Die musikante en lewensmaats Esté en Lourens Rabe, wat vroeër as die Bottomless Coffee Band bekend gestaan het, het as studente op Stellenbosch ontmoet. Lourens was op pad om ’n finansiële ontleder te word en Esté ’n aktrise. “Ons het gou geleer dat al twee van ons van jongs af eintlik droom om musiek te maak, dit was dié een ding waarmee ons al twee sonder twyfel kon saamstem dat dit ons lewenspassie is. Die ding wat jy sal doen en aanhou doen, selfs al gaan dit nêrens nie en jy maak geen geld nie,” sê Esté.
Die paar het in 2013 getrou en al twee het begin werk aan hul onderskeie loopbane terwyl hulle saam musiek in hul vrye tyd gemaak het. Kort voor lank het die navrae vir optredes egter meer geraak as wat hul verlofdae toegelaat het en hulle het toe besluit om die kantoor vir die verhoog te verruil.
Hulle is vanjaar al tien jaar getroud, sewe jaar voltyds in die musiekbedryf en hulle het onlangs ’n splinternuwe album Prediker uitgebring.
“Jare gelede het musikante hul tyd gevat om hul musiek in meesterstukke te omskep en dit met sorg aan hul gehoor te oorhandig – ons wou weer voel hoe dit gevoel het,” sê Lourens. “Dis al omtrent vyf jaar wat ons aan hierdie album werk en skryf, en ons voel dit is ’n samesnoering van alles wat ons was, is en wat ons geword het. Ons opwinding om dit aan die wêreld te gee sodat elkeen dit hul eie kan maak, is oorweldigend,” voeg Esté by.
Die album Prediker bestaan uit 16 oorspronklike Afrikaanse liedjies.
Oor een van dié nuwe enkelsnitte “Oos Wes Tuis Bes”, bring RAAF juis hulde aan die aanhangers wie vir hulle, te midde van lang toere en baie ure op die pad, hul ware tuiste geword het. RAAF speel byna 150 konserte jaarliks, met byna 80 000 km per jaar op die pad tussen toere. Vir hulle is dit juis die lewe op die pad wat hul loopbaan die moeite werd maak.
Meer oor RAAF:
RAAF is die Afrikaanse betekenis van hul familienaam, Rabe. Vandat hulle in 2013 getrou het, het hulle reeds daaraan begin dink dat dit slim sal wees om die naam van die band meer tuis te bring. Hul studentedae was verby en hul musiekloopbaan het ernstig vlerke begin kry, maar die lewe is besig en tyd vlieg, en voor hulle weet was dit 2020. Die inperkingstyd was vir dié twee ’n goeie tyd vir refleksie en skryf. Dis ook toe hulle navorsing oor die betekenis van hulle van, Rabe, begin doen het. Hulle lees toe dat ’n raaf ’n boodskappervoël is, die grootste in die songbird-familie; dat hulle een maat vir ’n leeftyd kies; en dat hulle territoriaal is, kan speel, kan leer en kan pret hê.
Hierdie beskrywing het hulle laat besef dat hul familienaam eintlik nog altyd beskryf wat hulle as ’n loopbaan doen en die perfekte naam is om hierdie reis tuis te bring. Só het die Bottomless Coffee Band RAAF geword.
Karlien Meiring het meer oor die musiekduo se reis tot nou gaan uitvind.
Hoe het julle musiek ontwikkel sedert jul vroeë dae as ’n band?
As ’n Stellenbosch studente-band, was ons in die hart van wynfeeste en wynland-partytjies. Aanvanklik was ons klank redelik akoesties en folky. As jy egter eg aan jouself as kunstenaar is, sal jy aanhou ontwikkel. Ons en ons musiek het oor die jare meer volwasse geraak. Daar kom ’n punt wat jy besef “hierdie is nou my werk en ek het ’n verantwoordelikheid teenoor myself en die mense vir wie ek skryf.” Dit laat jou vinnig alles baie ernstig opneem en ons is nog altyd getrou daaraan om die ruimte te skep waarin die heel beste weergawe van onsself en ons werk kan wortel skiet en groei.
Ons het reeds van die eerste dae geweet waarvoor ons staan en hoekom ons musiek maak, maar dit vat lank om jou eie klank en stem te vind. Dis ’n kombinasie van alles waaraan ons blootgestel is en is uiteraard ook ’n samevoeging van dit waarin ’n mens sterk is; my teateragtergrond met ’n fokus op lirieke en woorde, en Lourens se rock ’n roll-agtergrond met ’n fokus op musikaliteit en melodieë.
Jy moet ook eers ’n paar jaar se lewensondervinding hê om oor onderwerpe te skryf waarby diverse gehore werklik kan aanklank vind.
Ons het ook stelselmatig meer in Afrikaans begin werk. Dit is ons moedertaal, so ons wou baie verantwoordelik daarmee omgaan – daar is genoeg oppervlakkige Afrikaans daar buite – ons wou iets met diepte en kreatiwiteit skep. Ons voel Afrikaans verdien dit.
Buiten dit, het ons vermaak begin verstaan en wil ons met elke vertoning iets vir mense gee wat hulle vir altyd in hulle harte kan bêre – ’n ervaring. By ons konserte beleef jy dus elke emosie en so bietjie magic.
View this post on Instagram
Kan julle ons deur jul liedjieskryf en kreatiewe proses lei? Hoe werk julle saam om musiek te skep?
Kreatiwiteit is mos maar ’n muse. Jy kan dit najaag, maar jy kan dit nooit werklik vang nie. Dit is soms lukraak en ander kere baie gestruktureerd. Soms sal ons half-klaar idees na mekaar toe bring en dit saam klaar skryf, ander kere sal ons saam aan idees begin werk en dit apart gaan klaar maak. Ons werk baie lank daaraan om ons lirieke en melodieë so goed as moontlik te kry vir wat die betrokke liedjie nodig het. Ons herskryf die lirieke soms drie of vier keer om seker te maak dit sê wat dit moet.
In die studio vat Lourens voor – hy is ’n baie natuurlike vervaardiger met ’n uitstekende oor. Boonop kan hy amper enige instrument speel, so amper elke instrument wat ’n mens hoor is deur hom gespeel. Ek speel gewoonlik die klavier-dele; en dan sing ons saam.
Ons en ons RAAF-span werk dan saam aan foto’s, kunswerke en musiekvideo-konsepte vir elke liedjie. Elke produksiedag eindig gewoonlik met ’n wyn-drink sessie. Ons is maar feestelike wesens, ons twee. Altyd daarop uit om alles te vier.
Wie is van jul grootste musikale invloede?
Ons luister baie breed en ons wil graag ’n waardering vir elke era en genre hê. Ons word baie deur rock ‘n roll asook teatrale, melodiese musiek beïnvloed. Ons vind dus baie aanklank by Queen, Dave Matthews Band, Jimi Hendrix, Bob Dylan, Johnny Cash, Elton John, Sting, Johnny Clegg, Paul Simon, die lys kan lank raak – nie net noodwendig vir hul musiek nie, maar ook vir dit waarvoor hulle as musikante gestaan het of steeds doen.
Hoe handhaaf julle ’n gesonde balans tussen jul musiekloopbaan en persoonlike verhouding?
Ek dink dit is belangrik om gesonde grense te stel wanneer ’n mens as ’n paartjie saamwerk. Ons praat nie ná vyf uur die aand oor werk nie. Ons probeer gereeld date nights te hou om by mekaar uit te kom. In ons privaat lewe is ons redelik happy go lucky en ons probeer om nie die lewe te ernstig op te neem nie.
Daarenteen is ons as kunstenaars baie gedrewe en hiper-gefokus. Ons benader dit soos enige ander korporatiewe werk. Ons staan vroeg in die oggende op en begin werk. Wat ons doen as RAAF is nie net vir onsself is nie, maar ook vir die luisteraars. Ons voel verantwoordelikheid teenoor die mense wat bereid is om geld te betaal om ons musiek te luister en vertonings by te woon.
Ons het wel geleer dat die avontuur meer belangrik as die eindbestemming is. Ons moet leer om soms te stop en die uitsig te geniet. Hou op jou mure hoër bou en maak jou tafel langer; die lewe is mooier met meer mense daarin. Dit is maar eintlik ook die boodskap van ons musiek.
As jul musiek ’n klankbaan vir enige rolprent of TV-program kan wees, wat sou dit wees en hoekom?
Genade … RAAF dek nogal diverse genres, so miskien ’n aksie-avontuurfliek soos Top Gun. Ek wil in my binneste baie graag ’n vegvlieënier geword het – só as ek nie dit kan doen nie, kan ek seker die klankbaan verskaf!
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Wynand Strydom oor sy jongste enkelsnitte