Ses skoonmaakfoute vir banke en stoele wat jy nooit moet maak nie. Deur Cornel Dunn. Hooffoto: Pexels
Gestoffeerde meubels soos banke en stoele kan kwaai deurloop onder troeteldiere en kinders. Naas matte, word hierdie meubelstukke die meeste blootgestel aan stof en vlekke.
Verhoed die volgende as jy dit wil skoonmaak.
Hier is ses skoonmaakfoute vir banke en stoele wat jy nooit moet maak nie
1. Jy skrop die materiaal
Deur die materiaal te skrop, dryf jy die merke net dieper in die vesel in.
As die merk vars is, gebruik kombuispapier om die oortollige vloeistof weg te klad.
As die vlek ouer is, maak gebruik van ’n vlekverwyderaar of ’n stoomskoonmaak-masjien.
2. Jy gebruik te veel water
Selfs skoon water sal vlekke laat as die materiaal te nat word. As die materiaal droog word, sal daar dan ’n permanente watervlek wees. Gebruik die minimum water.
3. Jy gebruik die verkeerde skoonmaakprodukte
Enige skoonmaakmiddel wat bleikmiddels of ammoniak bevat moet vermy word. Dit sal die materiaal laat verkleur en ook beskadig. Selfs die vesels self sal ’n knou kry.
4. Jy gebruik die verkeerde skoonmaaktoerusting
Gebruik sagte mikrovesel-lappies wat nie rafels sal agterlaat nie.
Vermy harde borsels.
5. Jy wend materiaalbeskermers verkeerd aan
Materiaalbeskermers soos Scotch Guard is baie gewild. Dit verhoed vlekke en beskerm die meubelstuk.
Daar is ook doen-dit-self-produkte beskikbaar, maar as jy dit nie reg aanwend nie, kan dit jou baie skade berokken. As jy twyfel, laat dit liewer professioneel doen.
6. Jy gebruik te veel hitte
Sekere materiale soos sy of mengsels hiervan, word maklik deur hitte beskadig. Alhoewel stoomskoonmaak baie gewild is, is dit nie ideaal vir alle materiale nie.
Wenke om jou gestoffeerde meubels self skoon te maak
Tuisgemaakte skoonmaakmiddels is goedkoop en vriendeliker vir die omgewing.
- Vir materiaalbekleedsel, meng ’n ¼ koppie witasyn, ’n ¾ koppie warm water en 1 eetlepel opwasmiddel. Skud dit saam in ’n sproeibottel. Sproei die vlek. Gebruik ’n mikrovesel-lappie om die vlek saggies te vryf. Gebruik ’n tweede lappie wat in water geweek is om die seep te verwyder. Druk dit droog met ’n handoek.
- Vir leerbekleedsel, meng ’n ½ koppie olyfolie met ’n ¼ koppie witasyn. Sproei dit op die vlek en poets.
- Vir sintetiese bekleedsel, meng ’n ½ koppie witasyn, 1 koppie warm water en 2 eetlepels opwasmiddel in ’n sproei bottel. Sproei die area en gebruik ’n sagte lappie om die vuilheid saggies weg te vryf.