Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts
Terwyl Suid-Afrika jaarliks sy erfenis in September vier, is daar geen beter oomblik as nou, om ‘n glas Roodeberg met vriende te klink nie – dis immers ‘n oorspronklike en ‘n geliefde huishoudelike naam.
‘n Spesiale verjaardagpartytjie is wel tydens Erfenismaand by Mertia-restaurant op Stellenbosch gehou en ‘n paar gelukkige gaste kon deel in die pret. Nie net is die handelsmerk se driekwarteeu gevier nie, daar is ook ouer wyne geproe – waarvan die oudste 49 jaar! Gaste moes met elke oesjaar wat geproe is, staan as hulle jonger as die wyn was.
Roodeberg, wat in 1949 deur die visioenêre Dr. Charles Niehaus gestig is, het sy naam te danke aan die asemrowende rooikleurige sonsondergange oor die Paarl-berge. Nou, terwyl Roodeberg 75 jaar vier onder die einste son wat sy naam geïnspireer het, reflekteer dit op ‘n reis ryk aan stories wat in die lewens van sy verbruikers ingeweef is.
Die eerste bottel Roodeberg – wat oorspronklik ontwikkel is as ‘n eerlike Kaapse rooiwyn – is uit die 1946-oes gemaak. Dr Niehaus was die opvolger van dr. Abraham Izak Perold, die KWV se hoofwynwetenskaplike en pa van Suid-Afrika se unieke druifsoort, Pinotage.
Vir die eerste 55 jaar is Roodeberg uitsluitlik vir die uitvoermark gemaak en die versnit was ‘n geheim. Alhoewel dit nie tot 2004 sonder ‘n KWV-kwota plaaslik beskikbaar was nie, het Roodeberg nog altyd ikoniese status in die harte en gedagtes van Suid-Afrikaners geniet.
Daar word gesê dat gesogte toetswedstrydkaartjies, biltong en dies meer “onder die tafel” geruil is vir ‘n bottel of twee van dié gesogte rooiwyn. Volgens die tydskrif, Wynboer (nou Wineland) van Januarie 1986, was ‘n glasie Roodeberg vir Suid-Afrikaners in die buiteland, soos ‘n drukkie van die huis af. Dieselfde geld vandag nog. Vir baie mense roep Roodeberg goeie herinneringe op van mense, plekke en geleenthede, en van die deel van spesiale oomblikke met familie en vriende, dikwels met seldsame oesjare wat spesiaal vir daardie een geleentheid weggesteek is.
Van die klassieke Roodeberg Red tot die avontuurlike Roodeberg Black en die lewendige Roodeberg Rosé (gemaak van rooi variëteite), weerspieël elke versnit die handelsmerk se diep generasie wynmaakkundigheid.
James Ochse, Roodeberg se wynmaker – slegs die 12de in die handelsmerk se geskiedenis – het aan gaste vertel dat die kelderspan se versnydingssfilosofie berus op ‘n diepliggende begrip van die wingerde, die streke waarmee die kelderspan werk en dat hulle waardeer wat elke variëteits-element bydra.
“Hierdie wenformule strek verder as keldermure: Roodeberg gaan nie net oor die wyn self nie – dit gaan oor die herinneringe wat jy daarmee skep. Dit gaan daaroor om om die tafel bymekaar te kom, te talm by ou stories en nuwes te maak,” sê James.
“Roodeberg was nog altyd op die kuns van versnyding geskoei,” het hy vertel. “Selfs die Rosé is ‘n versnit.”
Hy het vertel dat die span wyn maak om nou te geniet, maar ook met goeie verouderingspotensiaal.
Die eerste oesjaar wat kleiner vate in gebruik gekom het, was 1989.
Selfs ná 75 jaar bly Roodeberg standvastig in sy strewe na kwaliteit terwyl innovasie gul omhels word. “Die band wat Suid-Afrikaners met Roodeberg het, is besonders. Dit is ‘n wyn wat mense nie net drink nie – hulle deel dit, gee dit geskenk en gee dit aan en skep nuwe stories met elke bottel. En terwyl Roodeberg na die toekoms kyk, doen hy dit met dieselfde sorg en liefde wat dit nog altyd gedefinieer het, en gaan voort om wyne te maak wat meer as net ‘n ervaring is—hulle is deel van die lewe se grootste oomblikke,” het Sandy Goliath, Roodeberg se handelsmerkbestuurder vertel.
“In 1995 is die twee biljoenste bottel geproduseer en ons is trots op hoe die handelsmerk steeds groei,” het sy bygevoeg.
Die oudste wyn wat geproe is – die Roodeberg 1975 – is ‘n versnit van Cabernet Sauvignon, Shiraz, Pinotage, Cinsault en Tinta Barocca en het nog baie vrug. “Roodeberg is altyd Cabernet en Shiraz-gedrewe en sal altyd vier of vyf verskillende kultivar-komponente hê. Die afgelope paar jaar het hy Pinotage gehou, maar ook Cabernet Franc en Merlot ingebring en die Cinsault en Tinta Barocca begin weglaat.
Een van die ander wyne wat gaste kon proe en met middagete kon geniet, is die Roodeberg Black 2021. James het gesê: “Wanneer die Tandemuis, Kersvader, die Loch Ness monster en die Paashaas bymekaar kom, is die Roodeberg Black 2021 wat hulle sou drink. Dit sou dan al die legendes om een tafel versamel het,” het hy gesê.
Gaste het die Roodeberg Classic Rosé2024 met peuselhappies geniet ; daarna wildsvleis met haselneut en seldery saam met die Roodeberg Classic Red Blend 2022; toe varklies, met okkerneut en raap met die Roodeberg Reserve 2021 geniet. Die hoofmaal was vrywei beeshaas met geel aartappels en ‘n melkrolletjie wat met die Roodeberg Dr. Charles Niehaus 2020 geniet is. Nagereg van Valrhona, swartbessie en timurpeper is met die Roodeberg 2021 bedien.
Die 2022-oesjaar is tans op winkelrakke en die wyn word nooit dadelik nadat dit gebottelleer is, vrygestel nie. Dis tans Cabernet Sauvignon en Shiraz nou ook Petit Verdot, Tanat, Pinotage en Petit Syrah.