Die beste raad vir voetswamme. Deur Salomé Delport. Foto: Pexels
Hoe lyk voetswam op jou voete?
Kyk bo-op, onder jou voetsole en tussen jou tone en kyk of jy blasies, knoppies, velletjies soos frummels, skubberigheid, ’n uitslag of selfs gaatjies sien. Baie dikwels jeuk of brand die uitslag.
“En kyk gerus jou voete gereeld deur vir hierdie tekens, en maak dadelik ’n plan as jy selfs net ’n klein area raaksien wat anders lyk. Swamme kan geweldig hardnekkig wees. Dus, hoe vroeër jy dit begin behandel hoe vinniger en makliker genees dit.”
Voetswamme moet dadelik behandel word
Voetswamme maak nie dood nie, en daarom ignoreer die meeste van ons dit maar tot dit ’n krisis raak. Dit is egter ’n ernstige oordeelsfout, sê Philip – ‘n fout wat daartoe lei dat ons lewenslank met ’n chroniese probleem en verdere komplikasies kan bly sit.
“As jy te lank wag kan dit chronies raak – en selfs onmoontlik raak om daarvan ontslae te raak. Besoek beslis ’n dokter sodra jy die eerste tekens sien of selfs net vermoed iets is fout.”
Nog ’n rede om dadelik ’n plan te maak: hierdie swamme versprei baie maklik van jou voete na jou vingers, toon- en vingernaels (waar dit die naels verdik en verkleur), jou kopvel (waar dit kaal kolle veroorsaak) en ook na die klammer dele van jou vel, soos onder die borste en die lieste en geslagsdele.
Boonop kan jy jou gesinslede aansteek.
Beteken voetswamme jy leef onhigiënies?
Nie noodwendig nie, sê Philip. “Hoewel party maniere van verspreiding met higiëne te doen het kan jy spore optel al leef jy higiënies. Swamme versprei met spore – die rede waarom voetswamme maklik versprei en hardnekkig is wanneer hulle eers gevestig het.”
“Jy kan spore met saadjies vergelyk – en hulle versprei net so maklik. Spore is ontsettend taai en oorleef lank in ongunstige omstandighede. Sodra hulle weer ’n warm, vogtige omgewing vind, ‘ontkiem’ hulle en gou-gou ontwikkel daar ’n hele kolonie swamme.”
Jou voete bied ’n heerlike tuiste – knus in skoene of warm en beskut tussen en onder jou kleiner tone.
Swamme op jou voete weens skoene aanpas?
Sowaar. Jy kan swamspore op baie verskillende maniere ‘optel’, sê Philip. “Een daarvan is deur skoene aan te pas wat deur iemand anders besmet is.”
Wie het al ooit in ’n winkel gevra dat skoene ontsmet moet word voor jy dit mag aanpas? As ’n mooi paar skoene jou oog vang pas jy dit aan – selfs al beplan jy nie eintlik om skoene te koop nie. Op ’n besige dag kon ’n dosyn mense voor jou ook daardie einste paar skoene aangepas het – en dink jy almal het seker gemaak hul voete is swamvry? As jy soos ek maak loop jy boonop vir so vyf minute met die skoene rond om te toets vir gemak. Dit is oorgenoeg tyd vir swamspore van ’n vorige aanpasser om jou voete as nuwe tuiste te beset.
Philip voel dat die gebruike rondom die aanpas van skoene kan verbeter. Dit is doodeenvoudig onhigiënies dat ons maar net klant na klant dieselfde skoene aanpas. Niemand word immers toegelaat om onderklere aan te pas nie.
“Ek stel voor jy neem jou eie skoenspuitmiddel met ’n alkoholbasis saam en sproei die skoen se binnekant daarmee voor jy die skoene aanpas. Ontsmet beslis jou voete na elke aanpassessie, voordat jy weer jou voete in jou eie skoene terugsteek.
Ontsmet jy jul naelstelletjies?
Dit laat ons dikwels na, sê Phillip. Jou naelknippers, naelvyl, buffer en skêrtjie en voetskropborsel lyk mos skoon?
“Swamme, bakterieë en hul spore is so klein dat jy nie kan síén of jou naeltoerusting skoon is nie. Jy moet liewer aanvaar dit is nié skoon nie en elke item ontsmet. Doen dit ten minste een keer per maand – en selfs na elke gebruik as ’n gesinslid ’n voetswam opgedoen het. As iemand in die gesin ’n voetswam ontwikkel, ontsmet sy toerusting afsonderlik.
Hoe keer jy voetswamme op ’n naelvyl, skropborseltjie of naelskêr?
Dis maklik: laat al jou naeltoerusting vir ’n halfuur lank lê in bleikmiddelwater (1 tl bleikmiddel per koppie water). Of kook jou naeltoerusting vir 20 minute op die stoof.
Hoe kry ’n mens nog voetswamme?
Van die plekke waar mense voetswamme tipies optel is:
- Vogtige areas soos stortvloere. As mense badkamers deel en een tel ’n voetswam iewers op is dit ’n risiko vir die ander gebruikers.
- Openbare kleedkamers, saunas en swembaddens.
- Jou tuin. Spore is ook tipies in kompos aanwesig. As jy kaalvoet in die tuin werskaf kan jy spore optel en op die ou end met ’n hardnekkige voetswam sukkel.
- Of enige ander plek waar jy kaalvoet is, en direkte kontak met spore in die omgewing kan maak.
- Joga-, pilates- en ander gimklasse wat gewoonlik kaalvoet gedoen word en waar mense gemeenskaplike oefenmatte, bande, en ander apparaat gebruik.
- Jou kat en hond. Hulle kan dit ook van jóú aansteek.
- Salonne. Dit behoort nie te gebeur nie maar jy kan tydens ’n pedikuur besmet word as die terapeut nalaat om na elke klant haar toerusting te ontsmet.
Watter onhigiëniese gewoontes kan tot swaminfeksies lei?
“Dit is selde dat mense werklik nalatig is en nie hul voete skoon maak nie. Mense besef net nie dat amper onbenullige gewoontes hulle aan ongewenste voetorganismes kan blootstel.”
Onthou die volgende, sê Philip.
Wees goed vir jou voete
- Net soos elkeen sy eie tandeborsel, waslap en handdoek het, behoort ons ook elkeen ons eie naelstelletjie en voetskropborsel te hê.
- Droog jou voete en veral tussen jou tone deeglik af. As jy sukkel om jou voete by te kom, blaas jou tone met ’n haardroër droog.
- Moenie skoene met ander mense deel nie.
- Dra áltyd sokkies. Hulle absorbeer vog en hou jou voete droog. Daarby kan jy hulle was, en so jou skoene skoon hou.
- Wissel jou sokkies as hulle klammerig is, soos na oefening.
- Moenie sokkies meer as een keer dra nie.
- Moenie kaalvoet in openbare ruimtes loop nie. Dra ten minste plakkies.
Versorg jou skoene
- Gooi altyd voetpoeier in jou skoene – selfs in somersandale. Eintlik is dit in die somer makliker om jou voete en sandale met ’n swamweerder te spuit.
- Moenie dieselfde paar skoene dag vir dag dra nie. Laat selfs jou gunstelingpaar ’n dag lank rus voor jy dit weer dra.
- Sodra jy jou skoene uittrek, spuit die binnekant met ’n skoenontsmetmiddel soos Fungisolve. (Jy kan ook jou eie mengsel aanmaak met gelyke dele water, asyn en die soort skoonmaakmiddel wat swamme in storte verwyder.)
- Moenie jou skoene na ’n dag se dra dadelik in ’n donker kas of lugdigte houer bêre nie. Laat dit eers ’n bietjie lug kry, of stoor dit in ’n lugtige plek.
Behandeling vir ’n voetswam
Bogenoemde planne kan keer dat jy ’n voetswam opdoen, maar wat as jy reeds ’n voetswam het?
“Voetswamme is berug daarvoor dat hulle baie hardnekkig is. Maar ’n mens kan die probleem uitsorteer. Jy moet net baie getrou bly by jou voetsorgroetine en aanhou tot die probleem werklik opgelos is, wat maklik ses maande neem.”
Die ideaal – natuurlik as jy reeds seker is jy versorg jou voete en skoene korrek – is om die kwaaddoener uit te wis. Daar is verskeie doeltreffende antiswam- of antibiotiese middels. Die probleem is om die regte een te kies, want die tipiese simptome kan deur ’n verskeidenheid van organismes veroorsaak word. As jy lukraak medikasie gebruik wat nie gerig is op die spesifieke organisme wat op jou voete pla nie, is dit nutteloos.
“My beste raad is dat jy ’n velspesialis (dermatoloog) of podiatris besoek wat ‘n monster neem en in die laboratorium laat toets watter organismes by jou betrokke is. Dan skryf ons op grond daarvan die regte medikasie voor, eerder as om te raai en geld te vermors.
“Verder sal jou terapeut jou moontlik aanraai om jou voete elke dag / een keer per week vir twintig minute te week in ’n spesifieke teenswammiddel.
“Gebruik ook elke dag ’n terapeutiese voetsproei of poeier op jou voete en binne-in jou skoene voordat jy die skoene aantrek. Dit hou jou voete droog en help die vorming van spore keer.
“Laserbehandeling word ook deesdae gedoen. Sommige mense sê dit werk; ander is nie oortuig nie.”
Selfhelpraad vir ’n voetswam
Daar is een ding wat jy absoluut nié moet doen nie, sê Philip. “Moenie kortisoon of selfs ’n antihistamienroom aanwend nie. Dit help die swam aan, en sal jou probleem eksponsieël vererger.”
Probeer wel hierdie maniere om van voetswamme ontslae te raak:
- Week jou voete in ’n oplossing van jodiumkristalle in louwarm water. Hou dié een vir die winter want dit vlek jou voete bloupers.
- Maak jou eie antiswamspuitmiddel. Daar is ’n hele aantal oor-die-toonbank produkte beskikbaar, maar jy kan ook jou eie aanmaak. Maak ’n mengsel aan van een deel water, een deel asyn en een deel van ’n skoonmaakmiddel wat gebruik word om swamme in storte skoon te maak. Spuit binne jou skoene of sandale sodra jy dit uittrek. Laat staan tot dit droog is voordat jy dit bêre.
- Gebruik appelasyn of gewone asyn. Wend dit met ’n katoenballetjie aan waar die vel aangetas is. Doen dit twee keer per dag. Jy kan ook jou voete vir dertig minute lank week in ’n halfkoppie asyn verdun met twee koppies water.
Lees nog: