Het jou kind sensoriese integrasiedisfunksie? deur Mariette Snyman. Foto: AndreaObzerova/iStock images
Is die probleem dalk sensories?
Elkeen van ons is ’n wonderbaarlike wese wat in ’n gegewe oomblik miljoene brokkies inligting deur ons sintuie waarneem en met ons brein verwerk. Die manier waarop ons sensoriese inligting prosesseer, is so uniek soos ons duimafdruk.
Maar hierdie prosesse verloop nie altyd glad nie. Wanneer ons sensasies uit die omgewing of ons eie liggaam onakkuraat verwerk, beïnvloed dit die doeltreffendheid waarmee ons funksioneer – en ons lewensgehalte.
“Afgesien van ons tassintuig, gehoor, visie, reuk en smaak, het ons twee versteekte sintuie,” sê Charlene Cruickshank, Johannesburgse arbeidsterapeut met ’n nagraade kwalifikasie in sensoriese integrasie.
“Die vestibulêre stelsel het te doen met ons sin vir beweging, en propriosepsie dui onder meer op ons bewustheid van die ruimtelike posisie van ons liggaam. As ons by ’n muurtjie afspring, gebruik die brein insette van hierdie stelsels om ons spiere gepas te aktiveer.
“Die begrippe ‘sensoriese diskriminasie’ en ‘modulasie’ help ons verder sin maak van sensoriese integrasie. Diskriminasie behels ons sentrale senustelsel se verwerking van sensoriese insette. Jy registreer byvoorbeeld ’n geluid, interpreteer dit as iemand wat jou naam sê, en reageer deur te antwoord.
“Modulasie dui op die senustelsel se vermoë om inkomende inligting te reguleer, te organiseer en te prioritiseer. Ons kan ook sê dis wat ons met gemak kan verdra – waar ons sensoriese drumpel lê. In ’n vergadering sal iemand met ’n goed gemoduleerde senustelsel irrelevante inligting, soos agtergrondgeluide of ’n lugreëlaar wat te koud gestel is, kan uitblok en op die bespreking kan konsentreer.
“Modulasie behels ’n lewenslange leer- en aanpassingsproses. Stimuli wat aanvanklik vir ons vreemd is, soos ons eerste kennismaking met die smaak van ’n druppel suurlemoensap, raak bekend en mettertyd reageer ons sonder om bewustelik daaraan te dink.”
Sensoriese integrasiedisfunksie
“Alle mense ervaar soms probleme met diskriminasie en modulasie. Ons kyk byvoorbeeld ’n klip op die sypaadjie mis en struikel, of kry bewegingsiekte wanneer ons vlieg. Solank dit nie ernstig inbreuk maak op ons lewe nie, is dit in orde. Maar wanneer dit ons funksionering op meer as een lewensgebied inperk, praat ons van SID of sensoriese integrasiedisfunksie. Dit geld volwassenes én kinders. Die drie gebiede waarna ons kyk wanneer ons SID ondersoek, is persoonlike sorg; werk, skool of spel by jong kinders; en vryetydsbesteding (sien die brokkie onderaan).
“SID is baie algemeen. Dit kom byvoorbeeld voor by alle mense met outisme of aandag-afleibaarheid/hiperaktiwiteit-sindroom. Maar alle mense met sensoriese integrasiedisfunksie het nie noodwendig een van hierdie toestande nie! SID kom dikwels voor saam met gesondheidskwessies soos angsversteurings, depressie of Downsindroom.
“Met SID praat ons van sensoriese uitvalle. Aan die een kant van die spektrum lê sensory defensiveness of oorsensitiwiteit: hierdie mense ervaar stimuli wat ander as normaal beskou, soos die nate in hul klere, as uiters hinderlik. Dis ’n parasimpatiese reaksie, met ander woorde onwillekeurig, en kan tot ’n vlug-, veg- of vriestoestand lei. Die buisligte en geluide in ’n oopplankantoor kan ’n sensories oorsensitiewe mens soveel pla dat hy nie sy werk kan doen nie en uit frustrasie aggressief reageer, of ’n woedeuitbarsting kry wanneer hy tuiskom. Dit kan so erg word dat iemand partykeer net doodstil in die donker wil sit.
“Aan die ander kant is sommige mense sensories dormant, asof hul sintuie aan die slaap is. Hulle ‘mis’ normale sensoriese inligting uit hul omgewing of hul eie liggaam. Hulle hoor dalk nie as jy hulle roep nie, al is hul gehoor normaal. Omdat hul brein meer sintuiglike stimulasie nodig het, sal hulle daarvoor vergoed deur voortdurend te beweeg, te vroetel, geluide te maak, voorwerpe om te stamp, ensovoorts. Ons noem hulle sensory seekers.”
Oorsake en behandeling
“Ek verseker ouers voortdurend dat hulle nié hul kind se SID veroorsaak het nie. Dis ’n ontwikkelingsagterstand waarvan die oorsake nog nagevors word, maar faktore soos ’n toksiese omgewing en komplikasies tydens geboorte speel ’n rol. Daar is ’n sterk genetiese verband – ouers kan ooreenstemmende kenmerke toon.
“Hoewel ouers SID nie kan voorkom nie, het hul optrede ’n invloed. As ’n baba ’n genetiese predisposisie het, kan tye in ’n sensories ryk omgewing soos ’n winkelsentrum SID vererger. Ons moet ook daaroor besin dat ’n radio of ander toestel deurentyd in ons huise en motors speel.
“Arbeidsterapeute met nagraadse opleiding in sensoriese integrasie by SAISI of die Universiteit van die Witwatersrand is toegerus om SID te identifiseer en funksionaliteit te verbeter. Deur doelgerigte aktiwiteite, gespesialiseerde toerusting en gesonde kliniese redenasie skep ons geleenthede om sensoriese integrasie aan te help.
“Ek werk met volwassenes én kinders, maar hoe jonger die persoon, hoe meer plasties is die brein. Ons ontwerp uitdagings wat pasiënte nét genoeg strek om nuwe neuropaadjies te vorm. Dit kan byvoorbeeld wees om ’n skoolkind sover te kry om met die trappies op die verhoog te stap. Met kinders werk ons spelenderwys. Aanpassings in die klaskamer of tuis kan ook help om sensoriese oorlading te vermy.
“Om agter te kom waarop ons moet fokus, gebruik ons standaard, ouderdomsgepaste toetse en kliniese observasie saam met inligting verskaf deur ouers en onderwysers. Mediese fondse betaal wel vir arbeidsterapie, dikwels uit die spaarplan. Omdat ons pasiënte langer sien – soms een of meer keer per week vir tot 18 maande – vra ons minder as fisioterapeute. Wanneer mense op die platteland woon, doen ek blokterapie of konsulteer ek met hul arbeidsterapeute indien hulle nie sensories opgelei is nie.
“Sport is ’n wonderlike manier om jouself te reguleer. Van die volwassenes wat my kom spreek, is hoogs funksionele mense wat byvoorbeeld soggens draf om hulself te kalmeer. Om kougom, wortels, biltong of die chewy grips wat arbeidsterapeute vir kinders gee te kou bevorder ook selfregulering.
“Mense met SID funksioneer beter as hulle hul omgewing kan beheer en nie aan onvoorsiene sensoriese prikkels blootgestel word nie. Hul behoefte aan beheer kan hulle rigied of baasspelerig laat voorkom. Hulle sukkel soms met ’n spanbenadering.
“Afgesien van ’n program waardeur ons volwassenes se sensoriese toleransie by die werk verbeter, kyk ons ook na moontlike veranderings in die werksveld. Dr. Annemarie Lombard van Kaapstad fokus op die korporatiewe veld: sensoryintelligence.co.za
“Bewustheid kan die lewe baie vergemaklik. As jy wéét jou kind kan min sensoriese insette hanteer, verstaan jy hoekom sy nie gek is na drukkies nie. In ’n gesin kompliseer sensory mismatches soms verhoudings. ’n Ma wat sensories oorsensitief is – ’n sensory avoider – kan baie geïrriteerd raak as haar kind ’n sensory seeker is wat gedurig aan haar wil vat, of oor haar hare wil vryf. Hoe meer emosioneel jy is, hoe erger ervaar jy ’n sensoriese uitval, en andersom. Selfinsig voorkom dat jy al die skuld op jou kind pak.
“Bespreek sensoriese uitvalle met jou laerskool- of hoërskoolkind. As sy byvoorbeeld nie Ouma se kos kan inkry nie, kan julle voor ’n kuier besluit of sy dalk iets by die kos kan gooi, of wat sy vir Ouma kan sê om die situasie te ontlont.”
• Meer inligting, ook oor terapeute, by www.instsi.co.za
• Leeswerk: The out of sync child deur Carol Stock Kranowitz, Skylight Press, 2005.
’n Ma en juffrou se ervaring
Dianne*, laerskoolonderwyseres en ma van drie, vertel:
Tot op twee het ons middelkind, Philip* (7), geen probleme gehad nie behalwe dat hy tassensitief was. Skielik het hy uur lange tantrums begin kry, twee tot vyf keer per dag. Oplaas is ons met hom na ’n arbeidsterapeut. Sy het gesê daar is sensoriese uitvalle maar drie maande se terapie het so ’n groot verskil gemaak dat ons dit kon staak.
Kort daarna het ’n verjaardagpartytjie met baie mense en lawaai Philip heeltemal omvergewerp. Hy het ’n week bo-op sy duvet geslaap en geweier om die bedlinne te versteur.
By die skool het Philip sy arm gebyt en sy rug na die klas gedraai. Nog drie maande se arbeidsterapie was nie doeltreffend nie en hy is na ’n spelterapeut – hy was kort tevore drie. Volgens die terapeut het Philip SID, aandagafleibaarheid en ernstige skeidingsangs gehad. ’n Psigiater het angsmedikasie voorgeskryf, en hy het spraakterapie begin kry.
Omdat die terapeute saamgestem het dat Philip uiters intelligent is, is hy in graad R na die hoofstroomskool waar ek skoolhou. Wanneer hy vir mammatroos na my sou kom en ek soos ’n onderwyseres moes optree, was dit moeilik. Hy het op plekke soos die skooltrappe begin urineer en gesukkel om maats te maak. Partytjies was nag.
Ons het soveel moontlik struktuur aan sy lewe gegee en dikwels sosiale uitnodigings van die hand gewys. Omdat Philip min sukeservarings gehad het, het sy selfbeeld verswak. Hy het nou ook medikasie vir aandagafleibaarheid gekry. Die sensoriese integrasieprobleem het weer na vore gekom en ’n sensoriese integrasie-arbeidsterapeut behandel hom sedertdien. Ek woon die sessies by omdat ek soveel leer, en ons gee Philip ook ’n sensories ondersteunende dieet.
Philip se graad R-juffrou het voorgestel dat hy graad 1 in ’n brugklas met meer individuele aandag doen. Ek het ook gedink dit sou voldoende wees. ’n Opvoedkundige sielkundige moes hom psigometries toets, en groot was ons verbasing toe sy sê hy is hoogs begaafd, maar moet na ’n remediërende skool vir kinders met ’n gemiddelde of hoër intelligensie gaan. Hy is onder meer ’n visuele leerder, wat nie noodwendig aangespreek word in tradisionele klaskamers nie.
Vanjaar se aanpassing in die nuwe skool – werklik ’n wonderlike omgewing – was moeilik, maar ’n streng roetine en visuele skedules vir huistakies, skoolaktiwiteite, en so meer het gehelp. Philip het gou begin blom. Verlede jaar het hy syfers omgedraai en gesukkel met skryf, en nou kry hy toekennings vir wiskunde en kreatiewe skryfwerk! Sy selfbeeld raak al beter en soms sê hy: “Haai, ek is nogal goed hierin.” Soms raak dinge vir hom te veel, veral in vakansietye wanneer hy geen terapie kry nie, maar dikwels lyk hy nes ’n doodgewone kind.
Die remediërende skool is ’n groot finansiële las, maar ons kon dit regkry om ons huis te verkoop. My man, my bsteunpilaar, is die mees toegewyde pa denkbaar. Hy woon elke terugvoersessie met onderwysers en terapeute by en maak tyd om na te lees. Ons is albei bedag op trekke van aandagafleibaarheid, angstigheid en sensoriese integrasiedisfunksie in onsself. Hierdie pad het van my ’n beter onderwyseres gemaak. Ek is bewus van elke kind se sensoriese bedrading, en leer hulle daagliks om na hul liggaam te luister maar te onthou hul brein is in beheer.
*skuilname
Klik hier om nog van hierdie me se verhaal te lees.
Voorbeelde van SID
SID of sensoriese integrasiedisfunksie verklaar sommige leer- en gedragsprobleme wat nié deur ooglopende abnormaliteite of skade aan die sentrale senustelsel veroorsaak word nie. Disfunksie kom voor indien meer as een lewensgebied ernstig geraak word, verduidelik arbeidsterapeut Charlene Cruickshank.
“Die vraag is: is dit ’n gedragspatroon, of is daar ’n sensoriese rede?”
Persoonlike sorg
- Tande borsel kan iemand byna laat naar word, of die seep kan te skerp ruik. Daarom jok party kinders oor stort of tandeborsel!
- Wanneer kossmake, -geure of –teksture iemand laat gril, kan etenstye in ’n slagveld ontaard. Een kind kon byvoorbeeld niks anders inkry nie as een soort fyn sjokoladepap, net só dik aangemaak.
- Sekere materiale of klere-etikette kan ondraaglik krap.
- Ná ’n dag se sensoriese oorlading kom party mense moeilik tot rus. Dit moet stikdonker wees en Mamma moet die kind se rug ure lank vryf. Tydens terapie kalmeer dit sommige kinders se senustelsels wanneer hulle tussen twee matrasse gekokon word.
- Aktiwiteite waar die twee kante van die liggaam moet saamwerk, soos eet met ’n mes en vurk, skep probleme.
Werk/skool/jong kinders se spel
- Wanneer kinders laat begin loop, of sukkel om van die doeke af te kom, kan dit op SID dui.
- Jong kinders sukkel met hul potloodgreep of die ruimtelike oriëntasie van letters en syfers.
- Spraak- en taalontwikkeling, fokus, aandagspan en sosiale vaardighede kan problematies wees.
- Om ’n nuwe motoriese beweging te beplan en met die korrekte opeenvolging van stappe uit te voer, soos om te leer fietsry, touspring of galop, is moeilik en onbekende aktiwiteite word eerder vermy.
- Lompheid is ’n kwessie, maar lomp kinders is gewoonlik nie bang om te val nie. Hulle staan op en gaan voort!
- Party sensories dormante mense raak soggens laat eers behoorlik wakker en kan as lui beskou word.
- Om ’n tas, aktetas of lessenaar te organiseer is ’n uitdaging en ’n bewegende screen saver kan steurend wees.
Vryetydsbesteding
- Partytjies met baie mense en sensoriese insette is net te oorweldigend.
- Aktiwiteite waartydens die twee kante van die liggaam moet saamwerk (soos swem), waar die motoriese en oogfunksie saamwerk (soos om jou oog op ’n bewegende bal te hou) of waar die liggaam moet aanpas om balans te behou (soos rolskaats) skep probleme.
- Ongemak wanneer albei voete nie op die grond is nie, of hoogtevrees kom voor.