Deur Maryke Roberts
Vanjaar se kompetisie, die enigste kompetisie ten volle toegewy aan Sauvignon Blanc, is weereens met die ondersteuning van die Top 10-titelvennoot FNB en die platinumvennoot EVER Solutions aangebied. Van die tien kampioenwyne is ses van die 2022-oesjaar, drie van 2021 en een van 2020. Die wenners kom van vele uiteenlopende streke soos Bonnievale en Worcester, Durbanville en Kaapstad, Stellenbosch se Polkadraai-heuwels, Elgin en Elim.
Vanjaar se Top 10 (in alfabetiese volgorde) is: Bonnievale The River Collection Sauvignon Blanc 2022, Cilmor Winemaker’s Selection Sauvignon Blanc 2021, De Grendel Sauvignon Blanc 2022, Diemersdal Sauvignon Blanc Reserve 2022, Kleine Zalze Vineyard Selection Sauvignon Blanc 2022, KWV Cathedral Cellar Sauvignon Blanc 2020, Paul Clüver Village Sauvignon Blanc 2022, Spier 21 Gables Sauvignon Blanc 2021, Strandveld Pofadderbos Sauvignon Blanc 2022 en Zevenwacht Z Collection Sauvignon Blanc 2021.
Die paneel vir vanjaar se beoordeling was Dr. Winifred Bowman (Kaapse Wynmeester en sameroeper van die beoordelaarspaneel), Fiona McDonald (wynbeoordelaar en -skrywer), Johann Fourie (hoofwynmaker by Benguela Cove), Morgan Steyn (wynmaker by De Grendel), René Groenewald (Kaapse Wynmeester) en aspirant-beoordelaar Mahalia Kotjane (assistent-wynmaker by Lievland).
“Vanjaar se Top 10 is opwindend en besonder treffend,” sê RJ Botha, Sauvignon Blanc SA se voorsitter. “Dit is ongelooflik hoe ons wynmakers hul besonderse terroir benut om hul eiesoortige style van Sauvignon Blanc te produseer. Die 102 produsente wat ingeskryf het verdien lof vir die stempel wat hulle afdruk in die style en geurprofiele uit verskeie terroirs en streke. Hierdie jaar word weer eens geken aan die uitstekende balans van wen-wyne wat vir die eerste keer in die Top 10 verskyn, asook díe wat reeds voorheen hierdie prestasie behaal het,” sê Botha.
Sauvignon Blanc SA bevorder Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc plaaslik en internasionaal. ʼn Tegniese seminaar word op Woensdag 30 November 2022 in samewerking met die Departement Wingerd-en Wynkunde by Universiteit Stellenbosch gehou.
Die Concours Mondial du Sauvignon, die grootste en belangrikste internasionale kompetisie toegewy aan Sauvignon Blanc, vind vir die eerste keer in sy 14-jarige bestaan buite Europa plaas wanneer Sauvignon Blanc SA hierdie kompetisie van 13 tot 17 Maart 2023 in Franschhoek aanbied.
Stephan Claassen, FNB se provinsiale besigheidshoof in die Wes- en Oos-Kaap, het die Top 10-wenners gelukgewens wat steeds in ’n uiters wisselvallige en mededingende omgewing presteer. “Vir Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc om mededingend en volhoubaar in die wêreldarena te bly, is dit noodsaaklik dat ons voortgaan om hierdie wyne te vier én platforms te bied aan talentvolle produsente wat hulle in staat stel om hul vaardighede te slyp en ten toon te stel. Ons plaaslike Sauvignon Blanc-produsente maak deurlopend wyn van uitstekende gehalte,” sê Claassen.
Emanuele Bartolucci, Uitvoerbestuurder van EVER srl, het die wenners gelukgewens in ‘n videoboodskap uit Italië. EVER, ’n toonaangewende internasionale vervaardiger van hulpmiddels in die wynmaakproses sedert 1973, dryf sedert 2006 handel in Suid-Afrika.
- ’n Aanlynboekie met proe-notas van die Top 10 is gratis by www.sauvignonblanc.com beskikbaar.
- Koop die 2022 FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-versameling aanlyn via www.wineofthemonth.co.za
Lees ook: Volhoubaarheid die wagwoord met dié wyn