Die beste gebraaide broodjies denkbaar! deur Vickie de Beer. Foto: Neil Corder
Gebraaide broodjies
Bestanddele
Maklike brooddeeg
- 500 g (4 k) meel
- 10 g (1 pakkie) kitsgis
- 7,5 ml (1½ t) sout
- 325 ml (1½ k) louwarm water
Vulsels
- 250 ml (1 k) gekoopte, klaarbereide tamatiepastasous, kook dit ’n bietjie af as dit te loperig is
- 250 ml (1 k) kersietamaties, gehalveer
- 500 ml (2 k) gerasperde mozzarella
- ’n hand vol basiliekruidblare
Nog kombinasies
- 250 ml (1 k) gekrummelde bloukaas en ’n hand vol roketblare of
- ’n hand vol olywe en ’n hand vol sondroëtamaties
Metode
Maklike brooddeeg
- Meng die meel, gis en sout in ’n groot mengbak.
- Giet die water in ’n ander groot mengbak, en voeg die helfte van die meel by die vloeistof. Die deeg moet slap wees. Voeg die res van die meel lepel vir lepel by tot dit ’n
hanteerbare deeg vorm. Knie die deeg vir sowat 10 min. op ’n meelbestrooide werkvlak tot glad en elasties. - Sit die deeg in ’n skoon bak wat liggies met olie gesmeer is. Smeer die deeg ook liggies met olie sodat die bokant nie uitdroog nie. Bedek met ’n doek of kleefplastiek en laat tot
dubbel die grootte rys. - Berei intussen die vulsels. Jy kan net gewone tamatie-en-mozzarella-broodjies maak, of ’n paar van ons variasies probeer.
Vulsels
- Verdeel die deeg in 6 bolletjies en rol elke bolletjie sowat 1 cm dik en ovaalvormig uit. Moenie dat die uitgerolde deeg op mekaar lê nie, dit sal vassit. Ek het elkeen maar net op ’n afsonderlike bordjie gesit.
- Smeer elke ovaal met die tamatiesous en pak die tamaties, kaas en basiliekruid op die een helfte uit. Vou dit toe en laat vir ’n paar min. rys.
- Rooster die broodjies op ’n koel vuur, keer elke broodjie direk op die rooster om en rooster aan die een kant tot gaar voor jy dit omdraai en verder rooster. Dit neem sowat 8
min. per broodjie. Sit lekker warm met braaivleis voor.
Loer hier vir nog lekker braairesepte:
Die lekkerste bykosse wat jy nou moet maak
Geurige lamstjops oor die kole