Volgens ‘n amptelike verklaring wat Vrydagoggend deur die Mej. Suid-Afrika-organisasie vrygestel is, het die huidige Mej. Suid-Afrika, Mia le Roux aan die 73ste Mej. Heelal-kompetisie onttrek weens kommer oor haar gesondheid.
Die 28-jarige skoonheidskoningin het aan die kompetisie in Mexiko onttrek dae voor die eindronde op 16 November plaasvind en maak geskiedenis as die eerste dowe deelnemer ooit om Suid-Afrika by die kompetisie te verteenwoordig,
’n Amptelike verklaring wat op die Mej. Suid-Afrika-organisasie se sosiale media-bladsye gepubliseer is, lui: “Dit is met diepe spyt dat ons die nuus deel dat Mia le Roux, Mej. Suid-Afrika 2024, weens gesondheidsprobleme aan die Mej. Heelal-kompetisie moes onttrek.”
“Mia het deur hierdie moeilike tydperk ongelooflike moed en grasie aan die dag gelê. Haar gesondheid en welstand is ons hoofprioriteit, en ons staan aan haar sy, toegewyd om te verseker dat sy haar krag herwin en ten volle herstel. Ons harte is met haar terwyl sy besig is om te herstel.”
Mia sê: “Ek is innig dankbaar vir die onwrikbare ondersteuning van Suid-Afrika tydens my tyd by Mej. Heelal. Hierdie besluit was ongelooflik uitdagend, met die wete van die drome en hoop wat op my geplaas is. Ek is egter dankbaar om die geleentheid te hê om op my gesondheid te fokus sodat ek kan voortgaan om my land te dien.”
Die Mej. Heelal-kompetisie se finaal sal op Sondag, 17 November om 04:00 op SABC 3 uitgesaai word en sal om 20:00 herhaal word.
Lees ook: Mia le Roux gesels oor haar pad na Mej. Heelal op ‘Waar daar ’n wil is’