Jacques Bessenger is vanjaar as beste manlike byspeler in ’n TV-drama (vir Hartklop) en beste akteur in ’n TV-drama (vir Koek) by die Silwerskerm-toekennings benoem.
Dis geen wonder nie, want in kykNET se oornag-sensasiedramareeks Een keer om die son bewys hy weereens hoekom hy een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde akteurs is, en lewer ’n vertoning as Ruan van Wyk by wie gehore diep aanklank vind.
Een keer om die son is Ivan Botha en Donnalee Roberts se eerste TV-reeks wat hulle onder die vaandel van 17 Films vervaardig het. Bekend vir trefferflieks, soos Pad na jou hart, Stroomop, en Blindelings, het hulle hierdie keer die medium van televisie aangepak om die komplekse verhaal van die Van Wyk-gesin te vertel. Die storie ontvou oor 12 episodes, wat elkeen ’n maand in die lewe van die Van Wyk-gesin verteenwoordig, wat hul bittersoet reis deur liefde, verlies en innerlike stryd vasvang.
Die kern van die verhaal is die skielike dood van Lani van Wyk, wat haar man, Ruan en hul drie kinders laat worstel met hul hartseer en die vraag of Lani se dood selfdood was. Bessenger, wat die afgelope paar jare in geliefde reekse soos Dwaalster, Hartklop, Donkerbos en Koek te sien was, bring diepte na Ruan, ’n neurochirurg, wat sukkel om sy veeleisende loopbaan met die emosionele behoeftes van sy gesin te balanseer.
Soos die storie ontvou, kom Ruan se soeke na antwoorde oor Lani se verlede en sy beherende kant na vore, veral in sy verhouding met sy twee ouer kinders. Sy eie tekortkominge as man en pa neem dan die middelpunt, wat Een keer om die son ’n moet-kyk vir aanhangers van aangrypende, opregte drama maak.
Karlien Meiring het meer by Jacques oor sy reis om die son as Ruan gaan uitvind:
Wat was die uitdagendste aspek om Ruan te speel, en wat hoop jy neem die gehoor weg van sy storie?
Dat hy met sy vrou se dood moet deal en ter wille van sy familie, homself bymekaar moet hou. Dit was uitdagend om vir drie maande met daardie aspek van sy storie se emosies te sit en seker te maak dat dit eg en toeganklik vir die gehoor is. Ek hoop kykers (en in die besonder, mans) sien dat dit oukei is om ongemaklike gesprekke oor mense se emosionele welstand te hê. Veral in jou gesin moet julle vir mekaar kan sê: “Ek is nie oukei nie en dit is hoekom.”
Een keer om die son was ’n oornagsensasie. Hoekom dink jy vind kykers aanklank by die storie en karakters?
Ek’s so bly mense vind aanklank by hierdie storie, dit kon maklik kykers vervreem het. Miskien is ons nou as ’n gemeenskap op ’n plek waar ons oor ongemaklike onderwerpe kan praat. Om ’n geliefde te verloor, is ’n bitter moeilike en dikwels eensame proses. Mense kan vereenselwig met hoe Lani se dood die karakters se lewens omvergooi en hoe hulle daarna probeer om met hul lewe aan te gaan. Ek dink die reeks maak ’n groot indruk op kykers omdat dit nie doekies omdraai nie en die situasie wys soos wat dit regtig is – die reeks hou ’n groot spieël vir die gemeenskap op. Ek glo mense wil so na hulself kyk, hulself beter verstaan en seker maak dat hulle en hul gesinne sterk genoeg is om die lewe aan te pak.
Hoe was dit om saam met so ’n talentvolle rolverdeling te werk, veral in sulke emosionele tonele?
Wat ons doen, is ’n spansport, jy kan dit nie op jou eie doen nie. As jy ’n goeie teks het en saam met ’n sterk groep akteurs werk, is jou kop deur. Dit was so maklik om saam met almal te werk omdat die hele span soveel na die tafel toe gebring het en heeltemal oop vir die proses was. Dit het met tye heeltemal onwerklik gevoel dat Joanie Combrink en Albert Maritz my ouers speel, hulle het soveel gravitas. Dit was ook ’n groot voorreg om weer saam Jana Kruger, wat my vrou gespeel het, te werk. Ek ken haar al van universiteitsdae af en het baie respek vir wat sy doen. Die jonger klomp was net so talentvol en wonderlik, hulle het heeltemal ingekoop!
Ruan het baie spesifieke verwagtinge vir sy kinders se toekoms. Het jou ouers sterk opinies oor jou loopbaankeuse gehad?
Ek is baie dankbaar dat my ouers my loopbaankeuse ten volle ondersteun het, want daarsonder sou ek nie hierdie pad kon stap nie. Dis al wat ek wou doen vandat ek in graad 3 was en die meeste mense om my het dit beaam, so hulle is grootliks to blame vir my werk! Gelukkig het my ma-hulle vroeg gesien ek’s passievol oor toneelspel en dat ek ’n natuurlike aanvoeling daarvoor het.
Die reeks bevat swaar temas, soos verlies en geestesgesondheid. Wat het jou rol as Ruan jou as akteur en as mens geleer?
As akteur, was dit om meer vreesloos te wees, veral wanneer ek moeilike tonele moet aanpak. Wanneer jy ’n moeilike en ingewikkelde emosie moet ervaar, dan moet jy inspring en dit net doen!
As mens het hy my geleer dat jy met al jou tekortkominge moet vrede maak en meer geduld met jouself en ander moet hê. Op die ou einde van die dag is mense al wat jy het. As jou mense-verhoudinge nie in plek is nie, gaan jy wankel.
Een keer om die son is Dinsdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Jana Kruger oor ‘Een keer om die son’ se komplekse Lani