Sensoriese integrasiedisfunksie: wenke van ’n juffrou en ma, versorg deur Mariette Snyman. Foto: Unsplash
Hierdie webartikel sluit aan by ons artikel “Is die probleem sensories?” in die Januarie 2020-uitgawe.
In dié artikel vertel Dianne*, laerskoolonderwyseres en ma van drie, van hul pad met hul middelkind, Philip* (7).
Philip is hoogs begaafd, maar het afgesien van sensoriese integrasiedisfunksie (SID) ook ernstige aandagafleibaarheid en ’n hoë vlak van angstigheid. Hy het swaar gekry in ’n hoofstroomskool, maar blom nou in ’n remediërende skool vir kinders met ’n gemiddelde of hoër intelligensie.
Sedert Philip deur ’n arbeidsterapeut met ’n nagraadse kwalifikasie in sensoriese integrasie behandel word, is daar ’n merkbare verskil.
Dianne is nou bedag op die sensoriese bedrading van elke kind vir wie sy skoolhou.
*skuilname
Dianne se wenke
- Hou jou kind se gedrag van kleins af fyn dop. Moet hom nie met sy maatjies vergelyk nie, maar wees van die belangrike mylpale bewus.
- Mense met sensoriese integrasiedisfunksie (wat beteken hul sensoriese prosessering is nie toereikend nie) lê iewers op ‘n kontinuum tussen twee pole: sensory defensiveness, wat beteken hulle is oorsensitief vir sensoriese stimulasie, en sensory seeking, wat meen hulle het ’n sterk behoefte aan sensoriese insette. ’n Arbeidsterapeut, verkieslik met ’n nagraadse kwalifikasie in sensoriese integrasie, leer hulle wanneer om sensoriese stimulasie te avoid en wanneer om dit te seek.
Lees ook: Is jou kind se sintuie oor- of ondersensitief?
Vir kinders met SID raak ’n gewone skooldag soms net te veel
- Ek woon sover moontlik Philip se sessies met die sensoriese integrasie-arbeidsterapeut by omdat ek soveel leer. Moenie bang wees om vrae te vra nie. As ’n terapeut nie jou vrae kan beantwoord nie, moet jy iemand anders kry. Jou kind sal agterkom alles is nie pluis nie. Terapie verg doeltreffende kommunikasie tussen die terapeut, ouers en die kind.
- Vir kinders met sensoriese integrasiedisfunksie of SID raak ’n gewone skooldag soms net te veel. Hulle voel soos ’n bottel vol gaskoeldrank wat heeldag lank geskud word en sodra hulle tuiskom, skiet die prop af. Ek begryp nou dis omdat die tuisomgewing veilig is dat hulle maar kan “ontplof”, en hoewel dit regtig nie lekker is nie, weet ek die geweldige spanning wat opbou wanneer hoë eise aan hulle gestel word, moet iewers ontlaai.
- Universiteite sluit nie noodwendig SID in onderwysopleiding in nie. Praat met jou kind se onderwysers. Goeie samewerking is nodig sodat die kind se ervaring tuis en by die skool met mekaar kan integreer.
- Wanneer ’n onderwyser bekommerd is oor jou kind se vordering of gedrag, moet jy jou eie navorsing gaan doen. Kinders met uitdagings kry baie keer onverdiend die “stout”-etiket. Dis belangrik om te kyk of daar dalk struikelblokke kan wees wat leer of vordering bemoeilik. Ek het byvoorbeeld al verskeie goeie kursusse in aandagafleibaarheid/hiperaktiwiteit bygewoon omdat Philip dit het, en daar is sinvolle ouerskapkursusse beskikbaar.
- Nuwe ervarings en vreemde mense is ’n uitdaging vir kinders met SID. ’n Partytjie kan ’n meltdown veroorsaak.
- Vakansietye, wanneer Philip geen arbeidsterapie kry nie, is nie noodwendig maklik nie. Ons weet nou al om ons hierop voor te berei.
Ons het ’n stelsel waar een van ons drie kinders elke dag “topdog” is
- ’n Vaste roetine maak ’n reuseverskil aan Philip se lewenskwaliteit. Ons doen moeite daarmee al verg dit opofferings, soos om uitnodigings na ’n braai wat eers om seweuur saans begin van die hand te wys. Voorspelbaarheid is baie belangrik.
- Philip is ’n visuele leerder. As ons sy rooster en aktiwiteite visueel voorstel, help dit regtig baie. Ons het ’n stelsel waar een van ons drie kinders elke dag topdog is. Hy of sy hoef daardie dag nie huistakies te verrig nie, kan eerste gaan bad, ensovoorts. Ons plak hierdie rooster teen die yskas sodat Philip kan sien watter dag dit sy beurt is om topdog te wees. Hy kan ook sien watter takies hy elke dag moet doen, en hoeveel sakgeld hy met hierdie takies verdien.
- Philip vaar beter met ’n sensories ondersteunende dieet.
- Ek maak my skoolleerlinge (ook die wat nie SID het nie) bewus daarvan dat hulle na hul liggaam moet luister. Ek verdeel ’n bladsy in drie dele: hoog, middel, en laag. Met die hulp van kleure en dierekarakters leer ek hulle om te besef wanneer hulle “hiper” voel en te hoog lê, en wanneer hulle traag voel omdat hulle te laag lê. Ek leer hulle verder: “Ek luister na my lyf, maar my brein is in beheer.” Wanneer hulle “hiper” voel, wil hulle dalk aan ’n skoolmaat stamp, maar dan kan hulle eerder gou ’n paar opstote doen.
SID het ’n sterk oorerflikheidskomponent
- ’n Binnenshuise trampolien werk goed vir Philip, maar ’n arbeidsterapeut met ’n kwalifikasie in sensoriese integrasie sal die beste aanbevelings kan maak.
- SID het ’n sterk oorerflikheidskomponent. Ek en my man is bedag op trekke hiervan in onsself. As meer as een kind in ’n huishouding dit het, is dit belangrik om dit goed te bestuur, veral as een kind sensories oorsensitief is en min sensasies kan hanteer, terwyl die ander een ’n sensory seeker is en heeltyd aan die boetie of sussie wil vat of karring.
- ’n Kind met SID verg geweldig baie van ouers. Jy moet help met arbeidsterapie-“huiswerk”, gewone huiswerk, ensovoorts. Jy moet soveel moontlik steun kry en soms ’n aftydjie kan geniet. Onthou dat jou kind ook gawes en goeie eienskappe het!
- As jou kind struikelblokke soos SID, aandagafleibaarheid/hiperaktiwiteit, disleksie, ensovoorts ervaar, kan jy vra om lid te word van die geslote Facebookgroep Moms of Extra Special Kids SA vir steun en advies.
Vir nog goeie ouerskapraad, klik hier