Magspel en gesinsrolle in Succession deur Margaret Gardiner. Hooffoto: Margaret Gardiner
Die idee agter die reeks: Succession
Jou geboorteplek in die gesin is ’n ongeluk, maar binne die gesin of familie ontwikkel daar rolle wat per konsensus gebeur, wat nie noodwendig die rol is wat die familielede self sou wou inneem nie, of hoe hulle hulself graag sou wou sien nie.
Hierdie is ten dele die storie van Succession, ’n reeks op HBO, wat ten spyte van jouself ’n greep op jou begin kry. Toe ek dus die geleentheid kry om die stel daarvan vir die tweede seisoen te besoek, het ek New York-toe gevlieg om die familiedinamiek in lewende lywe te gaan besigtig.
Die stel en dit wat ek persoonlik ervaar het
Die publiek verstaan nie altyd die streng geheimhouding wat deesdae met die produksie van flieks en televisiereekse gepaard gaan om seker te maak dat niks uitlek wat die reeks of fliek kan benadeel of selfs kelder nie.
Om seker te maak dat niks uitgelap word nie, moes ek ‘n onderneming dat ek niks sou bekendmaak nie (NDA) onderteken dat ek tot 24 Julie glad nie eers sou noem waar ek was, enige foto’s sou aflaai of op enige ander manier laat bekend word wat gebeur het tydens my besoek op stel van Succession (Seisoen 2) nie.
Ek het myself op ‘n luukse eiendom in die staat New York ‘n paar uur vanaf Manhattan bevind. Om dit ‘n mansion te noem sou ‘n understatement wees. Dit is een van daardie uitgestrekte ou huise op die water met eindelose vertrekke wat ons met ‘ou geld’ vereenselwig – daar is sprake dat dit in die mark sou wees vir $80 miljoen, maar niemand wou dit beaam nie. Die eiendomme wat vir die skiet van Succession gebruik word, is tipies van die bevoorregte stand – ’n woonstel wat veronderstel is om aan ‘n hoofrolspeler te behoort is in die mark vir $23 miljoen – niemand hou daarvan nie, maar dis maar waarvoor eiendomme in Manhattan gewaardeer word.
In die herehuis wat ons besoek het, waar die meerderheid van die tonele vir Seisoen 2 geskiet is, is alles met houtpaneelwerk bedek en oral is yslike kristalkandelare, massiewe tapisserieë en handgeweefde matte uit die Ooste.
Sommige vertrekke en afwerkings het beslis gelyk of hulle herstelwerk nodig het, of dalk was dit bedoel om so te wees vir stelbekleding – dis moeilik om te sê.
Ek sou bitter graag foto’s wou deel, maar ons is nie toegelaat om iets af te neem nie, wat ek nogal dink ’n mors van tyd is. Soms kan ’n foto ’n duisend woorde werd wees. Ons toer deur die hele plek en hoor die geskiedenis daaragter, maar as ek dit met niemand mag deel nie, wie gee om? Dis eerlikwaar my vraag. Dis moeilik om oor ’n stelbesoek te praat as jy niks mag wys nie.
Die eerste seisoen van Succession dek die oordrag van ’n ondernemimg wat bedoel is om na die oudste seun te gaan, maar die sibbe en ’n nuwe neef is magsbehep en alhoewel hulle voorgee om inskiklik te wees, het elkeen ’n belang by die uiteindelike keuse van wie die leiding gaan neem. Die pa, hoewel hy sy aftrede in werking begin stel, mag dalk ander planne hê.
Daar is intrige en rugstekery en ’n wrede pa-figuur wat met mag heers en woorde soos wapens opneem. Brian Cox verbeeld hierdie karakter op ’n wyse wat aanstootlik is en tog fassineer. Hy lewer voortreflike werk, veral wanneer hy log by die tent wat onder die bome opgeslaan is (waar ek met die rolspelers onderhoude voer) ingerol kom, by die tafel gaan sit en begin gesels, en jy begin agterkom hy is eintlik ’n warm, aangename mens. Jy raak verlief op die akteur – die mens, nie die karakter nie – wat heerlike staaltjies vertel met ’n Britse sin vir humor.
Kieran Culkin (Home Alone se McCauley se broer) is die ander groot naam in die rolverdeling. Hy speel die rol van die seun wat nie sy eie lewe kan beheers nie, en wat glad nie in beheer van enige iets ander behoort gestel te word nie, wat soos ’n kefferige brakkie onder almal se voete rond is en almal pla.
Ons bespreek sy rol, en dis so interessant wat partykeer uitkom as jy met mense gesels. Omdat dit ‘n familiedrama is – al is dit ‘n disfunksionele familie – laat glip Kieran persoonlike inligting oor sy eie familie. Hy’s baie snaaks en jy kry die gevoel dat hy dinge met jou deel omdat hy jou wil laat lag.
Seisoen 2 handel op sy beurt oor gedoentes met ’n ander konglomeraat – om te koop of om verkoop te word – terwyl die familie bymekaar is om hulself uitmekaar te skeur met sentrale en ander ondergeskikte intriges.
Die onderhoud
Hier is ’n kort onderhoud met Kieran. Ek hoop jy geniet dit. Ek het hom ervaar as oop en slim en net ‘n bietjie weerloos.
In Succession voel die gehoor dikwels asof Roman die jongste lid van die gesin is, alhoewel jy nie is nie?
Ja. ’n Hele klomp lede van die geselskap het aanhou sê ek is die jongste, terwyl Roman nie is nie, hy het bloot die rol van die baba van die familie aangeneem.
In my gesin, alhoewel ek tegnies die middelkind is van sewe, is my broer Chris – ek is seker hy sou nie daarvan hou as ek dit sê nie – eintlik die middelkind. Hy is die sesde van sewe. Ek is nommer vier. Maar hy het net soort van rol van middelkind op hom geneem.
My broer Mac is die derde een, en hy het weer die rol van oudste begin speel. Sulke dinge gebeur mos maar in gesinne.
Is daar dan enige voordele daaraan om die middelkind te wees?
Ek sal nie weet nie, jy sal vir Chris moet vra (lag).
Wat eintlik so koel daaromtrent is, is om twee ouer broers en ’n ouer suster te hê en dan boonop ’n jonger suster en twee jonger broers. Ek kon dus sien dat daar hierdie rol is vir iemand wat soort van geboelie word van bo af en dan weer self boelie na ondertoe.
Toe ek klein was sou my broer Shane byvoorbeeld inhardloop en my ’n woeste hou op my arm gee en as ek verstom vra hoekom, sou hy net sê “Jy gaan so goed slaap. Jy gaan so goed slaap”. En hy was reg!
So, ek onthou dat ek dit toe jare later aangestuur het. Onthou my broer Chris was nege, so later het ek net op my beurt die deur oopgestamp, in die kamer gestorm en met “Jy gaan so goed slaap, weet jy”, dit aangegee ondertoe.
Familiedinamiek
Dis interessant hoe terloops hy dit laat val. Ek dink nie dat my gesin buitengewoon was nie, maar daardie soort ding sou nie sommer gebeur het nie, en ek dink ook nie dit sou sommer in die meeste Suid-Afrikaanse gesinne gebeur het nie. Dit klink so half wild, soos welpies wat met mekaar stoei in die natuur wat soort van aanvaarbare gedrag is in Amerika. Sibbe, vriende, skoolmaats … Dit word deur die ouers gesien as ’n soort voorbereiding vir die lewe, dink ek. Ek weet nie.
Ek is die jongste in my gesin. Ek vertel weer die storie van een dag toe ek by die skool gekom het waar twee ouer sibbe reeds hul vriendskappe gevestig het. Iets het met my gebeur en ek het daaroor gehuil. Niks groots nie, dit was baie gou oor, maar ek was baie blond met met ’n baie wit vel en as ek gehuil het, het my gesig rooi geword en opgeswel – dit gebeur vandag nog, die rooiheid bly – my gesig swel soort van op asof al die water in die wêreld onder my vel ophoop. So toe ek weer op die speelgrond is, het my susters dit te hore gekom en hulle en al hul maats het na my gestorm om my te beskerm – selfs al was dit nie nodig nie. Dit is die soort familiewaardes waarmee ek grootgeword het. Tot vandag toe, al het ek baie vroeg die huis verlaat, as ek by my susters is, bevind ek my in die rol van die jongste.
Dis ’n vreemde aanpassing om so gesien te word, as iemand wat minder bekwaam is, iemand vir wie gesê word wat om te doen. Dis iets onbewusteliks wat daar uitspeel. Elkeen het sy rol. In Succession is die rolle omvergegooi omdat almal die mag en beheer wil oorneem en enige iets sal doen om dit te verkry.
Dis ’n interessante gedagte. As jy beskerm word en voorgesê word kan dit so gemaklik wees as jy dit nodig het – iemand om op staat te maak, iemand wat kan help.
Die teendeel is egter dat niemand daarvan hou om voorgesê te word nie, want ander het ’n ander agenda en mag dalk ’n wanvoorstelling maak van jou behoeftes. Daar is hulp nodig hê, en dan is daar die mag wat opgesluit is daarin om te help.
Familiedinamika en komplekse verhoudings kom uit in Succession met skaars bedekte glimlagte en knersende tande. Sappige materiaal.
So al kan ek nie werklik daarmee identifiseer om op mense te trap om my doel te bereik of my sin te kry nie, skakel ek in op hierdie reeks om meegesleur te word met die dodelike manipulasies van die magtiges.
Volg gerus Margaret se blog vir rooi rose waar sy ons vertel oor haar interessante en besige lewe. Jy kan haar ook volg op Instagram, facebook, twitter en haar YouTube-kanaal waar sy met bekendes gesels – dis alles gratis om haar te volg.