Gepubliseer met toestemming van Garden and Home – oorspronklike artikel: Rose Care Guide February vertaal en versorg deur Ilse Salzwedel. Hooffoto: iStock/Konoplytska
Jou Februarie-roosgids
Versorg jou rose so
Breek net dooie knoppe uit – moenie stamme afbreek of stele afsny nie. Hoe meer blare daar op ‘n bos is, hoe makliker is dit vir die roos om koel te bly, want blare versnel die sapvloei en koel die stamme af.
Maak seker dat die beddings ‘n goeie deklaag het. Dit sal skaduwee verskaf aan die wortels en grond, wat nie net verdamping stadiger laat plaasvind en beperk nie, maar ook die water in die grond koel hou.
Selfs rose wat goed natgemaak is, kan vinnig verwelk in warm, droë toestande. As jy die rose van bo af natspuit, veral teen die middel van die dag, sal dit beslis help (en dit sal nie lei tot swartvlek nie).
Jy kan hierdie tyd van die jaar ook saans ‘n bietjie natspuit, want die blare word maklik droog.
Hoeveel water het my rose nodig?
Dit hang af van ‘n hele klompie faktore, soos grondtipe, die helling van die bedding en die temperatuur.
Hier is ‘n handige gids vir Februarie:
Lei daagliks nat as die dagtemperature hoër as 35°C is.
Net elke tweede dag as die temperature tussen 28°C en 35°C is.
Twee maal per week as temperature wissel tussen 22°C en 27°C.
Weekliks as temperature laer is as dit.
Wat van bemesting?
Wag tot einde Februarie met die bemesting, want dan is dit koeler. Bemesting moedig nuwe groei aan, wat die plant onder ekstra druk plaas in warm toestande.
Wat jy in Februarie moet doen om peste en plae te vermy
Besproei voorkomend met plaagdoder.
Lees ook: Alles wat jy in Januarie moet doen om vir jou rose te sorg