Toffie-appels deur Vickie de Beer. Foto: Lindy Kriek
Toffie-appels
Ingredients
- • 8 klein rooi appels
- • 8 sosatiestokkies of takkies
- • 400 g suiker
- • 10 ml (2 t) asyn
- • 75 ml (5 e) esdoringgegeurde stroop
- • 20 g (25 ml) botter
- • 5 ml (1 t) rooi voedselkleursel
- • 5 ml (1 t) vanieljegeursel
- • 125 ml (½ k) water
Instructions
1 Was die appels en droog goed af. Druk ’n stokkie deur die bokant van die appel.
2 Verhit die res van die bestanddele in ’n kastrol oor matige hitte. Roer tot die suiker opgelos is, maar moenie laat kook nie. Verf enige kristalle wat aan die kastrol se rand vorm met ’n
kwassie wat liggies in water gedoop is.
3 Verhit die mengsel tot kookpunt en laat dit saggies prut totdat ’n temperatuur van 116 – 118 °C (sagtebalstadium) bereik is. As jy nie ’n suikertermometer het nie, kan jy ’n klein bietjie van die stroop in ’n piering water drup. As dit ’n sagte bal vorm wanneer jy dit met jou vinger bymekaardruk, is dit reg.
4 Trek van die hitte af. Druk die boom van die kastrol in koue water om die kookproses te stop. Sit die kastrol op die werks-vlak langs die appels.
5 Doop elke appel in die toffie en draai in die suikerstroop sodat die hele appel bedek is.
6 Pak die toffie-appels op ’n skinkbord wat met bakpapier uitgevoer is. Laat staan tot die toffie hard geword het en pak versigtig in ’n lugdigte houer vir die piekniek.