Swangerskap stres en jou werk deur Salomé Delport
Toe stres in 1956 die eerste keer deur die Kanadees dr. Hans Selye gekonseptualiseer is, was ons skepties. Vandag glo ons stres raak ons héle lewe. Selfs in utero, want jou baba ervaar jou stres so werklik soos jy.
Daar is iets soos goeie stres, selfs vir babas. Maar wanneer stres jy te veel vir jou baba?
Toe die huidige geslag nuwe ma’s se ma’s met hulle swanger was, was die wyse raad aan swanger vroue om gesond te eet, folaat te neem, genoeg te slaap, klassieke musiek te luister, liefdevolle gedagtes oor jou baba te koester … en elke aand ’n glasie wyn saam met jou man te geniet.
’n Glasie wyn? Sowaar! Die idee was dat die nuwe ma en pa saam sal ontspan en hul verhouding bou. Ons frons nou oor die wyn, maar met die konsep van ontspanning is daar nie fout nie.
Lees ook: Dink nuut oor drank en swangerskap
En dalk is dit tyd dat ons weer hierna kyk.
Ma’s werk nou dikwels tot die kleinding se geboorte. Party spog dat hulle van die werk af reguit kraamsaal toe is. Jy is immers nie siek nie. En jy wil liewer jou kraamverlof spaar vir die kosbare weke ná die geboorte saam met die nuwe mensie en om te borsvoed. Wie kan in elk geval onbetaalde verlof bekostig?
Lees ook: Kry stres jou onder? Hier is ’n paar dinge wat werk
Maar omvattende navorsing bevestig oor en oor dat jou stres aan jou baba oorgedra word. So wys werk van prof. Catherine Monk van die Universiteit Columbia, New York, dat babas tydens swangerskap hul ma se stres registreer – selfs net ’n klein bietjie stres. Sy het swanger vroue Strooptoetsing (daardie soort toetse waar byvoorbeeld die woord “blou” in rooi geskryf is en dan moet jy die kleur van die woord aandui) laat aflê terwyl sy hul baba se hartklop gemonitor het. Op net vier maande het die babas se hartklop versnel as die toets vir die ma stresvol was. Die afleiding? Selfs ongebore babas ervaar stres in ooreenstemming met jou stres.
Dit is eintlik ’n baie elegante stelsel, sê prof. Monk. “Jy kommunikeer aan jou baba wat om van die wêreld te verwag sodat hy vooraf kan aanpas en daarvoor gereed is.”
Stres dien dus ’n baie positiewe doel. Die probleem kom in by te véél stres.
Lees ook: Sit stres op sy plek
Sy het ook die babas vier maande ná geboorte geëvalueer. Dié wie se hartjie voor geboorte die vinnigste geklop het wanneer hul ma’s onder stres was, was ook meer reaktiewe babas, met ander woorde “moeiliker” babas, en wat as volwassenes waarskynlik makliker stres sal ervaar, gouer ontsteld en kwaad sal word en minder selfbeheer sal hê. Jou stresvlakke kan dus jou baba se masjinerie om stres te kan hanteer al voor geboorte begin vorm.
Mandy Rodrigues, sielkundige by Medfem Fertiliteitskliniek in Johannesburg, waar sy in die emosionele kant van swangerskap spesialiseer, verduidelik dat stres jou noradrenalien- en kortisol-vlakke verhoog, wat beslis jou baba se ontwikkeling beïnvloed.
“Maar dit is eerder ’n skakel as ’n kwessie van oorsaak en direkte gevolg. Dit beteken nie álle babas wie se ma tot met die geboorte gewerk het, gaan vir seker hiperaktiewe, rebelse, moeilike kinders en tieners wees nie. Die omgewing waarin jou kind grootword, het net so ’n belangrike – en waarskynlik groter – invloed op jou kind se latere stresvatbaarheid. ’n Liefdevolle, ondersteunende omgewing tel baie meer.”
Lees ook: Nageboortelike depressie – een leser vertel
Jy is nie alleen nie
Sommige navorsers glo daar is genoeg rede om swangerskapstres as ’n unieke stres te definieer. Hulle gee dit selfs ’n naam: ADNOS. Al stem min navorsers met onderskeid saam, glo die meeste dat die vroue wat baie stres gedurende hul swangerskap ervaar ook baie meer geneig is tot angstigheid en nageboortedepressie.
Stres weens swangerskap is nie seldsaam nie. Ondersoeke hieroor wys 15% – 25% van swanger vroue ervaar swangerskap-stres. As dit jóú vang, is jy nie alleen nie.
Daarom monitor verskeie nasionale gesondheidsdienste, soos die Britse NHS, nou hul swanger pasiënte vir tekens van stres.
Maar moenie stres oor swangerskapstres nie, sê Mandy. “Die beste wat jy vir jou én jou baba kan doen, is om jou eie stres te hanteer. Erken dit vir wat dit is en kyk wat jy daaraan kan doen.”
Lees ook: Stres en uitbranding
Wat doen jy nou?
Moet jy liewer bedank?
“Dit verskil van vrou tot vrou. Maar dit is nie noodwendig die regte keuse nie. Wat help dit jy bedank en sit tuis en stres oor die verlies aan inkomste, of jy het nou meer tyd om jou te bekommer?
Elke vrou se persoonlikheid, stresvatbaarheid en die stres van haar beroep bepaal of haar werk die bron van haar stres is.
“Ek dink dit is beter om te begin met ’n lys van alles waaroor jy bekommerd is. Ek glo ook jy móét stres oor die regte goed – werklike, realistiese risiko’s waaroor enige nugterdenkende mens ook bekommerd sou wees, teenoor vae moontlikhede.
Lees ook: Is ek swanger? 6 tekens wat daarop dui
Ek sê vir my pasiënte om die items op hul lys in hierdie twee groepe te deel.
“Ek verdeel stres in vier kategorieë:
- stres wat veroorsaak word deur te min tyd.
- stres weens te min geld en ondersteuning.
- stres omdat jy (of iemand anders) perfeksionisties is.
- stres omdat jy ander se sienings persoonlik opneem en nie jou eie menings vorm waarop jy jou keuse grond nie.
“Die tweede stap is om jou stressors in die regte kategorie te plaas – en dan hanteer jy die werklike probleem so goed as wat jy kan.
“Dalk is perfeksionisme jou probleem, veel eerder as jou werk. Sodra jy dit besef, voel jy al klaar beter. Dan kan jy begin om jouself krediet te gee vir wat jy reg doen, eerder as om jouself te kritiseer gemeet aan een of ander standaard. Gestel tyd is jou stressor. Dan is werk dalk jou probleem. Watter oplossings is daar? Moet jy ophou? Wat van net minder ure werk? Of hulp kry om van jou take oor te neem?
“Daar is deesdae soveel bronne van hulp beskikbaar om jou met enige kwessie of bekommernis – van borsvoeding tot erflike toestande – te help en jou met kennis en wenke te bemagtig.”
Lees ook: 10 wenke teen stres wat werk
Hoe skakel jy af?
Buiten die praktiese hantering van jou stressors moet elke vrou – swanger of nie – vroeër eerder as later vasstel wat haar laat ontspan en vir haar ’n paar ontspanningskunsies uitkies. Dalk het jy reeds iets wat vir jou werk, of kyk na die ou staatmakers:
- ’n Tydjie in die son.
- Oefening in enige vorm.
- Rustige musiek.
- Massering.
- ’n Heerlike bad.
- Tyd vir jou gunsteling-tydverdryf – lees, in die winkels rondloop, tuinmaak.
- Kamilletee – veral as jy dit ’n ritueel maak.
- Dalk rescue remedy – in pilvorm aangesien die druppels alkohol bevat.
Lees ook: 7 maniere om werklik te ontspan
Toets jouself
Is jy meer as normaal gestres? Wát is normaal?
Vir ons is ’n gejaag en bedrywig wees immers die norm. Mandy het ’n aanlynvraelys ontwikkel waar jy jou stresvlak kan evalueer (kyk op www.tups.co). Of kyk na hierdie tipiese vrae. Hoe meer ja’s hoe waarskynliker dra jy swaar aan swangerskapstres. Vra jou ook af hoe intens jy enige van die situasies ervaar. Jy antwoord dalk op net een ja, maar as dit alleroorweldigend voel, is jy ook onder swangerskapstres.
Lees ook: 6 denkpatrone waarna jy moet kyk om minder te stres
Emosionele swangerskapstres
- Jy voel alles moet perfek wees – van die babakamer tot jy as ma.
- Jy is ontsettend bang jy gaan ’n swak ma wees wat alles verkeerd doen.
- Jy voel oormatig verantwoordelik vir alles wat met die baba te doen het.
- Jy het nie hulp nie, of kan nie hulp vra nie en voel oorweldig deur al die take en werk wat wag.
- Jy voel skuldig teenoor jou baba, al is hy nog nie eens gebore nie.
- Jy voel asof jy jou baba op een of ander manier skade doen, of nie genoeg doen om ’n goeie swangerskap te verseker nie.
- Jy voel asof jy nie finansieel vir die baba kan sorg nie.
- Jy voel oorweldig deur jou werklas.
- Jy ontstel jou uitermatig oor enige opmerkings, kommentaar of raad van ander mense.
- Jy is gejaagd; dit voel asof jy nie by alles uitkom nie, asof mense te veel van jou verwag.
- Jy versorg jou nie.
- Dinge wat jy altyd kon hanteer, maak jou nou paniekerig.
- Jy is rusteloos.
- Jy is beangs oor die bevalling – oor pyn, oor ’n keisersnit, oor borsvoeding, dat jy die baba gaan laat val, en oor nog duisend ander dinge wat kan skeefloop.
- Jy is bekommerd oor jou baba – dat hy gestrem, met ’n gebrek of doodgebore sal word.
Lees ook: Swanger bo 40 – wat elke ma moet weet
Fisieke swangerskapstres
Stres as psigo-neurologiese verskynsel veroorsaak fisieke simptome. Jou dokter sal jou hiervoor monitor en aanbeveel of jy moet bly werk of nie.
- Slaapprobleme, soos om kort-kort wakker te word.
- Aanhoudende blaasinfeksies.
- Aanhoudende Candida.
- Koorsblare.
- Algehele moegheid.
- Depressie, en/of gevoelens van oorweldig wees en hulpeloosheid.
- Angs, ’n gevoel dat jy nie in beheer is nie, of dat iets vreesliks gaan gebeur.
Lees ook: 5 maniere om depressie te bekamp