Het jy al ’n stil hartaanval gehad sonder om dit te besef? deur Salomé Delport. Hooffoto: iStock/geckophotos
Die stil hartaanval – dis dalk ’n miokardiale infarksie …
Jy kan jou nie misgis met die simptome van ’n hartaanval nie.
Daarvoor is die pyn oor jou borskas, of oor jou skouerblaaie, kaak of linkerarm té oorweldigend. Daarby is jy waarskynlik ook verskriklik benoud oor jou borskas, asof daar ’n gebalde vuis of intense druk is. Jy bars uit in sweet en haal hortend asem. Jy voel naar en duiselig, en jy kan beswaarlik beweeg.
Jy weet onmiddellik iets ernstig skort – en dat jy dadelik moet hulp kry. Met geluk is hulp naby genoeg, en met moderne tegnologie en die regte medikasie sal jy waarskynlik oorleef om te kan vertel hoe jy amper-amper weg was.
Lees ook: Wat elke vrou oor hartsiekte moet weet
So voel die stil soort
Maar wat as jy geen simptome het nie? Het jy dan nié ’n hartaanval nie? Waarskynlik nie, maar jy kán ’n hartaanval sonder veel tekens daarvan kry, soos met Madi gebeur het.
“Ons het gaan fietsry op ’n nuwe en bulterige roete, en met baie wind. Ek het ongewoon beenkrampe gekry – iets waarmee ek nie eintlik sukkel nie. Daardie aand was ek ontsettend moeg, maar ek dag dis van die wind en ekstra hard trap. ’n Paar dae later ry ek weer, dié keer ’n kort roetetjie van so 10 km. Tuis gekom, voel dit asof ’n ligte gewig op my bors kom lê het. Dit pla my, maar is ook nie so erg dat ek dink om dokter toe te gaan nie. Teen die middag is ek steeds ‘bedruk’. Ek bel my sussie wat ’n verpleegsuster is, en ná sy na my storie geluister het, sê sy as ’n mens ongerus is, is dit die veiligste om ’n dokter te laat kyk. Sy ken ’n huisdokter wat ’n EKG-strestoets doen, en sy dink ek moet ’n afspraak maak. Die volgende dag is ek daar, en ek draf met gemak deur sy toetse. Hy spoor niks op nie. Maar, sê hy, my storie maak hom ongerus. Wil ek nie tog maar vir ’n angiogram en ’n bloedtoets gaan nie?
En toe, sowaar, wys dit ’n hartaar wat byna heeltemal toegeblok is. Ek moes ’n hartomleiding kry. Volgens die dokters is ek baie gelukkig dat dit opgespoor is – en het ek vermoedelik ’n stil hartaanval gehad. Hy sê dit sou tipies weer gebeur het – en waarskynlik baie ernstiger en kon dan selfs fataal wees.”
Lees ook: Hoe gereeld moet ek my bloeddruk laat meet?
Een uit vyf bo vyftig
Ná vyftig, sê dokters, is ’n stil hartaanval – die sogenaamde stil miokardiale infarksie of SMI – nie so skaars nie. Dr. Nisha Arenja, ’n Belgiese hartnavorser, se werk wys stil hartaanvalle gebeur met tot een uit elke vyf mense bo vyftig. Sy het 1 621 opeenvolgende Belgiese pasiënte wat vir roetine-hartevaluasie verwys is, ondersoek. Álmal van hulle het geglo hulle het nog nooit hartmoeilikheid gehad nie. Maar PET-skandering het gewys dat 377 reeds ’n SMI gehad het, en dat gemiddeld 12% van hul hartweefsel afgesterf het.
“Stil” klink soos “lig” en dus beter. Maar dit is nie. Mense met ’n duidelike hartaanval is op die lang duur inderdaad beter af, wys ’n onlangse ondersoek in Ysland, wat baie deeglik rekord hou van hul bevolking se gesondheid. Die Yslandse ondersoek het 935 mense van 67 tot 93 oor 13 jaar gevolg. Toe die groep aanvanklik geëvalueer is, is ’n SMI by 17% van hulle opgespoor. Dit werk ook uit op sowat een uit elke vyf mense.
Ná drie jaar was dié met ’n SMI heeltemal goed af in vergelyking met dié wat reeds hartmoeilikheid gehad het: Net 3% van dié met SMI en sonder ’n SMI het gesterf terwyl 9% van mense met ’n bekende hartprobleem gesterf het.
Tien jaar later het die prentjie ingrypend verander: toe was die hélfte van dié met ’n aanvanklike SMI reeds oorlede.
Die probleem, sê die outeurs, is dat mense met ’n SMI nie rustiger oefen nie en nie hul risikofaktore bestuur nie. Daarteenoor kry mense met ’n uitgesproke hartaanval ’n duidelike waarskuwing, en begin hulle dadelik met medikasie en die nodige leefstylveranderings om hul hart te beskerm. Dié met ’n SMI is glad nie so gelukkig nie. So verbeur hulle die hulp wat hul lewe sou kon red.
Vermoed ’n SMI as …
’n SMI is nie werklik so stil nie: jy weet daarvan maar die simp-tome is lig en daarom ignoreer jy dit. Mense dink hulle is maar net onfiks, of hulle was ’n bietjie te bedrywig. Hulle rus ’n dag of wat en glo alles is reg. Gaan eerder dokter toe, veral as jy ná gewone oefening:
- ligte of matige drukking oor die bors voel
- kortasem bly
- ongewoon moeg is
- selfs net baie ligte pyn oor jou borskas ervaar terwyl jy oefen, of direk daarna
Lees ook: Hoe help jy jou man herstel na ’n hartaanval?
En as dit ’n SMI was?
Die kans op ’n volgende SMI of ’n duidelike hartaanval is natuurlik baie groter. Jy is inderdaad in dieselfde bootjie as iemand wat ’n uitgesproke hartaanval gehad het. Daarom moet jy al dieselfde en gelukkig taamlik eenvoudige aanpassings maak.
Jou leefstyl speel ’n verbasend groot rol – dit is dikwels selfs meer doeltreffend as medikasie, mits jy daarby bly. Vir die meeste van ons beteken dit ’n beter dieet. Jip, dit is ou nuus maar niks is beter vir jou gesondheid nie as meer groente en minder dierevette, soet en sout, wat ons bloeddruk, cholesterol en gewig onder beheer kry. Gebruik eerder gesonder vette soos olyfolie en kanola-olie – en min daarvan. Vir baie van ons is medikasie die eerste keuse omdat dit soveel makliker as om met die dieet vas te byt, maar meestal is dit ook die tweede beste keuse.
Kyk ook na die oorsake van stres in jou lewe. Hoe kan jy stres sny en meer ontspanne leef? En bly oefen, maar moet dit nie oordryf nie.