Omdat ons naweke, maar meestal sonder Bobby hier is, pas ons ons program aan op die dae wat hy tuis is. Enige dag kan naweek wees!”
Hierdie artikel het oorspronklik in rooi rose se Junie-uitgawe vanjaar verskyn.
Lees ook: 10 redes waarom jy die Desember-uitgawe van rooi rose móét lees!