Ons lewe in ’n Franse kasteel: Hoofstuk 10 – FINAAL deur Sunita McDonald
Haal in met die vorige hoofstukke
Ons lewe in ’n Franse kasteel: Hoofstuk 10 – FINAAL
Bonjour so vir oulaas uit die suide van Frankryk!
Daar is tye in die lewe wanneer drome waar word en ’n mens kan voel asof jy in ‘n sprokie leef. Dan is daar tye in die lewe wanneer dit kan voel asof die vloer onder jou voete uitgeruk is en die wêreld om jou ineen gestort het. Vir een van Château de Capelle se inwoners was dit letterlik so verlede week…
Ons het al ’n paar weke lank gereeld die swart katjie in ons tuin gewaar. Na ’n ruk het ons gesien die kat verdwyn elke aand in die kasteel deur ’n lugopening onder die eetkamer se vloer.
Aanvanklik het ons gedink die kat behoort dalk aan iemand van ‘n nabygeleë huis en is bloot nuuskierig oor die groot ou huis. Met verloop van tyd het ek egter opgemerk dat die kat baie dun om die middel lyk. Ons het toe die kat begin kos gee in die aande. ‘Hy’ was maar sku en wantrouig aan die begin, maar het ons uiteindelik nader toegelaat en ook begin wag vir sy kos elke aand op die patio.
Intussen het die werk aan die hoofhuis voortgeduur. Ons het ’n wankelrige muur uitgebreek en die ou plafon in ’n kamer verwyder sodat ons ’n houtbalk kon vervang wat in die verlede waterskade opgedoen het. Dit het ’n groot, gapende opening gelaat en een middag hoor ons toe die kat miaau bokant ons in die solderkamer. My man het opgeklim met ’n leer en ’n verrassende ontdekking gemaak! Ons het besef dat ons al die tyd die kat se geslag verkeerd geraai het: ‘hy is toe eintlik ’n ‘sy’ en ook die trotse mamma van twee pragtige kleintjies van ongeveer vier of vyf weke oud.
Die mamma kat kon steeds met akrobatiese vernuf by haar kroos uitkom, maar die kleintjies was gestrand. Ons het die katjies in ’n kartondoos gesit en versigtig verwyder van die klein stukkie oorblywende vloer wat tussen hulle en die afgrond gelê het. Mamma kat was egter nie in haar skik nie en die oomblik wat ek my rug gedraai het, het sy die een kleintjie gegryp. Sy het hom in ’n stewige nekgreep vasgevat en weer boontoe verdwyn, weg van die ‘ontvoerders’ af. Ons het haar probeer terug lok met die ander katjie, maar die gyselaarsonderhandelinge het nie goed verloop nie. Ek het nie die hart van ’n booswig nie en het mamma te jammer gekry om haar en haar kinders te skei.
Ons het ingegee op die ou end en die ander katjie ook teruggegee met ’n skietgebedjie dat hulle veilig sal wees en nie per ongeluk die drie verdiepings na onder val nie. Op hierdie stadium hou ons maar net aan om hulle te voer in die soldervertrek en het dit so veilig as moontlik probeer maak met stukke pleisterbord oor gapende openinge! Ons hoop om uiteindelik haar vertroue te wen en hulle almal ‘n veiliger tuiste te gee in een van die buitegeboue. Natuurlik was ons tydelike woonstel ook ’n buitegebou gewees … en is dit nou nie ’n handige toevalligheid nie? Ek reken ek het nét die regte ‘buitegebou’ in gedagte met ’n kaggel, sagte beddens, baie aandag en liefde.
Die ontdekking van die oulike katjies was net betyds vir my dogtertjie se derde verjaarsdag. Sy was in vervoering oor die sagte bondeltjies en dit is die hoogtepunt van haar en haar boeties se dag deesdae om te gaan loer wanneer ons hulle kos uitsit. Hulle was onverwagte verjaarsdaggaste tydens grendeltyd waar ons geen gaste verwag het nie, maar ’n wonderlike verrassing!
Ons het egter ook ander onverwagte gaste op ’n warm Sondagmiddag ontvang. ’n Bejaarde egpaar en hul vriendin het uit nuuskierigheid in die rylaan opgestap tydens ’n middagwandeling met hul honde. Die kinders was vreeslik opgewonde om my en my man te kom roep met die nuus dat daar “regte, egte mense” op ons rylaan was. Hulle woorde het my weer laat besef dat ons duidelik al vir weke in grendeltyd en isolasie vasgevang was!
Ons het toe hierdie ‘regte, egte mense’ tegemoet geloop (dis ’n lang rylaan), ons twee meter afstand gehandhaaf en gevra of ons kan help. Hulle was blykbaar net so opgewonde om regte, egte mense in die ou huis te sien wat soveel jare leeg gestaan het. Montrejeau is nie ’n groot dorpie nie en dit blyk dat die meeste inwoners mekaar ken en hulle wou nou meer uitvind oor ons gesin. So staan ons toe en gesels … vir ’n uur en ’n half!
Die kinders het gaan roomys haal en uiteraard vir die gaste ook aangebied. Die ou man het dit van die hand gewys, maar die twee dames het dit dankbaar aanvaar. My man verdwyn toe in die huis en kom weer te voorskyn met ’n koue bottel wyn en tóé praat hy die oom se taal – letterlik en figuurlik! Ons het al geleer dat Frankryk nie verniet geassosieer word met wyn nie!
So sit die oom toe daar op die stootskraper, glas wyn in die hand. Die twee tannies staan en gesels met my, roomys en wyn in die hand. Hulle honde lê in die skaduwee van ons groot eikebome terwyl ons sommer nog ’n hond uit ’n bos uit gesels (in Frans!). In nabetraging is dit bykans ongelooflik dat so ’n heerlike, gesellige kuiertjie kon begin uit blote nuuskierigheid.
Tydens die gesprek het ek genoem dat ons dogtertjie later daardie week verjaar. ’n Paar dae later was ek baie verras om ’n geskenk op ons drumpel aan te tref met ’n handgeskrewe briefie van die twee tannies. So ’n pragtige gebaar, en ons voel werklik geseënd met die mense rondom ons. Ons sien uit om meer van die dorp se inwoners te leer ken en nuwe vriende te maak.
Die grendeltyd het uiteindelik tot ’n einde gekom in Frankryk. Tyd sal leer of dit die regte ding is om te doen, maar op die oomblik geniet ons net die vryheid om nie ’n verklaring vir elke uittog te moet maak nie. Ons het ten spyte van die grendeltyd steeds naweke in ons dorpie rondgestap en verder verken binne die toelaatbare radius van ons huis. Ek het sommer tuis gevoel toe ek ’n wa teëgekom het, wat ek ‘die ossewa’ gedoop het. Dit het my aan ’n ou wa laat dink wat in my tuisdorp in Suid-Afrika gestaan het.
In Hoofstuk 6 het ek genoem dat ons nie weet hoe Coronavirus die wêreld verder gaan affekteer nie. Verlede week het ek die skoknuus ontvang dat tien tydskrifte in Suid Afrika hul publikasies gaan staak en van die rakke af gaan verdwyn. Ek het nooit kon dink dat ’n tydskrif waarmee ek grootgeword het in die huis, ook ’n slagoffer sou word van die huidige chaos in die wêreld nie.
‘Ons lewe in ’n Franse kasteel’ was ’n wonderlike storie om met rooi rose se lesers te kon deel en dankie aan elkeen wat die pad tot hier saam met ons gestap het en ook verder stap op ons Facebook groepie. Ons storie het nog ’n lang pad om te gaan en my hart is seer dat rooi rose nie die pad saam met ons kan voltooi nie. Om die waarheid te sê, dis hier waar my oë begin traan en my woorde begin opdroog …
Dis die einde van ’n era en laat ’n leemte in Afrikaanse joernalistiek. Aan Catherine Schenck, Digitale Redakteur, en die res van die rooi rose-span: Baie dankie vir die geleentheid om vir julle lesers te kon skryf en vir al julle harde werk oor die jare. Ek beplan om rooi rose in my tuin te plant om my te herinner aan die stukkie pad wat ons kasteel saam met julle gestap het. Intussen stuur ek ’n virtuele bos rooi rose aan elkeen van julle!
Byt nou een van daardie stingels tussen julle tande vas en tango kop omhoog na die volgende uitdaging, want ek glo nuwe deure sal oopgaan! Ons sien uit om julle in die toekoms te verwelkom by Château de Capelle … en ons deur staan altyd oop vir julle!
Au revoir en tot wedersiens! xx
As jy nog foto’s en nuusbrokkies van Sunita en Andrew se werk by die Château de Capelle wil sien, besoek gerus hul facebook-groep, The Chronicles of Château de Capelle