Kleinkinders oor die grense Deur Cornel Dunn
Ek onthou die dag toe my selfoon in die bank lui met die klank van ’n pasgebore babaseuntjie wat huil. “Congratulations ouma,” het my skoonseun uit Wallis laat hoor. Ek is summier die deur gewys as gevolg van die bank se selfoonbeleid. Buite het ek in trane voor omstanders gestaan. Ek het ’n nuwe titel gekry. Nuwe lewe en nuwe moontlikhede. Dit was 8 jaar gelede. Min het ek toe geweet van die vele verliese wat om die draai vir my gewag het, en die mate waartoe hierdie gawe dit sagter sou maak.
Ek is so dankbaar dat my ma en pa nog vir Barkley kon ontmoet. Ek het die liefste foto’s van waar hulle met hom op die mat speel. Hulle is nie lank na sy geboorte nie, oorlede.
Elkeen van die kleinkinders het sy of haar eie persoonlikheid en ouma neuk dikwels op. Dit het vir my lank geneem om met my kleinseun hier naby my ’n band te bou. Rohlandt is ’n 6-jarige ou siel met meer insig as sy ouma. My oorlede vriend het die kuns bemeester om sy hart te wen en Rohlandt wou hom altyd onder sy vlerk hou. As ek gaan kuier het sonder Wayne, was die vraag altyd:” Waar is Wayne?” Indien hy agtergekom het dat ek sonder sy speelmaat kom kuier het, is ek summier die deur gewys.
Dit het baie kilometers en tyd gekos om hierdie jongman se hart te wen. Toe ons liefste Wayne gesterf het, was hy vol wysheid. Een Sondagmiddag het hy my gevra om te gaan stap. Hy sê toe: “Ouma ek mis vir Wayne. “ Ek antwoord toe dat ek hom ook mis. “Ek weet hoekom hy dood is, maar dis ’n geheim,” antwoord hy toe. “Hy het gerook.” Skielik gaan al die alarms af want hierdie ouma is rooi-wang skuldig.
Hy het ook sy beginsels. Eendag toe hy liggies slae kry omdat hy stout was, stap hy buite na die tuin toe. Sy ma vra toe wat hy maak. “Ek bid vir die Here vir jou siel,” antwoord hy stuitig.
Toe die oorsese kinders kom kuier, sien ek ook die ander kleinkinders se persoonlikhede. Rohlandt slaan vir die Walliese kleinsus met ’n plastiek gholfstok oor die kop. Die opmerking van klein Barkley, die Walliese kleinseun, aan my seun – met sy swaar Walliese aksent: “He is very naughty. I will come back when he is 50.”
Met my laaste besoek aan Wallis, verloor ek weereens my hart op die twee kinders. Die vierjarige Daisy-Jane het die diepste kuiltjies en koringkleurige hare wat tot in haar middel hang. Sy lyk op ’n haar na haar pa – net met ’n rok aan. Haar ma maak gereeld twee verspotte bollatjies op haar kroon wat Daisy afrond met haar gunsteling sonbril. Sy is die ewige entertainer en hou hierdie ouma op haar tone. Daisy het ’n aansteeklike lus vir die lewe. Sy skater dikwels uit haar maag sodat haar ogies skrefies trek. Met Daisy kan ek maar my tonikum pille weggooi – sy is dit en nog meer.
Ouboet Barkley is die stil seun met die yslike potblou oë. Hy praat net as dit nodig is en dan is dit ’n mond vol wysheid. Hy stel belang in die planeet en politiek en sluk swaar aan religieuse beginsels. Hy kan in diep gesprek met jou gaan oor dinge wat hom raak – soveel meer as wat jy van hierdie klein seunslyfie sou verwag.
Barkley is trots Wallies, maar toe die Springbokke die wêreldbeker wen, moes ouma die wa deur die drif trek. Hy soek ’n Springboktrui met Siya Kolisi se handtekening. Hiermee behoort oums mos te kan help. Toe nie.
Een middag in Ruthin, Wallis, waar my kinders woon, vra Barkley om park toe te gaan. Hy is egter bang vir die boelies. Ouma trek summier haar velskoene aan en vat die jongman aan die hand. Dit gebeur toe inderdaad. Die tienerboelies weier dat Barkley op sy skaatsplank ry. Nadat hy uitgeskel is in die slegste taal, tree hierdie Suid-Afrikaanse ouma in en gee vir hulle ons weergawe van voertsek. Hulle het my nie verstaan nie, maar iets aan die lyftaal het gewerk. Hulle verdwyn toe soos mis voor die son. Barkley is duidelik beïndruk met my aksies en hierdie ouma vermurwe.
Ek het ’n smartieboks vol gekry. Elkeen met sy eie voorkoms en persoonlikheid. Klein Bia is beeldskoon met ’n soel velletjie en bruin oë. Sy is ’n regte dogtertjie en haar ouma se trots. Sy is ook versot op Afrikaanse musiek en besit haar eie CD’s van Snotkop en Afrikaans is Groot. Sy ken elke kunstenaar by die naam. Ek was onlangs na haar eerste konsert. Sy het elke passie geken en meesterlik uitgevoer, terwyl sy hartlik gehuil het. Sy aard bietjie na ouma. Ek doen dit ook mos. “Dit gaan fantasties, dankie,” snuif-snuif.
Ouma-wees is ’n seën maar ook ’n uitdaging. Om elke kind se eiesoortige persoonlikheid te verstaan, is nie maklik nie. Wat ek geleer het: Moenie inmeng nie. Sorg vir unieke alleentyd saam met elke kleinding. Skep ’n ritueel. My, Rohlandt en Bia se ritueel is sjokolade eiertjies. Daar is altyd eiertjies in hierdie ouma se handsak.
My geheim: Sakke vol onvoorwaardelike liefde. En verstaan dat Walliese dogtertjies nie praat van panties nie. Dit is knickers … Of soos Rohlandt tereg sê – it are not a knickers it are a pêntie!
Vir nog pitkos, loer hier