Erika du Toit oor borskanker, kreatiwiteit, dans en heelword deur Erika du Toit, versorg deur Mariette Snyman. Foto’s verskaf. Hooffoto: Vyf Dancing Divas geniet hul optrede.
Ons gesels met Erika du Toit op ons gratis podsendingsreeks, Tussen Ons. Luister sommer nou hierna:
Borskanker: deel van my heelwordpad
Mense se seer loop meestal op verskillende en unieke paaie en ons weet dat raad gee baie gevaarlik kan wees as jy eenogig en eensydig jou raad uitdeel. Ek deel daarom my ondervinding met my heelwordpad ná borskanker.
Ek is in die veld van fotografie opgelei en gee deeltyds klas in fotografie by Tshwane Universiteit van Tegnologie vir Grafiese en tot onlangs ook Interieur Ontwerpstudente.
Om kreatief te wees is eintlik vir elkeen beskore, net soos dans vir almal moontlik is. Daar is ’n besluit en ’n wil ter sprake! As jy die besluit geneem het om te wil, kan jy heelwat interessante ontdekkings in jouself maak. (Daar is gemaklike vriende soos pinterest wat al te graag jou hand sal vat!)
Ek het beleef dat trauma ’n groot rol speel in die uitgebrande, dooie kreatiwiteit-spel van getraumatiseerdes. As getraumatiseerde is dit asof jou hele wese gaan stilstaan en jy eintlik niks sien/hoor/proe of voel nie. Daarom moes ek in my genesingspad bewustelik besluite neem om weer my oë op die mooi en lekker en spesiaal van die lewe te laat val.
https://www.instagram.com/p/BqC_SvnFNor/
Dit het ek deur die Instagram-platform gedoen: erikaheartbeat. Ek gebruik my Instagram-rekening grotendeels om klein detailstukkies van my daaglikse bestaan te geniet en af te neem. Ek kon myself nie sover kry om iets van my lewe op Facebook te deel nie, omdat dit vir my gevoel het dis té oop vir almal om te sien en te veel kommentaar kon daaruit vloei. (Dit kan op Instagram ook gebeur, maar dit voel asof ek tog meer kon wegkruip.) Met Instagram was dit ’n blootstelling sonder om myself of my privaatlewe noodwendig te ontbloot.
Ek het in my donkerste tye gestoeeeeiiiii om iets te kry om af te neem, maar telkens verras gestaan dat daar wel mettertyd weer kreatiewe lig oopgebreek het. Ek kon vir lank nie my kamera gebruik nie as gevolg van die ongemak en gewig van die kamera. Die waarde van ’n “kamera aan my lyf “, in die vorm van my selfoon, was en is soos manna uit die hemel.
Ek probeer om nie persoonlike foto’s op te sit nie, maar eerder “legkaartstukkies” van ’n herinnering of gebeurtenis vas te vang. So word my visuele oog weer gestimuleer om waar te neem en te geniet. In hierdie faset vind ek heerlike satisfaksie.
https://www.instagram.com/p/BdrkND4B2WV/
Ek moedig my studente ook aan, wanneer die kreatiewe sappe ’n bietjie opgedroog het of wanneer hulle onder die merk voel, om sommer net op ’n interessante plek te gaan rondloop en klein stukkies van ’n groter prentjie te gaan soek om af te neem. Die feit dat jy dit met vreemdes deel, laat jou verantwoordelikheid vat vir dit wat jy blootlê van jouself en hoe jy die lewe sien. Die enigste aspek van publiek-gaan wat gevaarlik is, is as jy jou selfwaarde meet aan jou hoeveelheid likes. Dis ’n uiters gevaarlike maatstaf om jou lewe of gemoed op te bou. Ek het dit hoegenaamd vir niemand anders as vir myself gedoen nie, en die opwaartse pad stelselmatig sien ontwikkel.
My raad dan? Vat jou selfoon en gaan stap, verkieslik alleen, op ’n plek waar jy geforseer word om met intensiteit waar te neem. Jy sal verras staan oor wat jy sien! Geniet die kreatiewe groei. Onthou, hoe meer jy jou waarneming stimuleer, hoe “ouliker” gaan jy word!
https://www.instagram.com/p/BiuGjP4F0k6/
En dan is daar dans!
Ek het gedurende my dansklasse vir vrouens (almal dans sonder ’n dansmaat) ook agtergekom hoe vinnig ’n mens kan optel iemand is nie op ’n gemaklike plek nie. Dis asof sy nie mooi haar lyforiëntasie behou nie en die patroon van die dans verloor. Vele male sal ek dan net ’n opmerking maak dat ek kan sien dis nie haar lekkerste dag nie. Woeps! breek die hart oop, en vertel sy wat haar pla. Net nadat die seer, ongemak of spanning wat gepla het, geuiter is, val die voete weer in veilige ritme.
Die groot lekkerte van Dancing Divas, waar ek instrukteur is, se klasse is dat die vrouens veilig voel omdat daar geen kompetisie is nie en elkeen eintlik net op haarself fokus. As danser kan jy dit nie bekostig om te bekommer of iemand jou dansvermoë dophou nie, want jy stoei so om die “beeld” in die spieël gelukkig te hou. Ek sê altyd: Hou jou refleksie in die danslokaal se spieël gelukkig, want sy gaan ná die klas saam met jou huis toe!
Die idee dat jy nie ritme het nie is moontlik vir jou waar, maar elkeen wat kan tel en wat asemhaal, het ingebore ritme! Ek het al verstommende resultate en deurbrake beleef met vrouens wat net ’n besluit geneem het om te wil! Daardie selfdissipline en deursettingsvermoë is bewonderingswaardig … veral vir getraumatiseerde vrouens wat sukkel om weer hulself te vind. Byt net vas, girlie, you can do it! Ek misbruik Nike se “Just do it” effektief as motivering in my dansklasse.
Gaan loer by erikaheartbeat op Instagram en www.facebook.com/erikadutoitphotography/
Dancing Divas: https://dancingdivas.co.za/
Vir nog inspirasie, loer hier