Is jy onwetend met hierdie kankerwekkers in kontak? deur Salome Delport. Foto’s: Unsplash.
Kanker neem toe om redes soos dat ons al ouer word. Maar dit het ook te doen met daardie kankerwekkers waarmee ons elke dag in kontak is. Van party weet die meeste van ons maar net nie – as ons weet dat hulle kanker kan induseer, sal ons hulle vermy. Maar met party is ons vrywillig in kontak. Sowaar uit eie, vrye keuse. Maak dit sin, as kanker in jou familie loop?
Hoe weet ons ’n middel is ’n kankerwekker?
Van watter karsinogene, soos die wetenskaplikes kankerwekkers noem, praat ons? En hoe weet ons iets is karsinogenies?
Die IARC (International Agency for Research on Cancer, ’n afdeling van die WGO) evalueer al van 1970 voortdurend al die nuwe navorsing wat oor alle chemiese stowwe gepubliseer word. Hulle klassifiseer op grond daarvan die waarskynlikheid dat ’n middel potensieel ‘n kankerwekker is.
Soos ons kennis verbeter, kom middels by. Ander kere word ’n agent van die lys afgehaal. So is gliofosfaat (glyophosphate, in sekere onkruiddoders) onlangs van die IARC se lys afgehaal, maar dit word steeds hewig gedebatteer deur ander organisasies.
Die IARC klassifikasiestelsel werk so:
- Groep 1A: Die middel is ’n besliste kankerwekker vir mense. Daar is voldoende bewyse.
- Groep 2A: Die middel is ’n waarskynlike kankerwekker vir mense. Daar is beperkte bewyse vir mense maar voldoende bewyse vir proefdiere.
- Groep 2B: Die middel is ’n moontlike kankerwekker vir mense. Daar is beperkte bewyse vir mense en vir proefdiere.
- Groep 3: Die middel is onklassifiseerbaar as ’n kankerwekker ten opsigte van mense. Die bewyse is onvoldoende vir mense en proefdiere.
- Groep 4: Die middel is waarskynlik nie ’n kankerwekker vir mense nie. Daar is bewyse dat dit nie karsinogenies vir mense en proefdiere is nie.
Is ’n kankerwekker altyd ’n kankerwekker?
Nee, en ja. Dit gaan oor hoe en waar en hoeveel kontak jy daarmee het – en dalk ook met die feit dat jou omgewing jou gene aan- en afskakel.
As jy “vatbaar” is en gereeld in kontak met ’n karsinogeen is, is jou kanse op kanker groter.
’n Paar dinge om te onthou:
Dit kan moeilik en/of duur en/of lank neem om ’n agent se potensiaal as kankerwekker te bewys.
Daarom klassifiseer die IARC al hierdie agente in die bogenoemde groepe, wat neerkom op gradering van groot risiko tot min of geen risiko.
Soveel agente val in elke groep: besliste kankerwekkers – 120 in hierdie stadium; waarskynlike kankerwekkers – 82 agente; moontlike kankerwekkers – 302 agente; onklassifiseerbare agente: 501 agente; en veilige agente, waarvan net een gelys is.
Die dosis is belangrik
As jy af en toe benseen gebruik om oliekolle uit te haal is jy veilig. Maar as jy in ’n droogskoonmakery werk en dit dag vir dag gebruik, is jy nié.
Die manier van kontak is baie belangrik
Die meeste kankerwekkers word glad nie, of net in klein hoeveelhede deur die vel opgeneem. Met sulke kontak is jou risiko baie klein. Maar as jy dit inasem of eet, word dit direk opgeneem – en dan is dit gevaarlik, veral as jy gereeld in kontak daarmee is.
In fabrieke waar hierdie bekende kankerwekkers gebruik word, word die werkers goed beskerm. Maar maak seker dit gebeur. Asbes, byvoorbeeld, word streng beheer omdat dit ‘n sekere vorm van longkanker kan veroorsaak. As asbesdakke vandag verwyder word, moet die werkers beskermende klere en maskers dra. Dit gebeur baie dikwels nie.
Die algemene kankerwekkers op die IARC se lys waarmee ons almal kontak het
Ons het die lys name in Groepe 1A en 2A deurgegaan vir bekende middels. Almal van hulle is besliste karsinogene of hoogs waarskynlike karsinogene, met ander woorde die navorsers is oortuig van hul gevaar. Dit is opvallend dat alles op die lys van definitiewe kankerwekkers neerkom op klein dingetjies wat hoofsaaklik in ons eie hande is.
Ons hou die chemiese name in Engels, dat jy dit maklik kan opvolg en verder kan lees, as jy lus is. Karsinogene sluit nie net chemiese middels in nie; sekere medisynes, swamme en kosse word ook aan kanker verbind.
8 kankerwekkers uit jou kos
- ethanol, wat jy ken as alkohol in alle vorms
- acetaldehyde, wat in jou liggaam vorm elke keer wanneer jy soveel drink dat jy babelas is
- gerookte en gepreserveerde vleis (polonies, ham, Weense worsies en so aan)
- gesoute vis wat gedroog word vir latere gebruik
- betel- of areca nut
- acrolein, wat vorm wanneer jy olie in die pan verhit tot blou rook vorm
- aflatoksien, wat jy as muf op kos, vrugte en neute ken
- benzepyrene, wat vorm wanneer jy vleis en stysels diepbruin verbrand. Dink aan swartgebrande roosterbrood en braaivleis.
8 kankerwekkers in jou huis en tuin
- talkpoeiers wat nie as asbesvry geëtiketteer is nie
- benzene, ’n droogskoonmaakmiddel waarmee ons vetkolle uithaal
- pentachlorophenol of PCP in baie tuingifstowwe, ontsmetmiddels en houtpreserveermiddels
- steenkool, soos wanneer dit gebrand word, ook roet. (Moontlik ook blitsvuuraanstekers.)
- 4-aminobiphenyl in sekere haarkleurmiddels (vermoedelik eerder ’n probleem vir mense wat in haarsalonne werk)
- arsenic (in sommige soorte rotgif, houtpreserveermiddels en tuingifstowwe)
- orthotoluidine (in sommige tuingifstowwe)
- vinyl chloride (gebruik in vervaardiging van PVC-plastiek met die kenmerkende reuk van nuwe motors, stortgordyne, matte en plastiektafeldoeke)
7 kankerwekkers wat met jou leefstylkeuse te doen het
- uitlaatgasse van motorenjins, wat jy inasem as jy met spitstyd langs die groot paaie draf of fietsry
- UVA, UVB en UVC in sonlig, as jy heeldag in die son werk, ook as jy graag sonbrand of op ’n jong ouderdom erg sonverbrand
- sonbeddens – alle soorte
- sigaretrook
- e-sigarette
- tweedehandse rook (jy is in kontak met rook deurdat jy die lug inasem waar gerook word)
- derdehandse rook (meubels, gordyne en beddegoed absorbeer die kankerwekkers in rook, en dien as bron daarvan vir nie-rokers en rokers)
17 kankerwekkers weens jou werkplek en stokperdjies
- leerstof (mense wat in leerfabrieke werk)
- houtstof (mense wat in houtfabrieke werk)
- verf (vir verwers)
- sweiswerk (vir sweisers)
- aluminium (in aluminiumfabrieke)
- asbes (met produksie en in asbesmyne)
- benzene, as jy in ’n droogskoonmakery werk
- nickel (in fabrieke en in talle batterye)
- rubbervervaardiging (kontak met 4-aminobiphenyl)
- auramine (kleurstof wat in laboratoriums gebruik word)
- magenta kleurstof in verf
- polybiphenyl (wyd gebruik in plastiek, verf, sement, seelmiddels, gom, waterdigting)
- coal tar (teer vir teerpaaie)
- formaldehyde (jy ken dit as formalien; dit word in harsplastiek (resin), vir ontwikkeling van foto’s en in sterk ontsmetmiddels gebruik. Taksidermiste gebruik ook formalien.)
- dioxin, pentachlorodbenzofuran (gebruik in fabrieke om papier en ander stowwe wit te bleik)
- MOCA (4-4-methylenebis) gebruik om polyurthane (spons vir matrasse) te maak.
- etylene oxide (meestal in fabrieke gebruik vir die maak van parfuum, grimering, verfverdunners, plastiseerders, remvloeistof, oplosmiddels, sepe, verf en lakverf)
10 kankerwekkers weens kieme en mediese behandeling
- cyclosporin (kom voor in sommige oogdruppels, word gebruik vir behandeling van rumatoïede artritis, Crohnsiekte en psoriase)
- bestraling in alle vorms – X-strale, kernstrale, gamma-strale en so meer
- aristolochic acid en plante in die Astrolichia- en Asarum-families, wat dikwels in Chinese genesende kruie ingesluit word.
- die Pil en hormoonvervanging met die menopouse, met estrogeen en progesteroon
- phenacetin (’n middel wat pyn en koors verlig; dit word nie meer algemeen gebruik nie)
- methoxsalen (’n middel wat soms gebruik word vir ekseem en vitiligo)
- Shistosoma-organisme (wat bilharzia veroorsaak en voorkom in die riviere van Natal en die Oos-Kaapse kus)
- Hepatitis B en C (geelsug wat deur ’n kiem veroorsaak word. Dit het niks met die soort geelsug te doen wat dikwels by pasgebore babas voorkom nie. Hepatitis B word met besmette kos en water versprei, terwyl C seksueel oorgedra word.)
- HPV, of die human papilloma virus, ’n seksueelgedraagde organisme
- Helicobacter pylorii (wat in die maag kan voorkom)
Kyk so of iets wat jou bekommer ’n kankerwekker is
Is jy bekommerd oor die lys van chemikalieë in enige produk wat jy gebruik? Moet jou nie net bekommer nie; klik hier om te sien of enige daarvan gelys is.
Lees ook: 14 redes hoekom jy sleg slaap en wat jy daaraan kan doen