Nicole Kidman: Haar manier deur Margaret Gardiner. Vertaal deur Hannelie Diedericks. Hooffoto: Magnus Sundholm vir die HFPA.
Jou karakter in die fliek Destroyer is heeltemal anders as die karakters wat jy voorheen gespeel het. Jy is byna onherkenbaar. Was dit moeilik om die karakter af te skud wanneer jy saans huis toe gaan?
Ja, dit was heeltemal anders as enigiets wat ek tevore gedoen het. Vier weke voor ek met die fliek begin het, het ons klaar geskiet aan Boy Erased, waarin ek ’n heel ander soort ma gespeel het. Dit is ’n ongelooflike geskenk vir ’n akteur om twee karakters te speel wat op soortgelyke paaie is, maar heeltemal verskillend optree. Dit is ’n geleentheid wat net een keer in ’n akteur se lewe opduik. My rol in Destroyer was intens. Ek is in elke toneel in die fliek, en in sommige tonele sê my gesigsuitdrukking en my oë alles. Dit was uitmergelend. Ek moes haar huis toe neem, maar gelukkig is my man baie ondersteunend en hy verstaan die kunstenaar se proses. My kinders was nogal geskok om my so te sien, maar noudat hulle ’n bietjie ouer is (7 en 10) begin hulle verstaan dat dit deel van my werk is. Hulle vra my uit en ek probeer hul vrae beantwoord. Gelukkig het hulle ryk verbeeldings. Verbeelding en die kunste kan in ons huis gedy, en dis ’n groot voorreg. Maar ek was bly toe die fliek verby was. As ek voor die tyd geweet het waarvoor ek my inlaat, sou ek dalk twee keer gedink het.
Gaan julle kinders in jou of Keith se voetspore volg?
Ek kan nie ophou kyk na wat my kinders doen nie. Ek dink hulle is uitsonderlik talentvol (lag)! Keith pas vandag kinders op, en ek vlieg vanaand Nashville toe, want hy word môreaand benoem as die Kunstenaar van die Jaar by die Country Music Association Awards, so dan is dit weer my beurt om hom te ondersteun. Hy het vanoggend vir my ’n video gestuur waar Faith viool speel. Ek dink ek het twintig keer daarna gekyk (lag)! Hulle weet nog nie regtig wat hulle wil doen nie, maar hulle ontdek elke dag nuwe dinge. Hulle is albei lief vir diere, maar ek dink in hierdie stadium verander hul belangstellings elke dag.
Het julle troeteldiere?
Ons het twee katte. Vandat ek op Instagram is, is ek daardie vrou wat heeltyd foto’s van my katte op Instagram sit. Dis wat ek geword het (lag)! Hulle is sussies van dieselfde werpsel, Ginger en Snow. My kinders het hulle aangeneem as hul kinders, en ek is die ouma (lag).
Was die besluit om by Instagram aan te sluit vanweë druk van jou kinders of die bedryf?
Ek wou iets doen wat my deel maak van die sosiale kultuur en wat ek kon beheer. Ek doen dit nie gereeld nie, net so nou en dan. Dis ’n direkte manier om met mense te kommunikeer, en jy kan besluit wat jy van jouself daar buite sit. Ek hou daarvan. Maar ek doen dit self, ek het nie ’n assistent of iemand wat dit vir my doen nie, daarom is dit meestal foto’s van my katte – wat ek dink oulik is, maar dalk nie vir ander mense interessant sal wees nie.
In al drie flieks waarin jy nou verskyn, speel jy ’n ma. Het moederskap jou gehelp om die ma’s op die silwerdoek te skep?
Vir seker. Dis op die oomblik my grootste inspirasie, en die drie karakters in die flieks verskil heeltemal. In Aquaman speel ek die ma van ’n superheld en dis pure fantasie en pret. Martha van Boy Erased is ’n regte mens, en al probeer die twee karakters van Boy Erased en Destroyer vergoed vir foute in hul verlede, is hulle heeltemal verskillend. Moederskap gee ’n mens ’n onuitputlike bron van emosie. Ouerskap kan jou oorweldig, en dit is ’n skrikwekkende gedagte dat jy dalk nie daar sal wees vir jou kind wanneer hy jou nodig het nie. Maar die liefde en geluk, wat die teenpool hiervan is, is net so intens. Ek voel altyd of ek nie die karakter speel nie, maar asof ek net die voertuig is waardeur die karakter die stories vertel. Ek is eintlik skaam en sku.
Het jy al probeer om enige gebeure in jou lewe uit te vee?
Ja, ek het al probeer om sekere gebeure in my lewe te vergeet, of my persepsie daarvan te verander. My pa se dood was vir my ’n geweldige skok. My hele lewe het skielik onseker gevoel omdat iemand so skielik daaruit geruk is. Ek het dit nie uitgevee nie, maar dit het tyd geverg om daardeur te werk omdat ek so getraumatiseer was deur die manier waarop dit gebeur het. Ek moes myself desensitiseer. En omdat ek reeds drie of vier keer deur soortgelyke ervarings in my lewe is, het dit skielik gevoel asof alles in my lewe binne sekondes van my weggeneem kon word, en dit was ’n skrikwekkende gedagte. Dis ’n proses waardeur ek moes werk.
‘Daar was tye toe ek gedink het ek sal nie deur ’n moeilike tydperk kon kom nie. Maar elke keer wanneer ek op my knieë gegaan het, het ek die daardie krag van iewers af gekry’
Jy werk nou al veertig jaar in die vermaaklikheidsbedryf. Hoe kry jy dit reg, en word dit enigsins makliker?
Ek dink my passie vir my werk is die vernaamste rede waarom ek steeds doen wat ek doen. Ek het nie altyd die vervullende, uitdagende rolle gekry wat ek vandag kry nie, en soms moes ek maar net een voet voor die ander sit en vasbyt met wat vir my gegee is om te doen. Ek sê altyd vir jong akteurs dat enige rol ’n geskenk is. Al is dit nie ’n groot rol nie, doen jou bes, want jy weet nooit waarheen dit jou kan neem, of wie dit gaan sien nie. Ek sou op 14 nie kon glo dat ek op 51 steeds so passievol oor my werk sou wees nie. Ek is gebore om ’n akteur te wees, en ek wou nog nooit iets anders doen nie.
Hoe sterk is jy?
Ek hoop ek sal sterk genoeg wees om my geliefdes in ’n lewensgevaarlike situasie te kan help. Ek hoop my basiese instinkte sal inskop en werk. Ek dink ek is sterker as wat ek dink ek is. Ek glo nie my fisieke krag is iets om oor opgewonde te raak nie, maar emosioneel het ek deur die jare sterker geword. Dit was nie daar toe ek ’n kind was nie. Daar was tye toe ek gedink het ek sal nie deur ’n moeilike tydperk kon kom nie. Maar elke keer wanneer ek op my knieë gegaan het, het ek die daardie krag van iewers af gekry.
Moes jy al ooit vir iets geveg het?
Ja, my identiteit. Ek het die afgelope klompie jare meer selfvertroue gekry, en ek is nou seker van wie en wat ek is, waarvoor ek staan, en waarin ek glo. Dit was nie altyd so nie. Dié sekerheid stel my in staat om besluite te neem oor wat ek wil doen, en om my mening te lug. Ek voel ek is nou op ’n plek waar ek ’n verskil in mense se lewe kan maak. Ek glo aan flieks soos Boy Erased, en om so ’n boodskap na die wêreld uit te dra beteken vir my baie.
Jy het eenkeer gesê jy beskou jou nie as ’n ster of ’n glanspersoonlikheid soos Beyoncé nie, en dat jy net ’n akteur is. Voel jy steeds so?
Ja, vir seker. Ek bedoel Beyoncé is dié koningin (lag). Ek is nie so beroemd nie. En ek sien my net as ’n akteur. Ek moes op verskillende tye in my lewe baie aandag van die media hanteer, maar ons bly om ’n rede in Nashville. Dis stil, en ons het net ’n normale lewe daar. Ons werk hard daarvoor en beskerm ons privaatheid. Dis dalk hoekom ek nie so bewus is van die glans en die roem nie. Ek doen my werk vir ’n tydperk en dan laat ek dit weer agter en gaan aan met my gewone lewe. Ek sê ek is ’n akteur, want dis my werk. Ek is professioneel, ek daag betyds op op stel en ken my woorde. Dis al. Dis iets wat ek by Meryl Streep geleer het. Wanneer sy op stel opdaag, is daar is geen klokke wat lui of spesiale behandeling nie. Sy is net daar om haar werk te doen.
Gepraat van Meryl Streep, wat kan jy ons vertel van die tweede seisoen van Big Little Lies?
Ek hoop dis goed. Ons was onder baie druk omdat die eerste seisoen so goed gedoen het. Meryl het ingestem om in die tweede seisoen te verskyn nog voor sy die draaiboek gelees het, wat verstommend is. Sy het dit gedoen om my en Reese en vroue in die bedryf te ondersteun. Dit is ongelooflik. Maar ons was verskrik, want ons het gevoel ons beter vir haar ’n uitstekende karakter gee om te speel (lag)! Die regisseur Stanley Kubrick het eenkeer vir my gesê ’n mens moenie iemand wat jy bewonder op ’n troontjie sit as julle moet saamwerk nie, want dan kan julle nie kreatief saamwerk nie. As jy kreatief wil wees, moet jy bereid wees om kanse te waag en te misluk. En in elk geval dink ek nie Meryl wil op ’n voetstuk geplaas word nie. Sy daag altyd voorbereid en betyds op en is bereid om kanse te waag. En dis al wat saak maak.
Watter raad sou jy aan ’n twintigjarige Nicole wou gee oor die liefde en verhoudings?
Moenie so intens wees nie. Ek is baie sensitief en passievol, en raak halsoorkop verlief en het soms hard geval. Ek sou sê: “Bedaar en vat dit stadig. Dis oukei, alles sal uitwerk en iemand sal jou liefhê.” (Lag.)