Dis hoekom jou kind meer tyd moet kry om te speel deur Anet Schoeman. Foto’s: Unsplash
Speel-speel slim en gelukkig
Ouers besef nie altyd dat groot motoriese ontwikkeling die wegspringpunt vir die meeste ander breinontwikkeling is nie,” sê René van Pletzen, ’n arbeidsterapeut. “En dié ontwikkeling verbeter ook hul sosiale vaardighede.”
Lizette Brunner, ’n ervare onderwyseres vir voorskoolse kinders en graadeentjies, bestempel die gebrek aan goeie motoriese vaardighede ook as ’n struikelblok.
Lees ook: Oulike aktiwiteite om kinders besig te hou hierdie vakansie
“Ouers doen dikwels heeltemal te veel dinge vir hul kinders. Dit spruit gewoonlik uit ’n skuldgevoel omdat hulle voel hulle is min by die huis en dan wil hulle die pad vir die kinders gelyk maak wanneer hulle wel tuis is. Tog is huistakies die ideale manier waarop kinders verskeie vaardighede aanleer.
“Kinders kan nie kruisbeen op die mat sit en na ’n storie luister nie, want hul spiertonus is te swak. Dan begin hulle vroetel en gee nie aandag nie. Handskrif is ook ’n groot deel van taalontwikkeling omdat kinders leer hoe ’n woord saamgestel word, maar as hulle nie ’n potlood reg vashou of kan beheer het nie, werk hulle stadig en geniet nie hul take nie omdat hulle so sukkel.
“Kinders raak ook bitter gou moeg van regop sit omdat die skouergordel nie sterk genoeg is nie. ’n Agterstand op dié vlak bring mee dat ’n kind nie sy werkies betyds kan voltooi nie, wat weer ’n negatiewe uitwerking op sy selfvertroue en selfbeeld het.”
Dié kind begin al vroeg soos ’n sukkelaar voel en verloor later die dryfkrag om harder te probeer. Dit beïnvloed ook sosiale interaksie met sy portuurgroep.
“Ons sien dat kinders glad nie meer natuurlik fiks is nie. Hulle is uitasem as hulle net ’n klein entjie hardloop omdat hulle selde by die huis klouter, klim en hardloop.
Dit is wel so dat ouers besig is, en dat min mense nog groot tuine het waar kinders kan rondhardloop, maar ouers kan planne maak om kinders meer aktief te kry.
“Dikwels word kinders nie genoeg aangemoedig om aan spansport by die skool deel te neem nie. Dis gratis en geen rondryery is nodig nie omdat dit gewoonlik direk ná skool plaasvind. Probeer dat kinders minstens aan een spansport deelneem. Dit leer hulle om in ’n groep te funksioneer – ’n noodsaaklike sosiale vaardigheid.”
Passiwiteit en sport
Die brein is veral aktief as jou lyf aktief is, en dus word breinontwikkeling so gestimuleer,” sê arbeidsterapeut René van Pletzen van Durbanville.
Kinders raak al hoe meer passief, en ongelukkig het dit ook ’n uitwerking op hul skolastiese prestasies en sosiale vaardighede. As jy passief sit en televisie kyk, is dit net jou oë en ore wat gestimuleer word.
“Groot motoriese ontwikkeling is uiters belangrik vir kruisbewegings en koördinasie, maar ouers besef nie altyd watter groot rol dit in sosiale ontwikkeling speel nie. Kinders leer soveel sosiale lesse wanneer hulle aktief is en dis goed as ouers vir kinders van selfs net drie leer dat dit gesond is om aktief te wees.
“’n Ma was onlangs by my met haar jongste wat op skool sukkel met fyn motoriese ontwikkeling. Toe ek uitvra oor takies wat hy by die huis doen, was sy onthuts toe sy besef hoe sy en die twee ouer kinders alles vir die jongste doen omdat hy nog “klein” is. Sy’t onthou hoe sy en die twee ouer kinders sokkies opgerol het, groente geskil het en baie huiswerkies gedoen het wat die jongste nooit doen nie.
“Ons leef in ’n kitssamelewing waar kinders nie geleer word dat jy geduldig moet wees om ’n vaardigheid aan te leer nie. Sport leer jou dat jy beloon word vir die vasbyt en oefen voor die tyd. So leer kinders dat jy moet werk om beter te word. Dit verg deursettingsvermoë en uithouvermoë – albei eienskappe waarmee onderwysers deesdae sukkel.
Kinders leer van wen en verloor en dat jy jou opponent moet gelukwens met ’n goeie vertoning – al het jy verloor. Ons het deesdae ’n spesiale fokus op skool waar ons kinders in die klas leer om maatjies te komplimenteer as hulle daardie dag ’n mooi tekening gemaak het, of iets reggekry het. So leer hulle dat jy elke keer ’n nuwe kans kry om te presteer en te wen. Skole gee ook pryse vir kinders wat goeie gedrag toon, soos wanneer ’n kind hom oor ander op die skoolgrond ontferm wat seergekry het. Dit moedig leierskapontwikkeling aan.
“Een van die ander groot probleme op skool is luistervaardighede,” sê René. “Ons wêreld is baie visueel en kinders leer om op die visuele staat te maak. Ongelukkig beteken dit dat hulle nie maklik instruksies kan volg as hulle moet luister nie, want hul ouditiewe integrasie is swak. In sport moet hulle instruksies volg, soos ‘gooi die bal vir Linda’, of ‘staan twee tree terug voor jy dien’. Kinders leer ook om dadelik op instruksies te reageer – dus aktiewe luister.
“Sport is ook die ideale omgewing vir verbale en nie-verbale kommunikasie sodat jy gevoelens kan waarneem. Kinders leer om hul opponent te ‘lees’ en dan daarop te reageer, soos dat ’n tennisspeler nie daarvan hou om by die net te speel nie, of dat sy senuagtig is. Dis belangrike vaardighede. Dit help kinders om die regte maatjies te maak, want hulle leer om te ‘lees’ watter maatjie op dieselfde golflengte as hulle is. Dis hoe jy konneksies maak en vriende word.
“Sosiale vaardighede kan net ontwikkel as jy met ’n siel (of mens) ’n konneksie maak, en dit kan nie op ’n skerm gebeur nie. Ek dink skole kan meer doen om kinders pouses aktief te kry. By een van die skole in die omgewing het hulle in ’n stadium sponsballe teen R10 verkoop. Die kinders het pouses alte lekker speletjies soos bok-in-die- hok en handbal gespeel, en omdat dit sponsballe was, kon niemand seerkry nie. Dis ’n wonderlike geleentheid vir kinders om pret te hê, maar terselfdertyd waardevolle vaardighede te ontwikkel.”
René sien in haar praktyk dat kinders se skolastiese prestasies verbeter wanneer hulle volgehoue meer aktief is, omdat die voordele op talle vlakke is.
“Hierdie ontwikkeling dra by tot ’n kind se emosionele intelligensie wat hom werklik kan maak of breek, ongeag sy werklike intelligensie. Boonop verbeter dit hul kans om in selfstandige en verantwoordelike volwassenes te ontwikkel. Heelwat kinders sukkel deesdae met hoë vlakke van angs en ons sien merkwaardige verbetering wanneer hulle leer om dinge vir hulself te doen, soos hul bed opmaak en kamer regpak, want hulle voel dan meer in beheer. Gee vir hulle werkies en leer hulle die bevrediging daarvan om dit te voltooi.”
Wanneer albei ouers werk, is dit moeilik om daagliks met kinders aktief te wees. Daarom is dit belangrik om hulle by huistakies te betrek. Dit maak die lewe boonop vir jou makliker. “Maar maak dit pret, en moenie ongeduldig raak as hulle stadig is nie. Laat hom toe om dinge maar effe skeef en krom te doen, en moenie inspring en die broodjie smeer as hy dit nie netjies doen nie. Begin dalk oor naweke wanneer jy nie saans haastig is om die aartappels geskil te kry nie!”
Die sleutelwoord vir enige aktiwiteit of sport moet pret wees.
“As sport by die skool vir die kind regtig sleg is, hou aan soek, daar is ’n reuse-verskeidenheid waaruit julle kan kies. Belê ook in eenvoudige maniere om tuis aktief te wees. Tafeltennis, vingerbord en snoeker is uitstekende en prettige speletjies. Net omdat jou kind nie ’n rugby- of netbalster is nie, beteken dit nie daar is nie iets wat sy gaan geniet nie. Dink aan boogskiet, jukskei, rolbal en veerpyltjies. Die geheim is om na die kind te kyk en te probeer ontleed wat sy sterk punte is en hoe jy op grond daarvan ’n aktiwiteit kan kies.”
Onthou net, balans is belangrik. As jy die sweep klap en kinders hard druk, kan hulle ’n renons in die sportsoort ontwikkel. Die fokus is op ’n gesonde lewenstyl – nie noodwendig sportsterre nie.
René meen skole behoort kinders aan te moedig om meer te beweeg. “Ek weet van skole wat oor naweke die sportvelde vir kinders oopstel sodat ouers met kinders kan kom speel. Die meeste huise het nie meer groot tuine nie en baie kinders bly in komplekse met klein of geen tuine nie. Boonop is gemeenskaplike speelplekke prettig omdat daar maatjies is.”
Dis ’n werklikheid dat werkende ouers min tyd het. Verskillende ouerpare kan beurte maak om kinders by die skool te gaan haal en tuis af te laai, of selfs almal na haar eie huis neem en toesig oor die huiswerk hou. Die voordeel is dat jy weet jou kinders is versorg, en jy hoef dit nie elke middag te doen nie. Dit bied ook vir ouers meer tyd om saam met kinders deur te bring wanneer hulle by die huis kom.
Kry hulle aktief
Kinders is altyd mal oor die outydse partytjiespeletjies. Soek op die Internet na “party games” en kyk watter oulike speletjies daar is.
Ou gunstelinge:
- Wolf, wolf hoe laat is dit?
- Wegkruipertjie
- Vroteier
- Musical chairs
- Ring-a-ring-a-rosie
Aërobiese oefening
’n Studie aan die Harvard Medical School in Boston het bevind dat aërobiese oefeninge gesonde bloedvloei deur die liggaam bevorder en dat dit help om die brein te voed. Veral in die geval van kinders.
Wetenskaplikes glo dit hou groot voordele in, onder meer deur groeifaktore en ander belangrike komponente na die brein te vervoer wat die groei van breinselle en gesonde senuweeverbindinge bewerkstellig en inflammasie verminder.
Kan jou graad-eentjie dit doen?
Lizette Brunner, ’n graadeenonderwyseres, sê jou kind behoort dié takies te kan doen teen die tyd dat sy in graad een is.
- op ’n gewone trapfiets sonder sywieletjies ry
- skoenveters knoop
- bed opmaak en kamer opruim
- eie kosblik pak en broodjies smeer
- verantwoordelikhede aanvaar, soos troeteldiere kos gee
- huiswerkies soos tafel dek, skottelgoed wegpak
- skoon klere wegpak