Sjef Snoekie Hoofstuk 12: Alles in ’n ry deur Martie Swanepoel
“Hoekom dra jy ‘n sjefsbaadjie?” vra die soufflé.
“Want ek is ‘n sjef. Eintlik is ek ‘n intern,” borrel die eerlikheid oor Snoekie se lippe.
Eerlikheid is altyd die maklikste, het haar pa haar geleer. Voordoenerigheid gaan jou een of ander tyd in ‘n hoek vasdruk, glo hy.
“Het julle nie kelners nie?”
Carlotte grawe in haar sak vir ‘n gesteriliseerde servet en begin die messegoed blink vryf.
Snoekie merk op sy het die nagereg-lepel gemis. Sy buig vooroor en gee dit vir die vrou aan. Sy pof op van onthutsgeit.
“Waar is die kelner wat my laas gehelp het?” Sy vra nie, sy beveel.
“Wat was sy naam?” Snoekie is die onskuld vanself.
“Weet jy hoeveel restaurants besoek ek in ‘n jaar? Hoeddehel moet ek sy naam onthou? So ‘n skralerige enetjie. Met ‘n snor, dink ek.”
Snoekie gooi die sak patats uit.
“Wel, ek gaan jou vanaand bedien. Ek is jou sjef en jou kelner.”
Sy plaas die spyskaart voor die knorpot. Dié snork verontwaardig en kyk nie daarna nie.
“Waar is daardie maer kelner met die baard?”
“Ek dog u sê hy het ‘n snor gehad?”
Die vrou pof nog groter op.
“Ek wil ‘n ordentlike kelner hê!”
Snoekie kom met die laaste sak patats vorendag.
“Ons kelners is te bang om u te bedien, maar ek is nie. My naam is Snoekie en ek kom van Suid-Afrika. Ek is ‘n uistekende kok, en daarom is ek gevra om u te bedien.”
Carlotte bekyk Snoekie van kop tot toon. Elke sentimeter van haar kort lyfie.
“Jy het baie selfvertroue. Ek hou daarvan. Sjjjnoekie? Van Suid-Afrika? Ken jy vir Harold Chambers? Ek dink hy woon in Johannesburg. Ek het een keer langs hom op ‘n vlug gesit.”
Snoekie lag spontaan.
“Ek kom van ‘n plaas in die Vrystaat, sowat 200 km uit Johannesburg. Maar ek het ‘n boyfriend in Johanesburg gehad. Werner, ‘n arrogante slymbol wat nie my ouma se opgestopte oshart wou eet nie. Toe los hy my vir ‘n vegetariese meisie wat saam hom gym.”
Daar sprei ‘n wye glimlag oor Carlotte se mond.
“Oshart, sê jy? Hoe het jy dit berei? Dis een van my gunstelinge.”
Snoekie begin die resep verduidelik. Carlotte beduie later sy moet sit, en daar gesels hulle tot die smulpaap se mond water.
Carlotte trek die spyskaart nader.
“Als lyk vreemd, maar interessant. Verras my!”
Snoekie staan op en draf kombuis toe om die voorgereg te gaan berei. Alphonse stuur die dapper wynkelner en kom staan by Snoekie se wekstasie.
“Wat het julle als gepraat? Ek sien sy het geglimlag! En jou genooi om by haar te sit! Ek moet sê, dit het ek nog nooit gesien nie! Ek het daai vrou nog nooit vriendelik gesien nie.”
Eintlik weet hy klaar hy was reg om Snoekie te kies om Carlotte te onthaal. Die gevreesde kosresenjsent was nie bestand teen die klein meisiekind se Vrystaatse sjarme nie.
“O, ek het haar vertel hoe om beeshart behoorlik gaar te maak. Sy gaan dit volgende week kom eet. Nie as resensent nie, as gewone klant.”
Alphonse stik byna van verbasing.
Snoekie werskaf vinnig om die eerste gereg tafel toe te neem.
Die beenmurgsop word vinnig opgewarm. In die middle van die bord rus ‘n allemintige murgbeen, met nog ’n bietjie sagte vleisies aan. Die kaiing-biscotti rond dit parmantig af. Snoekie sorg dat haar garnering en opdiening perfek is voor sy dit voor Carlotte gaan neersit.
“Sit eers, ek wil proe.”
Snoekie verkyk haar aan die bonkige armband wat om die lywige arm klingel.
Na die derde lepel sop en happie biscotti, vra sy na die resep.
“Ek is bly jy het dit nie met room bederf nie. Dit sou die suiwer smake verdoesel. Wat is in die biscotti?”
Kaiingresepte word bespreek en uitgedeel. Die bord word leeg geëet. Dan neem die grênd vrou die allemintige murgbeen met die hand en kou die sagte vleisies af. Sy sit dit tevrede neer.
“Welgedaan, Sjjnoekie van die Vrystaat! Stuur die wynkelner en gaan haal my volgende gereg.”
Snoekie bak ‘n vars plaatkoekie. Dit pof lieflik op en die botter smelt soos ‘n seëning daaroor. Die klam snytjies Springbok-biltong is dun en die snytjie Roquefort-kaas effe weliger. Die Vrystaatse stroopvy pronk verleidelik bo-op.
Snoekie sit dit voor Carlotte neer en verskoon haar vriendelik om aan haar volgende gereg te gaan werk.
Die bestanddele staan soos soldate in ‘n ry. Presies in volgorde. Of so het sy gedink …
Hoekom is die gevlokte snoek dan nou regs van die bakkie met die patat? Vir ’n oomblik pla dit haar. Sy is ‘n perfeksionis in haar werk. Hoekom sou sy op so ‘n belangrike dag haar bestanddele in verkeerde volgorde plaas?
Sy werk vinnig en noukeurig. Sy is ‘n proe-sjef. Sy proe-proe gereeld aan geregte. Al die smake moet honderd present in plek val, voor sy haar gereg bedien.
Maar die minute van die bereiding tik te stadig vir Alphonse. Hy gil oor die lengte van die kombuis dat sy moet opskud. Die wolk spanning hang ’n bietjie digter oor die kombuis. Selfs die bebrildes kyk op.
“Ek maak so, Sjef,” kom dit eerbiedigend van haar, maar in haar binneste begin daardie bewing weer wat haar na brannewyn en tjoklits wil laat gryp.
Sy maan haarself om nie oorhaastig te wees nie, maar al die onderlangse bekommerde blikke in haar koers laat haar vinniger werk.
Daar is nie eens tyd vir proe nie.
Sy gebruik die laaste van haar gerookte snoek. In haar vlaag paniek ruik iets nie reg nie, maar sy posisioneer die viskoekie versigtig langs die skeppie soetpatat wat omskep in ‘n geurige viskoekie en ‘n hupse skeppie soetpatat as metgesel maak.