Gebore uit pyn: Kristina Stojiljkovic deur Mariette Snyman. Foto’s verskaf.
Hierdie artikel sluit aan by die artikel “Gebore uit pyn” in die Oktober 2019-uitgawe van rooi rose.
Waar het jy grootgeword?
My gesin kom van Serwië. Ek was 14 toe ons weg is, kort voor die oorlog in 1990 in Joego-Slawië uitgebreek het . Ek was in elf skole en het in verskeie lande gewoon voor ek my loopbaan as fotograaf in Kaapstad begin het. Omdat ons so dikwels verhuis het, was foto’s die enigste skat wat ek kon saamneem. Ek het al op 16 begin foto’s neem.
Vertel van jou man, Alistair.
Hy is Skots en hy het ’n stout streep! Ek het hom ontmoet toe ek ouer was, en ons is getroud toe ek 41 was. Ek het gedink die huwelik sou die einde van my sigeunerleefstyl en vryheid beteken, maar Alistair is altyd gereed vir die volgende avontuur.
Was jy nog altyd ’n aktiewe mens?
In my geboorteland was sport baie belangrik, veral as teenvoeter vir die politiek. My gesin het deurentyd my aktiewe gees gesteun. Ek het deelgeneem aan Europese handball, atletiek, dans, bergklim, die Oosterse gevegkuns, marathonne, swem – allerhande sportsoorte. Maar die Cape Argus sal ’n eerste wees.
En jou heupvervanging?
Ek was gewoond aan ligte beserings, maar vanaf 30 het ek moeilik herstel. Ek het talle terapeute gaan sien. Na ons dogtertjie se geboorte toe ek 42 was, was dit erger. X-strale het uiteindelik gewys ek het 0 mm kraakbeen in my linkerheup en 1.4 mm regs. Normaalweg het ons sowat 6 mm. Die oorsaak was heupdisplasie, waarmee ek glo gebore is.
Ek het verskeie modaliteite wat rug-, heup- en beenpyn kan verlig, uitprobeer. Ek glo aan ’n gesonde gees, gesonde leefstyl, gesonde liggaam, liggaamsbalans en natuurlike genesing. Maar nou was dit tyd vir die moderne medisyne en tegnologie. Ek wou weer aktief wees en dit sou ’n dubbele heupvervanging en maande se herstel verg.
Toe ek eers die besluit geneem het, het ek ook besluit om my spesialis volkome te vertrou. Ons was deeglik voorberei op die prosedure, en het veranderinge aan ons huis aangebring sodat ek maande lank op ’n loopraam en krukke veilig daar kon beweeg.
Niemand kan jou egter op die sielkundige effek van so ’n operasie voorberei nie. Die groot ingreep en die medikasie lei tot liggaamlike en geestelike wanbalanse, wat depressie insluit. Ek het baie bang en hulpeloos gevoel. Agt dae lank moes vreemdelinge my help stort, toilet toe gaan, aantrek, ensovoorts – en toe kom ek tuis. Ek kon net mooi niks vir my babadogtertjie, Franki Rae, doen nie en Alistair moes my met alles help.
Ek het oud en nutteloos gevoel. Die pyn was konstant, en ek kon aanvanklik nie my bene voel nie. Dit was asof ek in iemand anders se lyf was. Ek was doodbang ek sou nooit weer kon loop of werk of my normale verhouding met my man en dogtertjie hervat nie. Ek was ook kwaad vir myself omdat ek die vrese, slaaplose nagte en lang, eensame dae vatplek gegee het.
Alistair moes omtrent ’n maand lank ten volle na my en Franki Rae omsien en boonop die huishouding behartig. Hy is ’n ongelooflike pa.
Ek het van die loopraam na twee krukke gevorder, en later kon ek sonder krukke loop en ’n outomatiese kar bestuur! Ek het egter innerlik begin genees voor dit uiterlik sigbaar was. Eintlik is pre-visualisation op baie vlakke deel van my lewe. Ek het my doelbewus verbeel ek kon weer pynvry loop, speel, hardloop en spring. Ek het my voorgestel hoe ek en my man avonture beleef wanneer ons eendag oud is.
Voor die operasie het ek spesiaal ’n tattoe gekry, ’n visual reminder van ons gesin as ’n eenheid. Dit het my dikwels krag gegee.
Vertel van jou vrywilligersprojek, Love & Rockets.
Ek het jare lank vrywilligerswerk in Khayelitsha en Woodstock gedoen. Toe trek ons na Kommetjie, en ek hoor van Qhubeka. Hulle samel geld in om fietse aan vroue en kinders in ons gemeenskap te skenk wat sukkel om by die werk of die skool te kom. Omdat ek na die operasie lae impakoefening moes doen, sou fietsry perfek wees, en terselfdertyd kon ek vir hulle geld insamel. Ek wou graag my negatiewe ervarings in iets positiefs omskep.
Om drie maande lank nie te kon loop nie, het my beenspiere agteruit laat gaan. Ek kon byvoorbeeld nie op een been balanseer of my bene na die kant beweeg nie. Met konstante oefening het dit verbeter. Dit was ’n baie lang reis tot waar ek weer op ’n regte fiets kon balanseer. Mettertyd het ek van ons buurt na verder dele van die stad begin ry. Ek het baie geval – maar soos my dogtertjie, staan ek elke keer weer op!
Ek wou aanvanklik die 2019 Argus ry, maar my linkerheup herstel nog. Ek moet nog heelwat vermag voor die wedren in Maart 2020, maar ek is vasberade om dit te doen. Op die eerste September hierdie jaar – twee jaar na die operasie – ry ek my eerste wedren!
Terwyl ek my slegte ervaring in iets beters omskep, wil ek ander help om ook meer beweeglik te kan wees. En ek wil ons dogtertjie inspireer deur die manier waarop ek my lewe lei.
Meer inligting oor Love & Rockets by Love&Rockets op FB en www.givengain.com
Vir nog inspirerende stories, loer hier