Maak nuuskierige kinders groot! deur Mariette Snyman
Ma, ek wil weet!
“Mamma, wat beteken … ? Watter een … ? Hoekom is … ?”
Vrae, die een na die ander.
Sommige jong kinders vra tot honderd vrae binne ’n uur, sê die navorsing. En dié verskynsel moet jou nie teen die mure uitdryf nie. Nee, jy moet jou verheug oor jou weetgierige spruit!
Dit verg natuurlik selfbeheersing, veral as jy grootgeword het met die spreekwoord “van nuuskierigheid is die tronk vol en die kerk leeg”.
Ian Leslie, skrywer van Curious: the Desire to Know & Why your Future Depends on it (Quercus, 2014) het ’n gans ander uitkyk. “Nuuskierige mense is geneig om slimmer, kreatiewer én suksesvoller te wees. Ongelukkig word leergierigheid dikwels onderskat of verkeerd verstaan. Hoewel ons almal daarmee gebore word, verloor baie mense dié vermoë. Nuuskierigheid is soos ’n spier wat gereeld oefening moet kry. Dit kan beskryf word as ’n gewoonte – een wat ouers, skole, werkplekke en individue moet koester om dit te laat gedy.”
Kan jy té nuuskierig wees?
Dis natuurlik waar dat mense wat (veral kritiese) vrae vra deur die eeue met agterdog bejeën en selfs tereggestel is. “Curiosity is insubordination in its purest form,” het die romanskrywer Vladimir Nabokov dit raakgevat. Dit kan riskant wees om vrae te vra aan iemand in ’n gesagsposisie – of dit nou jou pa is, ’n onderwyser, of die verteenwoordiger van ’n regeringstelsel of ander maatskaplike instellings.
Verwerping is ’n verdere gevaar wat weetgieriges op die lyf loop. Het jý in die klaskamer vrae gevra sonder om twee keer te dink? Die meeste van ons is bang ander spot met ons onkunde. Daarby verg “goeie maniere” en politieke korrektheid dat jy nie aanstoot gee deur emosioneel gelaaide onderwerpe soos godsdiens, seksualiteit en die politiek aan te raak nie.
Dis ironies: geleerdheid en oorspronklike denke word oënskynlik hoog aangeslaan, maar dit bly ’n waagstuk om meer inligting te versoek of te laat blyk dat jy anders dink. Soos Leslie dit stel: “Elkeen, van Galileo tot Charles Darwin tot Steve Jobs, kan daarvan getuig dat ’n ondersoekende ingesteldheid jou die een of ander tyd in konflik met gesag bring.”
Hoekom sou jy dan jou kind wou aanmoedig om nuuskierig oor die werklikheid te wees?
Eerstens verhoog weetgierigheid ons lewensgehalte. Het jy geweet ons is evolusionêr bedraad om plesier uit die soektog na inligting te put? Neurowetenskaplikes het bevind weetgierige vrae stimuleer die koudaatnukleus, dié deel van die brein wat met leer, visuele skoonheid en romantiese liefde verbind word. Die koudaatnukleus is ryk aan neurone wat dopamien vervoer,
’n chemiese stof wat deur ons brein stroom wanneer ons kos of seks geniet.
Kinders wat “wil weet” vind die lewe nie net meer bevredigend nie, maar het ook ’n groter kans op studie- en loopbaansukses. “Opvoedingsvlak is die grootste enkele bepaler van mense se potensiaal om welvarend te wees,” skryf Leslie. “In Amerika verdien gegradueerdes vandag tagtig persent meer as studente wat nie hul hoërskoolloopbaan voltooi het nie. Akademiese prestasie is die sleutel tot tersiêre onderrig.
“Ons weet almal intelligensie het ’n invloed op akademiese sukses, maar studente se houding teenoor die leerproses is van kernbelang. Dink maar aan eienskappe soos deursettingsvermoë, selfdissipline en veerkragtigheid. Deesdae beland intellectual curiosity toemenend onder die soeklig. Navorsers meen intelligensie, pligsbesef en nuuskierigheid is die drie pilare van akademiese prestasie.
“Om die waarheid te sê is daar nou die eerste keer ’n wetenskaplike instrument wat intellektuele nuuskierigheid meet: die “need for cognition” of NFC. NFC meet onder meer die honger na nuwe kennis, asook kognitiewe en deursettingsvermoë. Die drang om sin te maak van die werklikheid is ’n universele eienskap, maar sommige mense verkies kortpaadjies terwyl ander langer, ryker intellektuele roetes neem.
Sielkundiges gebruik NFC om vas te stel hoe hoog mense in dié verband toets. Die telling bly nie noodwendig konstant nie – ons kan enige tyd kognitief ‘lui’ raak!
“Mense met ’n hoë NFC-telling is die beste keuse vir poste waarin hulle nie bloot prosedures moet volg of op versoeke moet reageer nie, maar indringende vrae moet vra en probleme moet oplos.
Hulle kan die kognitiewe uitdagings in kennisryke velde soos finansies en sagteware-ontwikkeling goed hanteer. Gewoonlik maak hulle maklik kreatiewe verbintenisse tussen studievelde, en daarom is hulle ideale kandidate vir interdissiplinêre spanne. Hulle is in die gelukkige posisie dat rekenaars nie sommer hul werk sal kan oorneem nie. Van geen rekenaar, hoe gesofistikeerd ook al, kan gesê word dat dit nuuskierig is nie.”
Drie soorte nuuskierigheid
Ons het reeds van kleins af ’n oog vir iets nuuts. Wanneer babas van twee maande deur bekende en onbekende patrone gekonfronteer word, verkies hulle die onbekendes. Dié voorkeur vir ’n verskeidenheid prikkels staan as diversive curiosity bekend.
“Diverse nuuskierigheid is ’n rustelose verlange na the next thing,” sê Leslie. “Ons moderne wêreld speel slim hierop in. Elke twiet, koerantopskrif, advertensie, blog post en app dra die belofte van ’n bevrediging wat ons ongeduldig bly begeer, maar selde kry.
“Populêre vermaak beweeg al vinniger om ons aandag te behou. Die gemiddelde skoot in vandag se Amerikaanse flieks is sowat twee sekondes, teenoor 27,9 sekondes in 1953.”
In wese is diverse nuuskierigheid oppervlakkig. Dit raak maklik ’n rigtinglose rondspring van een prikkel na die volgende maar dit is ook noodsaaklik vir leergierigheid, want dit vestig ons aandag op die onontdekte.
Dit kan die poort wees tot ’n insigryker soeke na kennis: die tweede vorm van nuuskierigheid, epistemic curiosity. Epistemiese nuuskierigheid behels die stadige, gedissiplineerde, soms frustrerende inwin van kennis. Dit verg volgehoue inspanning en is ’n voorwaarde vir gespesialiseerde kennis oor ’n onderwerp.
Derdens kry ons empatiese nuuskierigheid, ’n intense belangstelling in ander se denke en gevoelens. Dis dieper as “skindernuuskierigheid”, wat eintlik diverse nuuskierigheid oor die detail van ander se lewe is.
Deur empatiese nuuskierigheid probeer jy jou in iemand se plek stel. Diverse nuuskierigheid laat jou wonder watter werk iemand doen, terwyl empatiese nuuskierigheid jou laat vra hoekom sy daardie werk gekies het.
Jy kan jou kind (en jouself!) dophou om te sien watter vorms van nuuskierigheid eie aan hom is. Die ideaal is dat diverse in epistemiese nuuskierigheid omskep word, sodat hy hom in spesifieke velde kan ingrawe – vir studiedoeleindes of individuele vervulling.
Watter rol speel die Internet?
Die Internet is ’n speelplek waar elke vorm van nuuskierigheid tot sy reg kan kom. Empatiese nuuskieriges kan hulle na hartelus in ander se gedagtes en innerlike belewenisse verlustig.
Epistemiese nuuskierigheid kan deur dieptenavorsing oor byna enige onderwerp bevredig word. En die Internet is vanselfsprekend ’n onuitputlike bron vir diverse nuuskieriges – jy kan tot jou grysheid van webwerf na webwerf spring – maar soos enige kragtige hulp-middel moet die Internet oordeelkundig gebruik word, veral deur kinders wat ’n groot deel van hul dag daar deurbring.
“As jy glo jy kan net mooi enigiets met jou slimfoon vasstel, sal jy waarskynlik minder moeite doen om dié soort kennis na te speur wat jou krities na Google se antwoorde laat kyk,” sê Leslie.
Gebruikers moet weet dat die toeganklikheid van inligting op die Internet vervlakking kan meebring. Leslie gebruik die voorbeeld van “puzzles” en “mysteries”.
’n Raaisel is iets wat ’n enkele antwoord het, byvoorbeeld watter karakter in ’n speurroman die moord gepleeg het. ’n Misterie dui op ’n wyer kwessie, soos die definisie van skoonheid (jy kan dit mos aan woorde en die natuur ook toeskryf, nie net aan sekere vroue nie!)
“Die gevaar van die Internet is dat dit kitsantwoorde op raaisels verskaf. Dit voorkom produktiewe frustrasie – die begeerte om iets te wete te kom en aan te hou soek tot jy uiteindelik die oplossing kry, soos wanneer jy ’n speurroman lees. Navorsing dui daarop dat hoe meer moeite dit verg om inligting te verwerk, hoe beter leer ons. Ons ontwikkel ook ekstra vaardighede, soos om leidrade raak te sien en die belangrikheid daarvan te beoordeel. Kitsantwoorde ontneem jou van dié verrykende aspekte van ’n ontdekkingstog.
“Die Internet is ook geneig om misteries tot raaisels te vervlak. Kinders kan “skoonheid” google en met ’n kort antwoord tevrede wees, terwyl dit ’n verwikkelde begrip is wat jou dae lank kan besig hou.
“Die Internet gee ons meer leergeleenthede as ooit tevore, maar maak dit ook moontlik om ons glad nie aan hierdie onont-ginde rykdom te steur nie,” beklemtoon Leslie. Volwassenes wat dit besef, kan leergierigheid op ander maniere stimuleer (sien hieronder: Kweek nuuskierige agies.)
Die toekoms behoort aan die nuuskieriges.
Dalk is die eenvoudigste manier om jou kind tot verwondering aan te spoor ’n oor wat graag luister, en ’n eerlike antwoord op élk van jou kind se vrae.
Kweek nuuskierige agies
- Navorsers verstaan nou beter waarom babas van sowat ’n jaar met die vinger na voorwerpe begin wys. As dit geen reaksie uitlok nie, hou die kind op “vra”. As ’n volwassene elke keer bloot die voorwerp vir die kind gee, wys die kind minder dikwels. As die volwassene die voorwerp ’n naam gee, wys die kind al meer. Gee die volwassene die verkeerde name aan bekende voorwerpe, hou die kleintjie later op wys.
- Kleuters jonger as dertig maande vra meestal “wat”- en “waar”-vrae. Op drie vorder hulle na “hoe” en “hoekom”, wat verduidelikings eerder as net feitelike inligting verg. Tussen twee en vyf jaar vra woelwaters sowat 40 000 vrae wat verduidelikings behels. Dit stel geweldige eise aan ouers wat soms net ’n oomblik se stilte begeer! Aan die ander kant kan elke reaksie op ’n kind se vrae sy weetlus aanvuur of smoor.
- Bevorder jy kinders se nuuskierigheid slegs deur hul vrae getrou te antwoord? Nee! Navorsing onder vierjariges toon dat dié wat meer vrae van hul ouers kry, ook meer vrae vra. Ouers wat baie vrae vra, is ook geneig om die kind se antwoorde as wegspringplekke vir “kettinggeselsies” te gebruik deur daarop uit te brei of daarby aan te haak.
- Kinders stel selde belang in ’n onderwerp waarvan hulle niks weet nie. Al het ouers min tyd, kan hulle gereeld ’n kwartiertjie afknyp om hul kind aan interessante onderwerpe bloot te stel. Voorbeelde van kleurryke, fassinerende boeke vir laerskoolkinders oor ’n magdom onderwerpe is Children’s Facts (MapStudio, 2016) en My Eerste Ensiklopedie en die Hoekom Ensiklopedie (albei oorspronklik deur Dorling Kindersley en vertaal deur LAPA, 2016).
- ’n Lekker gesprek maak ’n onderwerp lewendig. Knoop doelbewus geselsies oor interessanthede aan terwyl julle TV-kyk of inkopies doen – byvoorbeeld: “Sien jy daardie babarenoster? Hoekom dink jy … ” en “Wat sou gebeur as hierdie wasmasjien … ”
- Leer jou kind om met haar eie vrae vorendag te kom. As jy haar vir ’n lugweginfeksie dokter toe vat, vra vooraf wat sy die dokter alles wil vra. Dalk onthou sy dat haar deodorant ’n allergiese reaksie veroorsaak. Só leer sy om verder te dink én om met selfvertroue vrae te vra.
- Anders as wat sommige mense meen, maak die Internet feitekennis van ’n vakgebied nie oorbodig nie. Denkvaardighede en kreatiwiteit word nie in ’n lugleegte aangeleer nie; dit verg ’n konteks. ’n Stewige basiskennis van velde soos wiskunde is noodsaaklik. Ons stoor slegs ’n paar items in ons korttermyngeheue, en dit raak meestal binne 30 sekondes verlore tensy dit aan iets in die langtermyngeheue gekoppel kan word. ’n Ryk langtermyngeheue help met leer, en bevorder ook probleemoplossing. Wanneer die onderliggende elemente van ’n probleem (soos die simbole in ’n som) bekend is, is daar meer breinkapasiteit beskikbaar vir die daadwerklike oplossing (om die antwoord uit te werk.)
- Feitekennis kan kreatiwiteit ’n hupstoot gee. “Jy moet ’n gebied se reëls deeglik ken voor jy hulle kan buig of breek,” skryf Leslie. “Selfs geniale mense bestudeer hul velde jare lank voor hulle ’n meesterstuk lewer. Mozart het sy eerste musiekstuk van blywende artistieke waarde eers in sy twaalfde jaar gekomponeer.” Ondersteun dus jou kind in die aanleer van feitekennis.