Die verskil tussen werklike en voorkombare doofheid – en wat jy daaraan kan doen deur Salomé Delport. Hooffoto: Unsplash
Hoe weet ’n mens jy begin doof word?
Een leser vra: “My man sê ek mompel. Daarom hoor hy nie wat ek sê nie. Ek dink hy is besig om doof te word – of wil dalk nie hoor nie. Hoe weet ’n mens jy begin doof word?”
Jy is nie regtig doof nie maar hier en daar mis jy iets. Hoe weet jy dis tyd om iets daaraan te doen? vra ons vir Yolandé van der Westhuizen, oudioloog van Centurion en woordvoerder vir die SA Oudiologievereniging.*
“Presies as jy agterkom mense sê hulle het goed gesê wat jy nie gehoor het nie. Dit kan baie vroeër wees as wat jy verwag. Jy kan al van 35 af ’n bietjie gehoorverlies verwag.”
1. Hoekom moet ’n mens nou vroeg ’n gehoorapparaat kry?
“’n Mens het gewoonlik gewag tot jy behoorlik sukkel. Maar die jongste aanbeveling is hoe vroeër jy begin hoe beter gaan jy oor tien, twintig jaar bly hoor.”
2. Hoe werk dit?
“Gehoor gebeur in twee stappe: eerste stimuleer klanke (wat eintlik frekwensies is) jou gehoorsenuwee, wat dit as impulse na die brein oordra. Die tweede fase is die belangrikste: jou brein interpreteer die impulse en maak sin daarvan. Jy hoor omdat jou brein die impulse as klanke, woorde en sinne ‘verstaan’.
“Namate jy ouer raak, is dit normaal dat dele van jou gehoororgane effens agteruitgaan. Dus kan dit sekere klankfrekwensies nie meer na jou brein oordra nie. Dit veroorsaak normale gehoorverlies weens veroudering.
“Maar nou tree die bykomende gehoorverlies in: jou brein verloor sy vermoë om te hoor. Omdat jou gehoororgaan sekere klankfrekwenies baie swak of glad nie meer na jou brein stuur nie, word die deel van die brein wat hierdie klanke moet interpreteer ook nie meer veel geprikkel nie.
“Ons weet die brein is ‘plasties’. Met ander woorde stimulasie hou hom aktief, terwyl ’n gebrek daaraan hom laat verswak.
“Daarom verloor jou brein mettertyd die vermoë om hierdie klanke te interpreteer – wat tot ’n sekondêre doofheid lei. Ons noem gehoor wat jy so inboet voorkombare gehoorverlies.
“Hierdie leser se man se gehoor is baie tipies van gedeeltelike gehoorverlies. Ek vermoed sy gehoororgane kan nie meer van die hoër frekwensies – waar vrouestemme gewoonlik lê – registreer nie, terwyl dit ander klankfrekwensies nog goed na die brein oordra. Daarom hoor hy regtig net daardie dele van haar woorde wat gesê is op toonhoogtes wat in sy hoorbare frekwensies val, terwyl die res vir hom verlore is. Dus kink dit werklik vir hom asof sy mompel.
“As hy niks doen nie, verswak die deel van die gehoorsenuwee wat hoër frekwensies moet oordra, plus die deel van die brein wat dit moet interpreteer geleidelik. Maar as hy nou ’n gehoorapparaat begin gebruik, sal dit die toonhoogtes versterk waarmee hy begin sukkel, en die gehoorsenuwee dus help om hierdie frekwensies na die brein oor te dra, wat ooreenstemmend gestimuleer bly en klanke bly interpreteer.”
“As jy ’n gehoorapparaat vroeër eerder as later begin gebruik, minimaliseer jy bykomende gehoorverlies en behou jy jou beter gehoor vir ’n langer tyd.”
Lees ook: 9 tekens wat wys jy is dower as wat jy dink jy is
3. Hoe gereeld moet jy toets?
- Toets jou gehoor dadelik as jy skielik swakker hoor. Werk deur die vraelys onderaan, en toets as jy selfs net een “ja” antwoord.
- Toets jou gehoor beslis as jy vanjaar slegter hoor as verlede jaar sodat jy minstens bykomende gehoorverlies beperk.
- En toets gereeld as jy enige soort gehoorprobleme het. Vir die res van ons verskil riglyne taamlik. Die VSA beveel aan dat jy een keer elke dekade gaan, en van vyftig af elke drie jaar. Gaan gereelder as die volgende vir jou geld:
- Daar is doofheid in jou familie.
- Jy werk in ’n raserige plek, soos ’n fabriek of winkels waar musiek heeldag hard speel.
- Jy is MIV-positief.
- Jy het diabetes, hoë bloeddruk of ’n outo-immuunsiekte.
- Jy is op chemoterapie.
- Jy gebruik sekere medikasie op lang termyn soos neomisien, gentamisien en streptomisien, kinien en NSAID’s soos naproxen en ibuprofen, wat almal aan gehoorverlies verbind word.
4. Is ’n gehoorapparaat al oplossing?
“Nie noodwendig nie. ’n Oudioloog kyk juis waarom jy slegter hoor. By party mense is oorwas al probleem. Die oplossing is so maklik as om die oor gereeld uit te spuit. Soms sien ons mense by wie die hamer en aambeeld vergroei het. ’n Klein operasie kan dit maklik regstel.”
5. Kan mense maar nie net harder praat nie?
Nee, hulle sal net vir ’n paar minute daarvan onthou. Kyk liewer hoe mooi en klein die nuwe goedjies lyk en hoe goed hulle werk. Waar ou gehoorapparate alle klanke versterk het, kan die nuwes gestel word om net die spesifieke klanke te versterk wat jy swakker hoor. Dit kan selfs wind- en agtergrondgeraas uitsny en skielike harde klanke gemakliker maak.
Yolandé sê mense kla dikwels dat gehoorapparate klank te hard maak. Maar, sê sy, jy was eintlik gewoond aan doofheid. Daarom voel normale klankvlakke aan die begin te hard.
“Ander kla dat klanke eggo, asof jy in ’n tonnel is. Ons kan álles regstel of ten minste verbeter – mits jy kom vir jou opvolg-afspraak. Jou terugvoer oor hoe dit vir jou werk, is soos leidrade vir ons om jou apparaatjie optimaal volgens jou behoeftes in te stel.
“Net soos ’n bril is ’n gehoorapparaat ’n aanpassing. Gee jou-self minstens ’n maand kans om daaraan gewoond te raak.”
Lees ook: Is dit tyd vir ’n gehoortoets?
Is dit tyd vir ’n gehoortoets?
Toets jouself, en maak werk daarvan as jy selfs net een keer “ja” antwoord.
- Kan jy jou huismense en vriende hoor as jy nié na hulle kyk nie? Wat van die dominee en TV-aanbieders?
- As jy voor die TV gaan sit, soek jy dadelik die afstandbeheer … sodat jy die klank effens harder kan stel?
- Is jou radio en TV permanent op of naby sy maksimum volume gestel? Kla mense oor jou TV te hard is?
- Kla jy oor die swak telefoon- en selfoonontvangs? Kan jy beswaarlik hoor wat ander mense sê?
- Mompel veral party mense en omroepers irriterend erg?
- Beweer mense dat jy nie die telefoon/deurklokkie antwoord nie, terwyl jy doodseker is dit het nooit gelui nie?
- Maak mense opmerkings dat jy taamlik hard praat?
- Verpes jy dit om uit te eet, want dit raas so dat jy dele van die tafelgesprek mis?
Lees ook: Oogsiektes onder die vergrootglas: Wees bedag hierop