Help jou kind dié oorgange baasraak deur Mariette Snyman. Foto’s Pexels
Wanneer ’n kind die eerste keer “groot skool” toe gaan, in graad 8 deur die hoërskool se hekke stap, of ná skool begin werk of studeer, maak ons ’n ophef daarvan. Ons begryp watter aanpassing dit verg en probeer help waar ons kan.
“Dis egter nie die enigste groot spronge wat ’n kind moet maak nie,” sê dr. Lorna Geer, voorligtingsielkundige van Centurion. “Sommige oorgange is minder ooglopend.”
Die belangrikste oorgange
Lorna beskryf elke oorgang en die uitdagings wat dit inhou:
1 Wanneer kinders dagsorg of kleuterskool toe gaan, bring hulle skielik ’n groot deel van hul dag buite die ouerhuis deur – sonder die ouers en saam met ander volwassenes en kinders. Dit kan ’n uitdaging wees, maar dis gewoonlik in ’n kleinerige omgewing met min veranderlikes, en die losmaakproses vind in kleiner en gekontroleerde stappe plaas. Die oorbeweeg na laerskool word vergemaklik omdat die kind reeds ’n mate van impulsbeheer, onafhanklikheid van die ouers en sosiale vaardighede aangeleer het, maar dis steeds ’n gróót stap vanuit ’n bekende en veilige omgewing na ’n onbekende en baie groter skoolomgewing.
2 Die oorgang van gr. R na gr. 1 behels ’n skuif van informele na formele onderrig. In gr. R leer kinders speel-speel, en beweging speel ’n groot rol. In gr. 1 moet hulle lang tye stil en regop sit. Party kinders se liggaamspiere is nog nie voldoende ontwikkel nie – hulle was dalk “TV-kinders”, eerder as “klim-en-klouterkinders”. In gr. 1 kan hulle nie meer op hul arms lê as hulle moeg word nie en daar is minder rustyd ingebou.
3 Die oorgang van gr. 3 na gr. 4 is baie groot. Kinders begin die eerste keer klasse wissel. Instede van een juffrou en enkele vakke het hulle baie vakke en verskillende onderwysers. Boonop moet hulle toets en eksamen skryf – terwyl hulle teen tyd werk.
“In die wiskunde- en wetenskap-mentorskapprogram waarby ek betrokke is, moet wiskunde-angs baie keer aangespreek word. Keer op keer kom ons agter hoërskoolleerders se wiskunde-angs het reeds in gr. 4 ontstaan.
“Gr. 4 is ’n moeilike jaar, vergelykbaar met kinders in gr. 11 se ervaring, maar jong kinders kan hul swaarkry nog nie verwoord nie. Dit kan in maagpyn, huil- en woedebuie na vore kom. Ouers besef nie altyd die oorsaak van hierdie gedrag is angstigheid oor die eise wat aan die kind gestel word nie.
“Vir ouers is gr. 4 ook ’n uitdaging; die hoeveelheid huiswerk neem skielik toe. Ouers spring dikwels in en help huiswerk doen indien die kind nog nie gereed is om dit te hanteer nie. Jy kan dit makliker maak deur jou kind te leer organiseer. Wys haar hoe ’n kalender, dagboek en klasrooster werk. Help om toetsdatums, projekte, opdragte en take op die kalender aan te teken. Organiseer vakke op haar klasrooster volgens kleur. Ken afsonderlike kleure aan vakke toe en gebruik plastiekomslae met gekleurde kartonne vir elke vak se dokumente en opdragte. Leer jou kind om saans haar skooltas met die boeke volgens die volgende dag se rooster te pak.
4 As kinders hoërskool toe gaan, betree hulle weer ’n onbekende omgewing met ’n nuwe kultuur. Die gr. 7-seniors word nou die juniors in gr. 8. In my praktyk sien ek dikwels gr. 8-leerders wat swak lees en nie die werk kan baasraak nie. As ouers help deur byvoorbeeld die werk op te som sodat die kind net die opsomming kan leer, doen hulle hul kind geen guns nie. Die leesprobleem moet aandag kry, anders sneeubal die probleem wanneer die kind in gr. 10 kom.
“Adolessensie is die tyd wanneer verhoudings en hegte vriendskappe belangriker raak as die volwassenes in die kind se lewe. As ’n romantiese of vriendskapsverhouding skeef loop en die kind nie die nodige emosionele veerkrag het nie, beïnvloed dit sy of haar skoolwerk. Dis van toepassing op kinders se hele hoërskoolloopbaan en geld ook emosionele of ander probleme tuis. (hier kan jy Verstaan jou tiener se streke link)
Lees ook: 10 dinge wat jy nooit vir jou tiener moet sê nie
5 Die sprong van gr. 9 na gr.10, met keusevakke en weekliks meer periodes in elke vak, stel sy eie uitdagings. Die hoeveelheid werk en die diepte waarmee dit behandel word, neem aansienlik toe.
“In syfervakke soos wiskunde en wetenskap is die boustene wat nou gelê word van die grootste belang. As die bouwerk nie stewig is en bly nie, vou alles. Die nodige boustene moet in plek wees voor nuwe kennis daarop kan bou. Daarby moet kennis georden word voor dit geleer kan word. Die leerder moet die werk verstaan sodat sy verbande kan trek en dit in haar langtermyngeheue kan stoor, anders word dit sonder insig gememoriseer. Die getroue voltooiing van huiswerk – mét die nodige begrip – speel hier ’n groot rol.
“Vroeër kon leemtes in kinders se onderbou nog ingehaal word, maar vanaf gr. 10 verander die landskap. Weens tydsdruk kan onderwysers ’n stuk werk net een keer verduidelik, en nie vorige werk herhaal nie.
“Leerders wat nie aan die intensiteit van die werk gewoond is nie en swak studiegewoontes het, soos om slegs voor ’n toets of eksamenvraestel te wil leer, verstaan soms binne twee weke nie meer ’n snars van wat in die wiskunde- of wetenskapklas gesê word nie. Ouers reël ekstra klasse, en dis goed, maar normaalweg word net die dag se werk in die klasse behandel. Daar is nie tyd om terug te gaan en gapings in die kind se kennis te vul nie.
“Baie kinders skuif in gr. 10 van gewone wiskunde na wiskundige geletterdheid omdat hulle agter geraak het, of laat wetenskap staan en neem ’n ander vak. (Leerders kan nie wetenskap saam met wiskundige geletterdheid neem nie.)
“Ouers moet ook bewus wees van disculculia of wiskundige disleksie. Dit raak veral woordsomme en opdragte wat in woorde omskryf word. Hoewel daar onsekerheid oor die oorsaak is, is daar ook ’n duidelike genetiese tendens. ’n Opvoedkundige sielkundige kan dit deur assessering vasstel en die kind na die nodige kenners verwys.
6 Die ingrypendste skuif is seker van gr. 10 na gr. 11. Die werk in gr. 11 bou voort op die basis wat in gr. 10 gevestig is, en weer eens verdubbel die hoeveelheid werk. Gr. 11 en 12 vorm ’n eenheid. Normaalweg skryf die meeste matrieks in Juniemaand oor al die werk (insluitend dié van gr.11). Dan gaan hulle vir ’n kort rukkie terug skool toe, en dan kom die rekord- en eindeksamen.
“In gr. 11 pas ouers en onderwysers boonop druk op leerders toe om te presteer vir keuring en toelating tot tersiêre inrigtings. Leiers word verkies, wat tot talle kinders se stresvlakke bydra.”
Lees ook: Tieners en stilstuipe
Hoe maak ek my kind vir die verskillende oorgange gereed?
Studiemetodes
“Ouers moet seker maak hul kind se studiemetodes is geskik vir die vak en vir haar leerstyl. Studiemetodes vir die syferkundige vakke soos wiskunde, wetenskap en rekeningkunde verskil dramaties van dié vir leervakke. Wanneer leerders dit soos leervakke aanpak en net wil “opsom” en memoriseer, raak hulle vinnig agter.
“In ons wiskunde- en wetenskapmentorsskapprogram (www.basicsfirst.co.za) fokus ons daarop om kinders spesifiek in hierdie vakke met studiemetodes en -gewoontes te help. Later kan dié metodes doeltreffend vir studie in wetenskaplike, ingenieurs- en mediese rigtings aangewend word. Die program rus leerders ook toe om meer onafhanklik te leer, sonder die voortdurende teenwoordigheid van ’n onderwyser.
“In my ervaring is die begin van gr. 10 ’n goeie tyd om die regte studiemetodies te leer – tot aan die einde van gr. 9 verg wiskunde en wetenskap baie memorisering, maar dan verander dit. ’n Leerder moet kan onderskei tussen wat gememoriseer moet word en wanneer insig vereis word. Ou vraestelle is baie handig, maar nie net gou-gou voor ’n toets of ’n eksamen nie! Kinders moet tyd hê om na te dink oor hoe die werk gevra word. Wiskunde en wetenskap gaan oor patrone. Ou vraestelle kan jou wys watter aspekte aan mekaar gekoppel word en help om patrone te herken.”
Tydsbeplanning
“Leerders wat gewoond is om tot in gr. 9 nie in die klas op te let nie en net voor ’n toets of eksamen wil inhaal en leer, ontwikkel vanaf gr. 10 maklik ’n agterstand – selfs al is hulle intelligent, met ’n goeie geheue. Kinders moet die dissipline aankweek om smiddae ná skool te eet en ’n bietjie te rus, en dan begin huiswerktyd. Sosiale media, die TV en games moet eers wag. As daar buitemuurse aktiwiteite is, verskuif huiswerktyd net. Kinders moet seker maak hulle verstaan die dag se werk vóór hulle hul huiswerk afhandel. As hulle iets nie begryp nie, moet hulle vroegtydig hulp soek sodat hulle insigvrae ook kan beantwoord.
“In die algemeen is dit nie lekker om te studeer nie, en ’n studieroetine help jou om op jou tande te byt. Ouers kan nie te vroeg begin om ’n roetine te vestig nie. Van kleins af moet ’n kind weet: nou eet ons, en so laat is dit slaaptyd. Later sluit die studiegewoonte bloot hierby aan.”
Herhaling
“Die grootste fout wat ’n kind kan maak, is om nooit te leer nie. Die tweede grootste fout is om die dag voor die toets of eksamen te begin leer. Dit neem tyd en herhaling om inligting vanaf die korttermyngeheue na die langtermyngeheue oor te plaas.
“Navorsingsresultate wys ons vergeet ongeveer 70% van alle inligting binne 24 uur, en 90% binne ’n week – herhaling help dit voorkom. Maar om iets tien keer na mekaar te herhaal, is nie doeltreffend nie. Doen eerder twee dae lank elke dag twee herhalings, nog een ’n week later en dan ’n herhaling net voor die toets.”
Gapings in onderbou
“Gapings in onderbou kan ontstaan wanneer onderrig ontoereikend was of weens ander oorsake, soos wanneer ’n sensories en/of emosioneel sensitiewe kind “toeslaan” omdat die onderwyser baie kwaai is of op die kinders skree. Gapings moet geïdentifiseer en herstel word voordat nuwe werk verstaan en onthou kan word.”
Vroeë opsporing van probleme
“Kinders het die beste kans wanneer onderwysers reeds ná drie maande in gr.1 agterkom dat hy of sy met wiskunde, spel of lees sukkel. Hindernisse in wiskunde, soos spesifieke agterstande, disleksie of diskalkulie, kan geïdentifiseer word deur ’n diagnostiese toetsie in gr. 3 te doen en die kind se skoolwerk te analiseer. Tydige hulp voorkom dat kinders in gr. 4 uitsak indien die basiese boublokke nie vasgelê is nie. Sekere opvoedkundige sielkundiges fokus hierop ([email protected]).”
Hegte vriendskappe
Hegte vriendskappe verhoog ’n kind se selfbeeld en beskerm ’n tiener teen gevoelens van depressie. Vriendskappe waarin kinders gesien word vir wie hulle werklik is, is waardevoller as die aantal vriende. Tydens adolessensie is goeie vriende dikwels belangriker as volwassenes om die kind deur ’n moeilike tyd te help, veral ná ’n stresvolle gebeurtenis, soos om ’n toets te druip. Aan die ander kant voel dit vir ’n tiener na die einde van hul wêreld as hierdie vriendskappe skipbreuk ly.”
Lees ook: Begaafde kinders sukkel ook