Sjef Snoekie Hoofstuk 8: Middernaghappies deur Martie Swanepoel. Hooffoto: iStock/margouillatphotos
Haal in met die vorige hoofstukke van Sjef Snoekie – klik hier
Sjef Snoekie Hoofstuk 8: Middernaghappies
Na werk dreun die mure tussen Snoekie en Alphonse se woonstelle van die heavy metal en rock.
Sy waag dit nie om aan sy deur te klop en te kla nie.
Dis beter dat sy uit dié man se pad bly, besluit sy.
Sy het hom vandag ver over the edge gedryf.
Buite reën dit kliphard en dit verbeter nie juis die Vrystater se bui nie. Sy verlang huis toe en sy is lus vir haar ouma se pannekoek.
Terwyl Snoekie pannekoekdeeg aanmekaar klits, dink sy na oor haar moedswillige optrede sedert sy in Frankryk aangekom het. Haar post Werner-era …
“Wat gaan met jou aan? Jy is moedswillig en uitdagend?” beskuldig die stemmetjie op haar een skouer.
“Dis reg, tart daai man uit. Kyk net hoe het Werner met jou gemors! Jy het dit toegelaat, moenie weer dat ‘n man met jou mors nie,” tart die meer moedswillige ongevleulde wesentjie op haar ander skouer.
Snoekie dink aan hoe Werner haar soos ‘n marionet beheer het.
‘n Mollige marionet, dink sy.
Sy voel vanaand vetter as ooit.
Sy verlang na haar pa en ouma.
Deur die aromas van pannekoek en kaneel snik sy dat die spoeg en snollie spat.
‘n Lelike droewige huil.
Op die hoogtepunt van haar hartseer, hamer iemand aan die deur.
Sy ruk dit oop en gil op die lang man.
“Gaan weg!”
In haar drif om die deur toe te klap, knyp sy sy kaal voet in die deur vas. Hy uiter ‘n paar Franse woorde wat sy nie ken nie.
“Jy is ‘n verskriklike vroumens! Jy dryf my teen die mure uit!”
Hy huppel na binne en syg neer op ‘n stoel. Sy seer voet in die hand.
Snoekie se huil word nou leliker en droewiger. Sy hou nie op pannekoek bak nie.
Alphonse hou haar verstom dop. Woordeloos vryf hy sy voet.
Snoekie rol ‘n paar pannekoeke op, sprinkel dit met suurlemoensap en hou die bordjie na hom uit.
Hy eet.
Steeds woordeloos.
Snoekie se trane is nou ‘n rustige geween.
“Ek wil huis toe gaan,” verbreek sy uiteindelik die stilte.
“Jou crêpes is ’n bietjie dik,” kondig hy aan.
Sy hou dadelik op snik.
“Dis omdat dit pannekoek is. Boere-pannekoeke.”
Sy verduidelik die verskil.
“Proe vir my soos crêpes wat te dik is.”
Sy gryp die bordjie by hom.
Hy gryp dit terug.
“Maar dis lekker.”
Hy eet die laaste pannekoek in stilte. Sy staar na sy blou kleintoontjie.
“Ek is jammer oor jou toon.”
“O, is dit al waaroor jy jammer is?”
Sy weet hy het die reg om vir haar kwaad te wees.
“Jy is ‘n hardkoppige, onmoontlike vroumens. Geen wonder …”
Dit lyk of hy hom bedink. Sy weet hy verwys na Werner.
“Hy het my gelos oor ek te dik is. En oor hy ‘n vegetariër geword het en oor hy ‘n sexy, maer, blaar-etende skoonheid by die gym raakgeloop het. “
Hy glimlag versigtig. Hy weet.
“Ek dog dis oor jy so onmoontlik is? Jy is, weet jy?”
Sy weet hy is reg.
“Ek weet nie hoekom ek dit doen nie. Ek sal probeer om nie weer goed in jou kombuis in te smokkel nie.”
“Het jy wyn?” vra hy skielik.
Sy haal ‘n bottel Groot Constantia uit haar yskas. Hy maak dit galant oop en proe.
“Jy weet chardonnay kom oorspronklik van die Boergondiese streek in Frankryk?”
Sy knik.
“Daardie is ‘n bêrebottel van 2013. My pa het dit vir my ingepak. Boela Gerber het dit gemaak.”
“Mmm, nie sleg nie.”
Sy sluk haar glas weg.
“Dis flippen briljant.”
Hy gooi vir elkeen nog ‘n glas.
“Wat gaan ek met jou maak, Snoekie?”
Hy noem haar Snoekie!
“Jy kan my help oppak.”
Hy kyk na die trommel in die middel van die vloer van die klein woonstel.
“Watter onheilighede skuil nog in die ding? Of nee, wag, ek is te bang om te hoor!”
Snoekie se pa het die oorgewig-boete met ‘n glimlag betaal. Hy het geweet sy kind het alles in die trommel nodig kry.
“Ek het my hele land probeer inpak. Ek was bang ek verlang.”
“En, verlang jy?”
Sy sluk wyn weg om te keer dat die droefheid weer oorneem.
“My ouma en Tante Inge is glad nie dieselfde nie.”
Hy glimlag ‘n baie skewe sexy glimlag, merk sy oor die rand van haar glas op.
“Ek glo dit. Niemand kan soos jou Tante Inge wees nie.”
Sy sluk nog ‘n paar slukke.
“Ek is jammer ek het Juan in die moeilikheid laat kom. Ek wou net hê hy moet biltong proe.”
Hy lyk nie kwaad nie. Dit moet Boela se chardonnay wees.
“Het jy nog daarvan?”
Sy haal die stuk biltong met geelvet uit die trommel. En haar pa se Joseph Rodgers knipmes.
“Mens kan nie in die vreemde biltong sny sonder ‘n Joseph Rogers nie,” het haar pa gesê toe hy sy kosbare mes vir haar inpak.
“Hoe het jy al die goed die land ingekry? Of wag, ek verstaan, met daardie engelgesiggie van jou kry jy seker maklik reg om met enigiets weg te kom.”
Hy gooi die laaste bietjie wyn in.
“Ek het al hierdie goed nodig gehad om te kan kom. Dit het my veilig laat voel om alles saam te bring.”
Hy glimlag en sny vir hom nog ‘n stukkie biltong.
“Hoe maak mens die gedroogde vleis?”
Haar oë kry ‘n veraf blik terwyl sy breedvoerig verduidelik.
“Het jy die regte speserye saamgebring?”
Maar voor sy kan antwoord, beantwoord hy sy eie vraag.
“Natuurlik het jy! As ek die regte vleis kry, maak ons biltong. Hier in jou woonstel. Jy bring nie die goed by my kombuis in nie! Ek het genoeg moeilikheid by die restaurant.”
Sy is te bang om te vra.
“Dankie dat jy vir Juan niks gesê het oor die probleme met die vleis se gewig nie. Net ek, jy, en die ouditeure weet. Dis beter tot ons alles uitsorteer.”
“Hoe weet jy ek het nie gepraat nie?”
Hy lag.
“Ek sou gehoor het, glo my. Maar ons sal uitvind waarheen die restaurant se geld lek. Intussen bly jy stil oor die probleme met die vleis. Nou moet jy eers gaan slaap.”
Hy loop kruppel tot by die deur.
Dan buig hy vooroor en sy voel hoe hy ‘n soen op die kroontjie van haar kop plant.
Kook saam!