Lipstiffie: Vind die perfekte kleur vir jou vel
Bepaal jou velondertoon
Jou vel se ondertoon moenie met jou velkleur verward word nie. Terwyl die natuurlike kleur van jou vel dít is wat jy kan sien as jy in die spieël kyk (met ander woorde hoe lig of donker jou vel is), verwys jou ondertoon na die skakering onder jou vel se oppervlak. Dit bepaal watter kleur kledingstukke, hare en juwele die beste by jou pas – en dieselfde geld ook vir grimering.
Maak seker jy watter van die drie velondertone jou die beste beskryf.
Koel ondertoon
Hierdie eienskappe beskryf jou goed:
- Jou vel het ’n rooi, pienk of blouerige skynsel.
- Die are aan die binnekant van jou pols vertoon blou.
- Silwer juweliersware lyk die mooiste op jou.
- Jy brand rooi as jy tyd in die son deurbring.
Kies hierdie kleure:
Nes jou velondertoon behoort ’n lipstiffie met ’n koeler ondertoon pragtig by jou te pas. Jy wil dus kleure met blou of perskleurige ondertone hê – dink byvoorbeeld aan ’n skakering van dieppruim en kersierooi (in plaas van ’n rooi wat meer neig na oranje). As jy ’n natuurliker kleur verkies, stel ons voor jy fokus op roos- of pienk vleeskleurige skakerings.
Lees nog: Skoonheidsprodukte: Regpak, wegpak en uitgooi
Warm ondertoon
Hierdie eienskappe beskryf jou goed:
- Jou vel het ’n goue, gelerige of olyfkleurige skynsel.
- Die are aan die binnekant van jou pols vertoon groenerig.
- Goudkleurige juweliersware lyk die mooiste op jou.
- Jou vel word bruin eerder as rooi as jy tyd in die son deurbring.
Kies hierdie kleure:
Warm skakerings is perfek vir jou gelaat en sal jou vel waarskynlik die beste komplementeer. Hier werk lipstiffies in kleure van baksteenrooi-, terracotta-, koper- en oranjerooi die beste.
Neutrale ondertoon
Hierdie eienskappe beskryf jou goed:
- Jou vel het ’n pienk en geel skynsel.
- Die are aan die binnekant van jou pols vertoon blou én groen.
- Jy lyk goed in silwer- en goudkleurige juweliersware.
Kies hierdie kleure:
Daar is werklik nie ’n reg of verkeerd vir diegene met ’n neutrale ondertoon nie – enigiets van ligte vleeskleurige skakerings tot ’n dieprooi sal lieflik lyk. Hier kan dit wel tot jou voordeel wees om jou velkleur in ag te neem. As jy ’n ligte vel het, sal jy goed met ligpienk skakerings lyk. ’n Medium velkleur gaan uitstekend gepaard met ’n lipstiffie in skakerings van ligpers, terwyl ’n donkerder vel pragtig met bessiekleurige lippe lyk.
Hier is ’n paar interessante feite oor lipstiffie
- Het jy geweet dat destydse lipstiffie met bestandele soos dierevet, skaap sweet en die beenmurg van osse gemaak was? Een bestanddeel wat egter steeds gebruik word is visskubbe wat aan lipstiffie sy glans verleen.
- Hoewel ander skoonheidsprodukte gedurende Die Tweede Wêreldoorlog gerasionaliseer was, was lipstiffie egter steeds geproduseer, omdat Winston Chruchill geglo het dat dit mense se gemoedere ’n hupstoot gegee het.
- In die vroeë 1500’s was daar geglo dat lipstiffie oor magiese kragte beskik het. Selfs Koningin Elizabeth het dit geglo en sy het na bewering op die dag van haar dood oor ’n sentimeter dik se lipstiffie aangehad.
Lees nog: Ons top tien-wimperwenke